Nuwe Mitsubishi Triton beïndruk

FB_IMG_1732005866336
Mitsubishi Motors Suid-Afrika het onlangs sy 6de generasie Triton in Gauteng bekendgestel en ons was daar. Mitsubishi gaan tot 11weergawes van die heel nuwe Triton in SA beskikbaar maak wat beide 4×2 en 4×4 aandrywing insluit vir kommersiële sowel as luukse leefstyl gebruik. Slegs die dubbelkajuit weergawes bied kopers die opsie van handrat of outomatiese ratkaste.
Die dubbelkajuitreeks begin by die Triton GL 4×4 handrat model wat kopers sal beïndruk met goeie standaardtoerusting soos ondermeer 16-duim allooiwiele, ‘n slot vir die agterklap, swart kanttrappe, sleutellose toegang, lugversorging, ‘n 8” inligtingskerm, ‘n armrus middel in die agtersitplek, USB en 12V sokke asook materiaal bekleedsel. Wat veiligheid betref bied die GL intreemodel ondermeer ABS en EBD, Isofix hegpunte, immobiliseerder, sentrale sluit en ook ‘n hooggemonteerde remlig agter.
Die nuweling se voorkoms is danksy Mitsubishi se “Beast Mode” ontwerpfilosofie met die neus en sierrooster ontwerp ‘n moderne interpretasie van die vervaardiger se “Dynamic Shield” ontwerp.
Gebou op ‘n heel nuwe onderstel om stabiliteit en dinamika te verbeter, is die gevolg ook dat die nuwe Triton algeheel taaier is. Die nuutontwerpte veerstelsel bied ‘n veel beter ritgehalte.
Die laaibak is nou groter asook 45mm laer gemonteer om vrag gemakliker te laai. Die nuwe Triton kan 3500kg sleep.
Alhoewel die 2024 Triton, soos met die uitgaande model, ook aangedryf word deur ‘n 2,4 liter viersilinder turbodiesel enjin, is die kragbron in die nuweling geheel ‘n nuwe enjin wat nou 135kW en 430nm se piekkragte lewer. Aandrywing na die wiele is danksy ‘n 6-gang outomaties of 6-spoed handratkas. Die intree model Triton GL se 2.4-litre turbodiesel bied egter slegs 81 kW/200 Nm en is slegs beskikbaar met ‘n 5-spoed handratkas.
Mitsubishi se Super Select 4WD-II tegnologie is myns insiens die beste stelsel van alle bakkies tans in SA beskikbaar en bied die bestuurder die opsie van 4 ratkas modusse met die gebruik van ‘n draaiknop om 2H, 4H (tot 100kph), 4HLc (4-trek, middelste ewenaarslot vir sneeu, sand en grond) asook 4LLc (laestrek, 4-trek en middel ewenaarslot vir moeilike terrein) te selekteer na gelang van omstandighede. Verder kan die bestuurder kies tussen rymodusse soos Normaal, Eko (vir beter brandstofverbruik) of “Gravel/Snow” vir wanneer op grond of natpaaie gery word – verkieslik dan met 4H geselekteer. Wanneer ‘Modder/Sand” gekonfronteer word moet die ratkas na 4HLc geskakel word. As die behoefte daar is om rotse en klippe te klim, kies liefs 4LLc vir “Bobbejaanmodus”.

Tydens die bekendstelling het ons die Hoëveld van Gauteng se teer en grondpaaie getoets met die twee topmodelle naamlik die GLS 4WD outomaties en die heel luukste Triton Xtreme Edition. Ons het ook ‘n uitdagende 4×4 roete met die 2 modelle gaan beproef en was verbaas oor hoe bekwaam die nuweling die bykans onbegaanbare terrein kafgedraf het, danksy die hulp van Mitsubishi se Super Select II 4-trek stelsel, “Active Yaw Control”, 7 rit modusse, elektroniese veldryhulp, heuwel-afbeheer en die agterste ewenaarslot.
