Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 18th March 2024

Nuutste Pioneer-genetika maak boere van Bethal opgewonde

By 5 min read
861 words

IMG_6899

Verby is die dae waar jy ‘n saadjie plant en dan maar hoop vir die beste. Deesdae is slim boer die beste manier om te boer. By Pioneer se onlangse Agronomiedag by Bethal, het hulle hulle nuutste slimboerprodukte aan boere bekendgestel.

Die dag is op Boer van die Jaar 2023, Dewald Te Water, se plaas aangebied. Dewald wat al 23 jaar met mielies, sojabone en beeste boer, loop al van die begin af ‘n pad saam met Pioneer.

“Ons het Pioneer-mielieproewe begin plant, en baie goeie resultate behaal. Van daar af het Pioneer meer betrokke geraak by ons boerdery en die verhouding het net gegroei. Tans is omtrent 80% van ons aanplanting Pioneer,” vertel Dewald.

Volgens hom is die nuwe tegnologie en data wat hulle insamel bitter belangrik. Die nuwe plant- en kultivardata, asook data oor saadbehandelings, word by agronomiedae soos hierdie een bekendgestel en omdat dit in praktyk gebruik word gee dit boere die geleentheid om te sien of dit werk of nie werk nie.

Boere luister gretig na watter nuwe kultivars Pioneer beskikbaar het.

Hannes Swanepoel is die Pioneer-agent in die Bethal-omgewing waar Pioneer al vir 33 jaar hulle maatskappy opgebou het.

“Ons het in hierdie stadium ‘n redelike markaandeel. Bethal is ‘n goeie gebied vir landbou en ons as Pioneer-agentskap is baie gelukkig om hier te kan voorsien.” sê Hannes.

Die boodskap wat Hannes wil hê boere moet huis toe vat is dit dat dit tyd is om slim te boer.

“Die dae waar ons foute maak moet opsy geskuif word. Die groot ding is ons moet slim begin boer. Daar is allerhande produkte op die mark wat regtigwaar tot guns van die boer kan wees en ons moet gebruik maak daarvan, want uiteindelik soek ons optimale opbrengste,” sê Hannes.

Saadbehandelingsbestuurder van Pioneer Afrika en die Midde-Ooste, Johan Janse van Rensburg en Johan Kock verduidelik die belangrikheid van gesonde wortels.

By die dag was die fokus baie geplaas op plantwortels en die gesondheid daarvan. Die saadbehandelingsbestuurder van Pioneer Afrika en die Midde-Ooste, Johan Janse van Rensburg, verduidelik die wortels vorm die basis van jou plant.

“’n Gesonde wortelstelsel maak dat jou plant voeding opneem soos wat hy moet en dit vestig ook die plant om van die begin af gesond te wees sodat jy op die einde die gewenste resultate kan hê,” verduidelik hy.

Hy verduidelik dat saadbehandeling ‘n geteikende produk gee wat direk op die saad geplaas word, waar en wanneer dit nodig is. Dit is ook die vinnigste manier om pesbeheer toe te pas omdat saad op sy kwesbaarste is sodra dit in die grond geplant word.

“So met saadbeheerbehandeling kan ons die saad op ‘n vroeë stadium beskerm. Met al die behandelingskombinasies wat ons bring, verseker ons dat aktiewe bestanddele onmiddellik beskikbaar is om beskerming te bied. Die voordeel daarvan is dat die impak op die omgewing minder is; dit is weer voordelig vir insekte en harde chemie hoef nie direk toegedien te word nie.”

Hy verduidelik dat saadbehandeling die beginfase is om die plant goed te vestig en gesond te kry om die potensiaal en dan die opbrengs te beskerm. Pioneer se saadbehandelings-handelsmerk word LumiGEN® genoem. Wanneer ‘n boer dit in die mark sien, kan hy gerus wees dat die chemie getoets is op die Pioneer genetika, en daar in die veld bewys is dat al die komponente teenwoordig is en werk.

Pioneer-produkte lewer die beste mielies.

Jaco Snyman, Pioneer se sakebestuurder, verklaar dat hy baie opgewonde is oor die opkoms by die geleentheid en dat daar ‘n hongerte onder die boere is vir nuwe genetika en tegnologie.

Hy sê: “Dae soos hierdie is deurslaggewend vir Pioneer; daar is vooraf beplanning wat daar ingaan en ons identifiseer ons nuwe genetika. Die doel daarvan is om ons nuwe genetika aan ons produsente bekend te stel, saam met ‘n klomp nuwe kultivars, en die boere is honger om te sien watter vooruitgang daar is rondom genetika.”

In al hulle kultivars is daar nuwe materiaal, veral in die kortergroeiseisoen geel kultivars en platforms soos P1225 en P2362.

“‘n Aspek wat vir ons belangrik is om dop te hou, is die feit dat die afgelope seisoen ‘n droë seisoen met lae reënval was. Van die nuwe genetika toon ‘n goeie reaksie teenoor droë toestande en dit is die aspekte wat ons graag vir ons boere wil wys.”

Boere reg om te leer van nuwe genetika en kultivars by die Pioneer-Agronomiedag by Bethal.

Pioneer het ook nou in samewerking getree met Stoller. Aan die een kant het jy Pioneer se genetika wat die boere help om maksimum en goeie opbrengste te behaal. “Maar die plantgesondheid en die biologiese aspek, dit is wat ons vir ‘n wyle benodig het en dit is waar Stoller vir ons gaan waarde toevoeg. Dit gaan vir ons ‘n goeie uitkoms vir ons boere gee rondom die biologiese gedeelte en die bestuur van mielieverbouing in Suid Afrika.”

Hy vertel dat ons in ‘n veranderlike landbou-omgewing leef en konstant op hoogte moet bly van die nuutste praktyke en inligting.

“Om te meet is om te weet,” sê Jaco.

Indien jy meer wil uitvind oor die nuutste tegnologie en genetika wat Pioneer bied, besoek hulle webtuiste www.pioneer.com/za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0