Nuwe kultivar, nuwe uitvoermark: Avokado’s is op almal se lippe!

avo hoof
- Suid-Afrika kan nou avokado’s na Sjina uitvoer
- Suid-Afrika is die tweede grootste uitvoerder van avokado’s in Afrika
- Nuwe Luna UCR-avokadokultivar is onlangs bekendgestel
Uitvoere na Sjina
Thoko Didiza, Suid-Afrika se minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het op 22 Augustus vanjaar ’n ooreenkoms met Sjina onderteken wat plaaslike avokadoboere in staat sal stel om na die groot mark uit te voer. Clive Garrett, ZZ2 se bemarkingsbestuurder en voormalige voorsitter van die SA Avokadokwekersvereniging (SAAGA), het in ’n mediaverklaring namens ZZ2 en nog twee groot produsente, Core Fruit en Mission Produce Southern Africa, dié twee lande se regerings gelukgewens met die groot oomblik, en SAAGA bedank vir die bydrae wat die vereniging gelewer het om die regering by te staan om na tien jaar die knoop deur te haak.
ZZ2 is ’n megaboerdery in Limpopo en elders in die land, wat onder meer avokado’s produseer. Clive meen Suid-Afrika kan avokadoproduksie verdriedubbel om meer werkgeleenthede te skep. Die bedryf het ook ondervinding in die uitvoer van vars produkte en is minstens tien dae per skip nader aan Sjina is as Peru, tans die grootste mededinger in Sjina.
- Mission Produce het onlangs n vennootskap met ZZ2 aangegaan om nog meer avokado’s in Suid-Afrika te verbou. (Foto: ZZ2)
- ZZ2, een van die groot avokadoprodusente in Suid-Afrika, is verheug oor die moontlikheid om na Sjina uit te voer. (Foto: ZZ2)
Grootste uitvoerder in Afrika
Suid-Afrika is tans die tweede-grootste avokado-uitvoerder in Afrika, met Marokko die grootste. In 2020 is altesaam 47 264 ton avokado’s ter waarde van sowat R1,4-miljoen uitgevoer.
95% hiervan is na Europa verskeep en die res na die Midde-Ooste en ander Suider-Afrikaanse state. Die hoofbestemmings het toe die Nederlande, Verenigde Koninkryk, Rusland, Spanje, Saudi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate ingesluit.
Die Suid-Afrikaanse regering onderhandel voortdurend vir nuwe markte in Sjina, Japan, Indië en die VSA. Nie net vars avokado’s word uitgevoer nie, maar ook avokado-olie. Klaarblyklik het die Europese avokadomark meer onlangs stagneer omdat dié mark versadig is. Toegang tot die nuwe markte kan die nodige momentum verskaf om nuwe lewe in die bedryf te blaas en sal die Suid-Afrikaanse avokadobedryf minder afhanklik van Europa as afsetgebied maak. Freshplaza, ’n internasionale mediaplatform wat daagliks inligting oor die verhandeling van varsprodukte verskaf, het egter op 23 Augustus bekend gemaak dat Sjina kla hulle mark is toegegooi onder avokado’s van swak gehalte uit Peru. Meksiko (47,6%) Nederland (12,3%) en Peru (12,2%) is die drie grootste uitvoerders van avokado’s in die wêreld.
Nuwe avokado bekendgestel
Onlangs is die Luna UCR™-avokado, ’n nuwe variëteit, na ’n jare se navorsing deur die Universiteit van Kalifornië in Riverside (UCR) bekendgestel. Die nuwe variëteit, wat uit die Hassavokado gekweek is, hou blykbaar voordele in bo die Hass wat tans die wêreld se liefling is.