Beide hierdie modelle se kajuite is besonder omvattend en luuks toegerus en afgewerk en dit is opmerklik dat die nuwe Triton groot verbetering en vernuwing ondergaan het vergeleke met die uitgaande model.
Mitsubishi het die nuwe Triton reeks met 3 spesiale modelle plaaslik bekendgestel.
Die topmodel, wat ook die duurste Triton in die huidige modelreeks is, is die Triton Xtreme Edition waaarmee ons gery het. Hierdie model trek aandag met stylvolle bakafwerking wat duidelik op veldry en buitelug avontuur aktiwiteite gefokus is.
Die Triton Athlete plaas weer klem op gesofistikeerde styl en sportiwiteit met unieke insignia asook ondermeer ‘n blinksilwer sierrooster kenteken, sportiewe rolstaaf, spesiale wielboog aksente, dakrelings, rubbervoering vir die laaibak en swart 17” wiele met fris Dunlop AT5 bande.
Die 3de spesiale model heet die Triton Edition 46 en is vir die avonturier wie Afrika wil platry. Die model is gebou vir tawwe veldry toestande en is gevolglik dienooreenkomstig toegerus.
Standaard toerusting sluit onder meer in spesiale Edition 46 insignia, deurhandvatsel beskerming, dakrelings en dakrak, sierstaaf voor, onder buffer sleepstang, laaibak rubber beskerming, ‘n spesiale swart kappie toegerus met kombuis en tafel asook 18” Dunlop veldry bande. Kliënte het ‘n opsie om ‘n spesiale “Raw Suspension kit” te laat installeer wat ‘n verdere 40 mm se grondvryhoogte byvoeg om veldry en klipklim te vergemaklik.
Mitsubishi het tydens die bekendstelling gesê dat verdere modelle later by die reeks gevoeg gaan word waaronder ‘n “Super High-Power” Triton wat 150kW se maksimum krag gaan lewer. Suid-Afrikaners kan hierdie model aan die einde van 2025 plaaslik. Ook ‘n tydren geïnspireerde “Ralliart” model word beplan.
Die 2024 Mitsubishi Triton is verrassend goed en veel beter as die reeds bogemiddelde uitgaande model. Goeie afwerking, hoë toerustingsvlakke, wakker kraglewering en verrigting asook uitstekende ritgehalte met kompeterende pryse, dra alles by dat die nuwe Triton uitstekende waarde vir enige koper. My persoonlike gunsteling aspek van die nuweling is die briljante SuperSelect II viertrek stelsel.
Pryse en Waarborg:
Enkelkajuit modelle:
Mitsubishi Triton 2.4 GL 4×2 Handrat – R479 990
Mitsubishi Triton 2.4 GL 4×4 Handrat– R559 990
Dubbelkajuit modelle:
Mitsubishi Triton 2.4 GL 4×4 Handrat – R639 990
Mitsubishi Triton 2.4 GLS 4×2 Outo – R679 990
Mitsubishi Triton 2.4 GLS 4×4 Handrat – R739 990
Mitsubishi Triton 2.4 GLS 4×4 Outo – R759 990
Mitsubishi Triton 2.4 Xtreme 4×2 Outo – R769 990
Mitsubishi Triton 2.4 Athlete 4×2 Outo – R779 990
Mitsubishi Triton 2.4 Xtreme 4×4 Outo – R849 990
Mitsubishi Triton 2.4 Athlete 4×4 Outo – R859 990
Mitsubishi Triton 2.4 Edition 46 4×4 Outo – R889 990
Ingesluit by die prys van die nuwe Triton is Mitshubishi se nuwe Diamond Advantage Waarborg wat 5 jaar/onbeperkte kilometers, ‘n 5 jaar/90 000 kilometer diensplan (met 10 000 km intervalle) sowel as ‘n 5 jaar/onbeperkte kilometer padbystand diens insluit.