Nuwe OBP-baas beloof beter entstofproduksie
Die bedreiging wat aardverwaming en klimaatsverandering inhou word wêreldwyd aanvaar. Afrika met sy diverse klimaat en grootte is grotendeels afhanklik van die voortbestaan van veeboerdery en daar moet besondere aandag geskenk word aan die versagting van die uitwerking van klimaatsverandering op dieregesondheid.
Klimaatsverandering het ‘n direkte en indirekte uitwerking op vee. Afhangende van die intensiteit en duur, kan hittestres die vee se gesondheid direk beïnvloed omdat hulle nie behoorlik vreet of water drink nie wat daartoe lei dat die immuunstelsel verswak en die vee meer vatbaar vir siektes is wat tot vrektes kan lei.
Die diere se gesondheid kan ook beïnvloed word deur die voorkoms van siektedraende insekte (vektors) asook siektes wat nie deur vektors oorgedra word nie maar wat hoogs aanpasbaar is by klimaatsomstandighede. Vektors wat dieresiektes oordra sluit onder meer muskiete, bosluise, muggies en steekvlieë in.
Die voorkoms en uitwerking van siektes soos onder andere bek-en-klouseer, theileriose en anaplasmose, het toegeneem en voldoende hulpbronne moet voorsien word om hierdie vernietigende siektes hok te slaan. Dit sluit nie net vinnige reaksie op ‘n uitbreking in nie, maar ook die nodige voorkomende maatreëls, soos entstowwe, om die siekte en of die verspreiding daarvan te keer.
Ten einde hierdie uitdagings die hoof te bied, is dit belangrik dat gemeenskappe diereproduksiestelsels by die nuwe omgewingsfaktore aanpas, terwyl die staat en ander gesondheidsinstansies die doeltreffendheid van veeartsenykundige dienste verbeter met die doel om voorkomend teen dieresiektes op te tree deur byvoorbeeld tydige inentings.
Onderstepoort Biological Products
Onderstepoort Biological Products (OBP) het die afgelope paar jaar onder sterk kritiek deurgeloop omdat die staatsbeheerde instelling nie voldoende entstowwe lewer om dieresiektes te voorkom of te bestuur nie.
Dr Bethuel Nthangeni, OBP se nuut-aangestelde hoof uitvoerende beampte, het verlede week sy visie vir die ondersteuning van dieregesondheid in Suid-Afrika gedeel.
Hy meen in ‘n land soos Suid-Afrika wat uitgelewer is aan dieresiektes is die beskikbaarheid van entstof om ‘n uitbreking te beheer noodsaaklik. Hy se hy is gereed om die taak aan te pak en hard te werk om te verseker OBP produseer die nodige entstowwe om dieregesondheid in die land te verseker.
Volgens hom geniet die beskikbaarheid van kritieke entstof voorkeur. Hy hoop om die entstof te lewer met die instelling van ‘n sewedag-werkweek, ook met die voorsiening van entstof teen Afrika-perdesiekte. Beskikbaarheid van entstof is ‘n voortgesette taak; daar word terselfdertyd ook aandag geskenk aan OBP se finansiële stelsel ten einde ‘n skoon oudit te bekom.
Volgens hom is die grootste uitdaging entstof wat deur ander instansies beskikbaar gestel word wat nie aan die streng vereistes van die registrasieprosesse soos vereis deur Wet 36 voldoen nie.
Volgens hom is sulke produkte nie getoets om te verseker dat dit veilig en doeltreffend is nie en dat die gebruik daarvan die immuniteit van die nasionale kudde kan benadeel.
Hy het die daarstelling van kompeterende vervaardigers verwelkom solank hulle tegnologie nie op diefstal van ‘n ander maatskappy se intellektuele eiendom berus nie maar op entstof wat hulle self ontwikkel het.
Bethuel se beloftes
Hy het gesê hy voorsien dat OBP binne die volgende vyf jaar die grootste vervaardiger van doeltreffende entstof in genoegsame hoeveelhede in Afrika sal wees.
Hy sê OBP sal voorgaan om sy produksiekapasiteit en in navorsings-infrastruktuur en tegnologie te belê. Nuwe vervaardigings-toerusting wat meer entstof kan vervaardig sal teen die einde van 2024 afgelewer en vroeg volgende jaar installeer word. Dit sal daartoe lei dat meer entstof teen meer bekostigbare pryse beskikbaar sal wees.
Hy het ook aangekondig dat OBP Brucella S19-entstof (Besmetlike Misgeboorte) asook Brucella Ovis beskikbaar is.
Bronverwysings
Magiri, R., Muzandu, K., Gitau, G., Choongo, K., Iji, P. (2021). Impact of Climate Change on Animal Health, Emerging and Re-emerging Diseases in Africa. In: Oguge, N., Ayal, D., Adeleke, L., da Silva, I. (eds) African Handbook of Climate Change Adaptation. Springer, Cham.
https://doi.org/10.1007/978-3-030-45106-6_19
https://link.springer.com/referenceworkentry/10.1007/978-3-030-45106-6_19#citeas