Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, Vee en WildPublished On: 31st March 2025

O vet, hier kom ՚n ding!

By 5 min read
938 words

ovet 1

Daar is niks so lekker soos ՚n skaaptjoppie met ՚n lekker bros stukkie vet aan nie. Veral as dit ՚n skapie uit die Karoo is wat op bossies en sonder antibiotika grootgemaak is.

Maar nie almal wat aan ՚n skaaptjoppie smul wonder of die vet dalk ՚n gawe skoonheidsroompie ook kan wees nie. Dit is waar Carla Coetzee van ander mense verskil. Sy maak heilsame skoonheidsmiddels van uitgebraaide skaapvet of talg, tallow in Engels.

“Ek het in verlede jaar weer skaap – natuurlik Klein-Karoo-skaap! – gaargemaak en toe sit ek met ՚n magdom vet. Ons het toe reeds lekker gebakte aartappels en dies meer met die vet gemaak, maar toe begin ek dink aan ander gebruike vir die skaapvet …”

Carla, wat op Krugersdorp grootgeword en aan Tuks joernalistiek geswot het, woon saam met haar man Philip, haar hoërskoolliefde, en drie dogtertjies Leah (9), Katryn (6) en Ami (1) in Centurion in Pretoria. Sy is al die afgelope vyftien jaar ՚n joernalis en het al vir verskeie publikasies geskryf. Deesdae skryf sy weer voltyds vir Huisgenoot en ry drie maal per week Randburg toe waar die gesinstydskrif se kantoor is.

Carla en Philip Coetzee en hulle drie dogters Leah (9), Katryn (6) en Ami (1). (Bron: Verskaf)

De Rust

Sy het die (skaap)vleispotte van De Rust ontdek toe haar ouers, Jan en Theresa Venter, tien jaar gelede die House Martin-gastehuis op die Klein-Karoo dorpie aan die voet van die Swartberge gekoop het. Wanneer die gesin by Oupa en Ouma gaan kuier, maak hulle ook ՚n draai by Doornkraal-padstal, so halfpad tussen De Rust en Oudtshoorn.

Die Le Rouxs boer al geslagte lank op die plaas Doornkraal. Die uitgebreide gemengde boerdery, wat alles van skape en beeste, boerperde, wingerd en groentesaad insluit, word bestuur deur Celia le Roux, een van die legendariese Swepie en Ann le Roux se talentvolle dogters.

By die Doornkraal-padstal is baie van die plaasprodukte, insluitend hulle wyn en natuurlik skaapvleis te koop. En dit is hier waar Carla ook die niervet kry wat sy vir haar velsorgmiddels gebruik. “Niervet is eintlik ՚n afvalproduk van ՚n skaapboerdery,” verduidelik sy.

“Celia piep nie haar skape op nie, en kyk, ‘n mens proe dit ook in hulle vleis. Daar is soveel antioksidante in daardie bossies waarop hulle wei. Celia-hulle gee ook nie roetine-antibiotika of hormone nie.”

Ontwikkeling van die produk

“Dit was maar ‘n proses om die produkte te ontwikkel,” vertel Carla, maar teen die tyd weet ons al sy skrik vir niks, beslis nie vir navorsing op die rekenaar of voor die stoof nie. Gelukkig is sy as joernalis gewoond aan navorsing doen, en sy is ewe tuis in die kombuis en in die groentetuin.

“Dit is ՚n kuns om die vet genoeg te filtreer sodat dit nie oorweldigend soos skaap ruik nie, maar ook nie te veel dat van die vitamines en ander voordelige bestanddele verlore gaan nie,” verduidelik sy.

“Ek woeker gereeld in my tuin en in die kombuis. Dis waar ek regtig gelukkig is, veral met die kinders wat help bak en brou en dinge plant! Ons erf in Centurion is lekker groot en ons het ‘n behoorlike groentetuin en baie kruie.”
So is haar klein velsorgreeks O, VET!, gebore.

“My kombuis het in die proses baie dae na skaapvet geruik, veral wanneer ek besig is om die vet te verwerk tot talg, maar ek was mal oor die proses!”

Navorsing

“Toe ek eers begin navorsing doen, het ek besef hoe voordelig talg eintlik vir die vel is. Ek het vir myself, gesin en vriende begin lyfsalwe maak en almal was gaande daaroor”

Talg is baie dieselfde as die mens se eie sebum (of olie), wat beteken die vel kan dit maklik absorbeer. Dit dring die vel binne, plaas vog terug en laat jou vel streelsag voel.

“Vandag bestaan my reeks uit ses produkte. En nee, as jy dit gebruik sal jy nie soos ‘n skaaptjoppie ruik nie!”

Daar is twee lekkerruik lyfsalwe met vlugtige olie en nog een daarsonder wat vir ՚n sensitiewe vel geskik is. Daar is ook twee lipsalwe, asook ‘n genesende balsem wat wonderlik werk vir ekseem en klein seertjies of insekbyte.

“Ek werk aan ՚n nagroom vir droë vel wat baie opwindende bestanddele bevat, en ՚n room vir bababoudjies.”
Navorsing bevestig die voordele van talg. “Dit bevat vitamine A, D, E en K en dit help vir alles van die verjonging van die velselle, tot om die vel teen omgewingsfaktore te beskerm.

Bemarking

Omdat Carla nog voltyds werk, plaas sy tans haar produkte in winkels eerder as om direk aan klante te verkoop. “Ek hoop om later vanjaar my webtuiste so aan te pas dat mense die produkte aanlyn kan bestel, maar intussen kan hulle my kontak en direk van my af bestel.”

Sy het ook ՚n Facebook- en Instagramblad en ՚n webtuiste waar mense meer inligting kan bekom oor die voordele van talg en die reeks produkte wat beskikbaar is. Die O VET!-produkte is reeds by die Doornkraal-padstal en op hulle aanlynwinkel beskikbaar. Teen 15 Maart sal die produkte ook by ander winkels in De Rust beskikbaar wees, asook by Mary Moon en Apeiron Art/Kuns in Pretoria.

Toekomsdrome

Carla en Philip hoop om binne die volgende vier jaar De Rust toe te trek. “Ons wil baie graag rustiger leef en ons kinders eenvoudiger op die platteland grootmaak. En dan is ek nader aan die skaapvet en hoef my nie so te bekommer oor hoe ek die vet hier bo in Gauteng kry nie!”

Vir enige navrae, kontak vir Carla Coetzee by 072-112-8347, besoek die webwerf by www.ovet.co.za of besoek haar Facebookblad by O, Vet skincare of Instagramblad by 0_vet_skincare.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1