Nuwe navorsing vir verhoogde mielie-opbrengste

pioneer mei 2
Nuut in terme van Pioneer se proewe
Daar word elke jaar verskillende soorte proewe in elke agent se gebied geplant, soos strookproewe, PKP-proewe (“Product Knowledge Plots”) en dan natuurlik DAT-proewe (“Digital Agronomy Trials”). Wat nuut is, is dat ons begin het om nie net plantestandvariasies te plant deur middel van voorskrifkaarte wat geskryf word nie, maar dat ons nou al twee verskillende mieliekultivars ook kan afwissel.
Die doel van DAT-proewe is om:
- Die regte kultivar,
- op die regte grondsoort,
- teen die regte plantestand,
- in die regte gebied te plant
Wat belangrik is, is dat ‘n kultivar nie met ‘n ander kultivar vergelyk word nie. ‘n Kultivar word met homself vergelyk oor die verskillende grondpoligone oftewel grondpotensiale en die verskillende plantestande waar volgens dit geplant is.
In Pioneer is dit dan ook hoe ‘n nuwe kultivar reg geplaas kan word.
Hoe DAT-proewe uitgevoer word
Dit word op ongeveer 20 tot 40 ha geplant. Daar word besluit op ongeveer 3 of 4 kultivars wat nuut deurgekom het. Hulle word dan herhaaldelik op 3 verskillende plantestande oor die 20 tot 40 ha geplant. Die vereiste is dat die stuk grond in verskillende grondsoorte moet verskil, wat ons dan poligone noem. Die plantestande wat gebruik word is gewoonlik die plantestand wat die klant plant by wie die proef gedoen word, en dan een plantestand laer en een plantestand hoër.
Wanneer dit by stroop kom, gebruik ons die klant se stroper en soos elke baan gestroop word, word die kultivar met die betrokke plantestand ingevoer op die stropermonitor.
Na afloop van die proef se stroop, word hierdie stroperdata elektronies afgelaai. Die stroperdata word dan in ‘n program ingetrek waar sowel die grondpoligone as die stroperdata saam verwerk word, waarna ontleding van die data plaasvind.

Die aantal DAT-proewe wat geplant word
Elke landboukundige is verantwoordelik om in sy gebied ‘n paar sulke DAT-proewe te plant. Dit word nou al minstens vyf jaar gedoen en ons het reeds goeie data opgebou. Ons is nou in die proses om ‘n platform te skep waar ons vir klante voorskrifkaarte op hulle lande kan skryf op grond van die data wat versamel is. Klante wat nog nie met voorskrifkaarte werk nie, sal ook gehelp kan word deur ‘n aanbeveling te kan doen volgens elke land se algemene potensiaal.
Toepassing van data
Na die ontleding van die data word dit in opbrengsklasse geklassifiseer. Met hierdie data kan ‘n voorskifkaart vir ‘n spesifieke land geskryf word om dan die stuk grond wat geplant word, optimaal te gebruik. Daar word dus gepoog om die beste stand vir die spesifieke kultivar vir die spesifieke grondpoligoon aan te wend.
Soos wat ek vroeër genoem het, kan ons nou al twee verskillende kultivars afwissel, en ons het die afgelope seisoen ‘n proeflopie gedoen waar twee kultivars in dieselfde planterbaan afgewissel is, asook volgens plantestand. Langs so ‘n baan het ons ‘n kontrole geplant van slegs een kultivar met een plantestand.
Die klant by wie ons dit gedoen het plant alreeds twee kultivars afwisselend volgens sy eie aanbevelings. Ons het dus ‘n baan van die klant se voorskrif ook geplant en die drie met mekaar vergelyk.
Wat verbasend was, was dat sowel die klant as Pioneer se voorskrif van twee kultivars en verskillende stande in die totale planterbaan bykans dieselfde gemiddelde opbrengs gegee het, maar dat die kontrole wel swakker was. Dit is dus baie positief en wys dat ons in die regte rigting beweeg en dus goeie aanbevelings sal kan doen vorentoe.
Daarom is die dubbelkultivaraanbeveling op ‘n afgewisselde voorskrifkaart die toekoms vir verhoogte opbrengste.
