Nuwe algemene bestuurder vir die Nasionale Wolwerkersvereniging

Dan_DSC_1996 (002)
Dan Kriek die nuwe hoofbestuurder van die nasionale wolkwekersvereniging vanaf 1 Mei 2024.
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), een van die land se oudste kommoditeitsorganisasies, is bevoorreg om die aanstelling van Dan Kriek as nuwe Hoofbestuurder aan te kondig, effektief vanaf 1 Mei 2024.
Dan is die voormalige president van Agri SA, het op president Cyril Ramaphosa se grondhervormingspaneel gedien, en dien steeds op die Raad van die Universiteit van die Vrystaat.
Die NWKV verteenwoordig wolboere in Suid-Afrika. Volhoubare produksiepraktyke is een van die organisasie se hoofdoelwitte, met ‘n sterk fokus op dierewelsyn, omgewingskwessies en sosiale verantwoordelikhede ter ondersteuning van beter marktoegang vir produsente wat strook met internasionale vereistes.
Die uittredende hoofbestuurder, Leon de Beer, tree einde April af, ná 20 jaar se diens. Hy het in September 2003 by die NWKV aangesluit.
Leon sê hy is trots daarop dat ’n ervare persoon soos Dan sy rol in die organisasie gaan oorneem.
Tydens sy lang en suskesvolle loopbaan was Leon van onskatbare waarde vir die NWKV en die organisasie se bestuur bedank hom opreg dat hy sy landboukennis mildelik gedeel het, asook vir sy toewyding en lojaliteit. Die bestuur wens hom ‘n vreedsame en voorspoedige aftrede toe.
In reaksie op sy aanstelling sê Dan hy is bevoorreg om na sy wortels terug te keer, omdat hy as nagraadse landboustudent in kleinveekunde gespesialiseer het. “Die geleentheid om met Suid-Afrikaanse wolprodusente te werk is ‘n groot voorreg,” sê Dan. “Ek sien uit daarna om met alle rolspelers, die regering inkluis, saam te werk om groter voorspoed vir alle wolboere te verseker.”
“Wolprodusente vervul ’n groot rol in die suksesverhaal van verhoogde uitvoerverdienste vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die Suid-Afrikaanse wolbedryf se volhoubaarheidsstatus maak die bedryf uniek. Suid-Afrikaanse wolboere is die grootste verskaffers van volhoubaar- gesertifiseerde wol in die wêreld, en is uitstekend geposisioneer in ‘n verbruikerswêreld wat op sosiale verantwoordelikheid en omgewingsbewustheid fokus. Hierdie kompeterende voordeel moet verder uitgebou en versterk word”.
Dan sê ook dat daar eenheid in die bedryf is, en saam vorm kommersiële en kommunale wolboere ’n gedugte span. “Die groeipotensiaal van die kommunale gebiede in die OosKaap word lank reeds raakgesien, maar die verwesenliking daarvan gaan ’n spanpoging van alle rolspelers verg,” sê hy. “Die skep van infrastruktuur en die gebruik van tegnologie kan ’n sosio-ekonomiese omwenteling in die lewens van kommunale wolboere en landelike gemeenskappe teweegbring.”
Die NWKV is vol vertroue dat Dan, met sy omvattende ondervinding, die organisasie en alle Suid-Afrikaanse wolprodusente suksesvol in ‘n nuwe era sal lei.