Categories: NuusPublished On: 3rd May 2023

Nuwe eienaars blaas nuwe lewe in 2023 SA Kaasfees

By 3 min read
610 words

kaas1

Die groot gewag is verby – die bekroonde Suid-Afrikaanse Kaasfees maak vanjaar ‘n terugkeer op Stellenbosch met nuwe datums én nuwe eienaars. Die Sandringham-landgoed sal gasheer speel vir hierdie buitelug kulinêre geleentheid oor die Erfenisdag-langnaweek van Vrydag 22 tot Maandag 25 September 2023. Die nuwe feeseienaars, ‘n konsortium van private beleggers en die DGTL Marketing Group, het die gewilde fees herontwerp om ‘n vier dag lange viering rondom kaas, wyn en vermaak vir die hele gesin te skep.

Die SA Kaasfees, wat bekend is as Suid-Afrika se enigste kaas-gefokusde geleentheid, is reeds sedert 2002 as ‘n tradisie in die Kaapse Wynland gevestig. Die nuwe eienaars beskik oor uitgebreide kundigheid in die organisering, bemarking en aanbieding van leefstylgeleenthede reg oor die land, wat die SA Kaasfees nuwe hoogtes sal laat bereik. Besoekers kan ‘n treffende ervaring verwag met nuwe lewe wat in die fees geblaas word.

B2B-SAMESPREKINGS, ‘N VRYDAGAAND-MUSIEKFEES EN ‘N KARNAVAL-TEMAPARK

Die SA Kaasfees sal op Vrydag 22 September met besigheid-tot-besigheid (B2B) gefokusde sessies afskop om handel tussen uitstallers en kopers van groot kleinhandelwinkels aan te moedig. Die fees open dan amptelik met ’n musiekfees op die Vrydagaand. Oor die langnaweek van Saterdag 23 tot Maandag 25 September sal meer as 150 uitstallers die publiek verwelkom met net die beste kaas-aanbiedinge, asook ‘n veelsydige keuse van ander kos en ‘n verskeidenheid wyn- en boetiekbier-handelsmerke.

Gewilde plaaslike kunstenaars sal musiek maak, terwyl topklas-kindervermaak en karnaval-styl pretpark-aktiwiteite die hele gesin sal vermaak. Een van die nuwe toevoegings tot die SA Kaasfees is die gasvryheidsopsies wat aan vennote en borge beskikbaar gestel word. Privaat of gedeelde gasvryheidsuites met toegewyde fasiliteite en unieke ervarings sal aangepas word volgens die behoeftes van die borge.

GOEIE NUUS VIR SA KAASFEES-LIEFHEBBERS IN JHB EN KZN

Jacques Fourie, wat die nuwe eienaars verteenwoordig, sê: “Ons is verheug om die 2023-geleentheid te bevestig en opgewonde om saam met alle uitstallers en vennote te werk om die voortgesette sukses van hierdie belangrike gebeurtenis op die Wes-Kaapse geleentheidskalender te verseker. Die 2023-geleentheid word eintlik die 20ste weergawe van die SA Kaasfees, nadat die 2020- en 2021-feeste weens COVID gekanselleer is, en ‘n kleiner geleentheid verlede jaar aangebied is. Boonop beskik die fees nou oor al die bestanddele wat nodig is om ‘n vlagskipgeleentheid op die kulinêre kalender in Suid-Afrika te word.”

Volgens Fourie het die nuwe eienaars ook planne om die SA Kaasfees reeds in 2024 na Johannesburg en KwaZulu Natal te bring, wat beslis die waarde vir bestaande vennote en uitstallers sal verhoog.

“Die SA Kaasfees is ‘n merkwaardige ervaring vir kosliefhebbers en fynproewers,” sê Fourie. “Met ‘n verskeidenheid kulinêre uitstallers, plaaslike wyne, boetiekbiere, gin, musiekkonserte en vermaaklike vertonings deur koskenners, is daar iets vir almal by hierdie fees. Die heerlike kaassoorte en nisprodukte te proe en te koop, sal jou mond laat water, en die plesierige atmosfeer sal jou met onvergeetlike herinneringe laat. Of jy nou ’n gesoute fynproewer is of bloot nuuskierig is om iets nuuts te probeer, sal die 2023 SA Kaasfees ’n geleentheid wees wat jy nie moet misloop nie!”

KAARTJIES BESKIKBAAR VAN JUNIE 2023

Verdere inligting oor kaartjiepryse en gasvryheidsaanbiedinge sal in die komende weke aangekondig word, met kaartjies wat na verwagting van Junie 2023 te koop sal wees, beperk tot 10 000 besoekers per dag. Volg die SA Kaasfees op sosiale media Facebook@SACheeseFestival, Instagram & Twitter @SACheeseFest #SACheeseFest and #CheeseLovers en hou die feeswebwerf dop by www.cheesefestival.co.za.

Uitstaller-registrasie open Maandag 8 Mei via die SA Kaasfees-webtuiste.

Vir meer inligting oor hoe om te registreer as SA Kaasfees-uitstaller, kontak die uitstallerbestuurder Reinette Basson by reinette@cheesefestival.co.za.

Vir alle vennootskap- en borgskapverwante navrae, kontak Nicole Windbrechtinger, Direkteur van die DGTL Marketing Group, by nicole@dgtl-group.com.

Bron: Yolandi de Wet PR

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0