Waarom plantvoorbereiding van kardinale belang is

tom-de-decker-_dnc3j1oVlk-unsplash
Ons bereik amptelik die tyd van die jaar wat boere hul grond gereed maak vir plant vir die opkomende seisoen. Vir optimale plantvoorbereiding word daar gefokus op twee hooffaktore, naamlik bemesting en goeie saadbedvoorbereiding, waarvan beide krities belangrik is in die praktyk.
Die voordeel van ’n korrekte bemestingsprogram
In die boerderypraktyk word dit jaar ná jaar al hoe belangriker om daarop te fokus om die regte bemestingsprogram te volg, – en soveel beter as hierdie plan bereken word volgens jou spesifieke grondbehoeftes.
Boere voel soms asof hulle ’n plafon bereik het wat opbrengste betref – om deur hierdie plafon te breek, moet daarop gefokus word om voedingstowwe akkuraat te plaas om sodoende op lang termyn die grondpotensiaal te verhoog.
Om slegs elke jaar meer te bemes is nie die oplossing nie – oorbemesting het net soveel negatiewe effekte op plantontwikkeling en opbrengste as wat onderbemesting kan hê.
Deur die korrekte berekende bemestingsprogram te volg, sal die elementverhoudings in die grond herstel en sodoende word die grondpotensiaal verhoog.
Mulder se diagram (Figuur 1) gee vir ons ’n duidelike uiteensetting van hoe belangrik elementverhoudings in die grond is. Te veel van ’n spesifieke element kan daartoe lei dat ’n ander element onderdruk word, en terselfdertyd kan ons ook sien hoe party elemente weer die beskikbaarheid van ander elemente bevorder.

Figuur 1: Mulder se diagram.
Goeie saadbedvoorbereiding
In ’n goed voorbereide saadbed is die grond:
- Poreus genoeg sodat water kan deurdring om goeie dreinering te handhaaf.
- Ferm genoeg om soveel as moontlik vog te behou vir die ontkiemingsproses.
- Gelyk genoeg om die egaligheid van optimale plantdiepte te verseker.
Sodra imbibisie plaasvind, is dit krities belangrik dat die saad nie kort daarna weer uitdroog nie. Dit sal lei tot swak opkoms en die pas ontkiemde plantjie kan maklik vroeg afsterf.
Daarom is die drie bogenoemde hoofpunte krities belangrik om genoegsame beskikbare vog vir die tydperk te verseker. Die optimale saadbed sal poreus genoeg wees om die mesokotiel (jong plantjie se stingel) in staat te stel om die plumula (jong lootjie) bo die grond uit te stoot. Terselfdertyd sal dit ook ferm genoeg wees om onnodige vogverlies te voorkom.
Goeie plantvoorbereiding is noodsaaklik. As jy net die twee basiese beginsels van ’n korrekte bemestingsprogram en goeie saadbedvoorbereidingvolg, skop jy reeds die plantseisoen op ’n goeie voet af.

’n Illustasie wat klem lê op die effek van saadbedvoorbereiding.
Vir meer inligting, kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com of besoek ons webblad by www.pioneer.com/za