- Daar is tans 14 geakkrediteerde avokadokwekerye in Suid-Afrika. (Foto: ZZ2)
- ZZ2 se avokadoboorde in die Mooketsi-omgewing van Limpopo. (Foto: ZZ2)
Luna teenoor Hass
Volgens Mary Lu Arpaia, hoof van die program wat die vrug saam met kollega Eric Focht gekweek het, is die Luna se tekstuur ietwat anders as dié van Hass. Die Luna se vrugte is ook groter as die van die Hass, waarvan veral ouer bome se vrugte met verdrag al kleiner word. Anders as die Hass met sy swart skil, verkleur die Luna se groen skil swart sodra die vrug ryp is. Die skil is dikker en gladder as dié van die Hass. Volgens die universiteit het die Luna goeie na-oeseienskappe: dit word goed ryp en het ’n langer raklewe.
Die Luna is gekweek met die doel om dit meer geskik te maak vir verbouing met water met ’n hoër soutinhoud, hoër temperature en droogte waarvoor die Hass senstitief is. Die Luna is ook meer bestand teen sekere insekte en Phytophtora-wortelvrot, die algemeenste siekte wat wêreldwyd by avokado’s voorkom. Die Luna se boom is kleiner en het ’n slank, regop groeivorm. Die bome kan nader aan mekaar geplant word, wat ’n groter opbrengs per hektaar kan lewer. Die boom het minder snoeiwerk nodig en die vrugte kan sonder ’n leer geoes word.
Die Universiteit van Kalifornië is die afgelope sewentig jaar besig met die ontwikkeling van avokado’s en het die beste versamelings kiemplasma van wortel- en bostokke ter wêreld wat in samewerking met verskeie kwekers in die bedryf ontwikkel is. Volgens Mary Lu neem dit vyftien tot twintig jaar om ’n nuwe avokadovariëteit te ontwikkel. Dit duur tussen drie en vyf jaar vandat die saad (pit) geplant is totdat die boom begin vrugte dra. Sy meen dit is belangrik om nuwe variëteite te ontwikkel om die avokadobedryf in Kalifornië lewensvatbaar te hou. Die Luna UCR™, wat amptelik bekend is as die BL516, word beskerm onder ’n hangende patent wat op die name van Arpaia en Focht geregistreer word. Hulle het die ontwikkelingswerk van Gray Martin, David Stottlemyer en Bob Bergh voortgesit.
Onder leiding van Bob Bergh, wat die program om variëteite te verbeter veertig jaar lank gelei het, is variëteite soos die GEM en Lamb Hass bekendgestel. Die Luna sal in samewerking met Eurosemillas van Spanje, ’n maatskappy wat spesialiseer in die internasionale bemarking van eie gewasvariëteite, versprei word. Die maatskappy het ’n vennootskap met 14 lande aangegaan om die Luna buite die VSA te kweek. Volgens Clive is die Luna-variëteit is splinternuut, en sover hy weet, nog nie vir kommersiële aanplantings vrygestel nie. Verbruikers sal dus nog ’n ruk moet wag voordat hulle die Luna kan proe.

ZZ2 se pakhuis by Mooketsi, waar die boerdery sy oorsprong het. Vandag het ZZ2 talle plase wat ook ander varsprodukte produseer. (Foto: ZZ2)
Luna se plek in Suid-Afrika
Word daar in Suid-Afrika nuwe kultivars ontwikkel en is daar ’n behoefte aan variëteite soos die Luna? Derek Donkin, hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Avokado-kwekersvereniging (SAAGA), sê die meeste navorsing op avokado’s in Suid-Afrika word deur dié vereniging befonds. Die navorsing dek talle aspekte wat afhang van die bedryf se behoeftes, en sluit peste, siektes, na-oeshantering en boordpraktyke in. Die werk word gedoen deur organisasies soos universiteite, private navorsers van die groter produsente, en die Landbounavorsingsraad (LNR). Die ontwikkeling van kultivars word meestal deur private instansies soos kwekerye gedoen. Volgens Derek is daar tans sowat 380 avokadoboere in Suid-Afrika.
Die meeste boompies word verskaf deur veertien kwekerye wat deur ANA (Arizona Nursery Association) geakkrediteer is.
Suid-Afrikaanse avokadobedryf
’n Opname in 2023 dui daarop dat daar tans altesaam sowat 19 500 ha avokadobome in Suid-Afrika is. Die meeste aanplantings is in Limpopo (10 168 ha of 54%), waarvan die meeste (45%) in Letaba is. Dit word gevolg deur Mpumalanga met 22% in die omgewing van Nelspruit en Witrivier, Kwazulu-Natal (18%), die Wes-Kaap (5%) en die Oos-Kaap (1%). Hass-tipe kultivars met donker skille verteenwoordig 65,39% van die avokadoproduksie in Suid-Afrika. Kultivars met groen skille verteenwoordig 34,61% van die aanplantings.
Van hulle word Fuerte die tweede meeste in Suid-Afrika aangeplant, gevolg deur Pinkerton (7,80%) en Ryan-kultivars (4,99%).
Met al die kultivars en variëteite is dit moontlik om feitlik heeljaar deur avokado’s op die winkelrakke te hê. Avokado’s met groen skille wat nie swart word wanneer dit ryp is nie, naamlik Fuerte, Edranol, Ryan, Reed en Pinkerton, is vanaf Maart tot Oktober beskikbaar, terwyl die avokado’s met donkerpers of swart skille, Hass, Maluma Hass en Lamb Hass, vanaf Maart tot November beskikbaar is. Derek is nie bekend met die Luna nie en is nie bewus daarvan of Eurosemillas die kultivar aan Suid-Afrika beskikbaar sal stel om te sien hoe dit in plaaslike omstandighede vaar nie. Indien die kultivar wel in Suid-Afrika beskikbaar gestel word, sal dit positief aanvaar word indien dit meer voordelig is as die bestaande kultivars met betrekking tot hoër opbrengs, weerstand teen siektes, makliker boordbestuur, hitte- en kouebestandheid, en of verbruikers daarvan hou.
“’n Mens sal eers meer oor hierdie aspekte weet as die Luna ekstensief in Suid-Afrika getoets is,” sê Derek.
- Die nuwe Luna-variëteit, wat nog nie vir verbouing beskikbaar is nie, kan moontlik bydra tot beter bestuiwing, wat kan lei tot groter oeste van ander variëteite en kultivars. (Foto: Pixabay)
- Die Hass-variëteit is tans wêreldwyd die gewildste, maar dit is moeilik om die vrugte te oes omdat die boom so groot is. Die Luna se boom is kleiner en meer bome kan per hektaar geplant word. (Foto: Pixabay)
Bronverwysings
Avocado Exporters and Suppliers In South Africa (2023) Freshela https://www.freshelaexporters.com/avocado/exports/southafrica#:~:text=South%20Africa%20 is%20currently%20the%20second%20 largest%20exporter,avocados%20 from%20South%20Africa%20between%202011%20and%202020.
Jansen, C. (2023) South African avo growers may, finally, commence Chinese exports. FreshPlaza https:// www.freshplaza.com/europe/article/9553150/south-african-avo-growers-may-finally-commence-chineseexports/?utm_medium=email
SAAGA Industry Tree Census 2023 https://avocado.co.za/wp-content/uploads/2023/05/SAAGA-IndustryCensus-Report-2023.pdf
Too many imported avocados have arrived, affecting market performance. (18 Augustus 2023) FreshPlaza https://www.freshplaza.com/europe/article/9551885/too-many-importedavocados-have-arrived-affecting-market-performance/
Workman, W. (2023) Avo exports by country. World’s Top Exports https://www.worldstopexports.com/avocados-exports-by-country/#google_vignette
ZZ2, Core Fruit, Mission Produce Southern Africa. (Media Release 22 August 2023) https://www.zz2.co.za/post/pressrelease-zz2-core-fruit-mission-producesouthern-africa
Kontak SAAGA by 015-307- 3676/7 of stuur ’n e-pos na info@subtrop.co.za Besoek SAAGA se webtuiste by https://avocado.co.za/

Roosterbrood en guacamole, ’n gereg van Meksikaanse oorsprong, is oral ’n gewilde en gesonde ontbyt. (Foto: Pixabay)





