Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 1st April 2026

Navorsers bevind unieke luiperds kom in Wes-Kaap voor

By 6 min read
1182 words

getty-images-4spcC1jktTs-unsplash

Diere van dieselfde spesie verskil dikwels van mekaar. So is luiperds in Kaapse provinsies byvoorbeeld heelwat kleiner as hul noordelike eweknieë in Suid-Afrika se ander provinsies.

Laura Tensen, wat tans by die Universiteit van Greifswald in Duitsland werk, het haar doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg voltooi. Haar navorsing het gefokus op die invloed van habitatfragmentasie op die genetiese lewensvatbaarheid van wildehonde in Suid-Afrika en Zimbabwe. Haar voortgesette navorsing fokus op hoe die landskap en druk weens faktore soos verlies aan habitat of jag karnivore van dieselfde spesie kan laat verskil.

In ’n artikel wat op The Conversation verskyn het, wonder sy hoekom luipers van mekaar verskil. Verander hulle as gevolg van die omgewing, is dit natuurlike of voortplantingseleksie, of verskil hul geen-variante bloot weens geïsoleerde omstandighede wat hulle stadigaan laat verander?

Tensen het hierdie verskynsel nagevors as lid van ’n bewaring- en navorsingspan wat gefokus het op ’n groep van sowat 1 000 luiperds in die Kaapse floristiese streek in dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap.

Die luiperds in hierdie gebied is  tot soveel as die helfte kleiner as dié elders in Afrika. Navorsers het jare lank gewonder of die luiperds in die Kaapse provinsies ’n afsonderlike genetiese groep is en indien wel, waarom.

Deur middel van vel- en spierweefselontledings het die span bevind dat Kaapse luiperds tog geneties van ander luiperds in Afrika verskil omdat hulle al so lank afgesonder is en by een streek aangepas het. Die bevindinge hou belangrike implikasies vir bewaring in.

Luiperds kom wydverspreid in Afrika en dele van Asië voor. Agt subspesies kom voor, waarvan die Afrika-luiperd (Panthera pardus pardus) een is.

Kleurverskille

Die luiperds wat suid van die Sahara voorkom, toon verskille in pelskleur- liggaamsgrootte en die vorm van die skedel. Luiperds wat in oop habitatte voorkom, is groter en ligter van kleur as die wat in beboste gebiede voorkom – wat gewoonlik kleiner en donkerder van kleur is.

Die luiperds in die Kaapse floristiese streek, ’n biodiverse gebied ryk aan plante wat net hier voorkom, is ’n uitsondering op die reël. Hulle is relatief klein maar tot dusver het niemand geweet waarom nie.

Tensen en haar span se navorsing het bevind dat Kaapse luiperds nie net kleiner is nie, maar ook ’n eie genetiese groep vorm wat duidelik verskil van luiperds elders in Suider- en Oos-Afrika.

Dieselfde geld vir luiperds in Ghana in Wes-Afrika wat ook min tekens toon dat hulle onlangs met ander luiperdbevolkings in kontak was.

Die Cape Leopard Trust doen waardevolle navorsing op luiperds om hulle rol in die natuur beter te verstaan en CapeNature brei bewaringsgebiede uit om korridors te skep waarlangs die luiperds kan beweeg sonder om hulle die gramskap van boere of die gemeenskap op die hals te haal. (Bron: Verskaf)

Kleiner habitat

Kaapse luiperds kom in en suid van die Kaapse Plooiberge voor en word oënskynlik tot die gebied beperk deur die droë halfwoestyn noord van die bergreeks sowel as die hoë menslike bevolkingsdigtheid in die Oos-Kaap.

Die navorsing dui daarop dat hierdie luiperdbevolking geneties uniek is en dat dit reeds tussen 20 000 en 24 000 jaar gelede begin afskei het van ander bevolkings verder ooswaarts.

Gedurende dié tydperk het Suider-Afrika kouer en droër geword met minder grasveld en kos, wat dit moeiliker gemaak het vir diere om rond te beweeg en te oorleef. In die 1800’s en 1900’s het luiperdgetalle ook skerp afgeneem weens habitatverlies en jag. Luiperds is meedoënloos gejag deur boere wat daarvoor betaal is! Gelukkig het hierdie praktyk in 1968 tot ’n einde gekom.

Luiperds is in sekere gebiede totaal verwilder as gevolg van jag. Maar in Augustus en Oktober verlede jaar is ’n luiperd vir die eerste keer in 170 jaar in die Weskus Nasionale Park tussen Yzerfontein en Langebaan met ’n veldkamera afgeneem, tot groot vreugde van alle natuurliefhebbers.

Volgens Laura het die navorsers verwag dat die luiperds se genepoel gekrimp het omdat hulle gejag is, maar gelukkig was daar net ’n geringe afname in genetiese diversiteit.

Luiperds wat suid van die Kaapse Plooiberge voorkom is sowat die helfte kleiner as luiperds in die sentrale en noordelike provinsies van die land. (Bron: Verskaf)

Kleiner prooi

Die navorsers wou ook bepaal hoekom Kaapse luiperds kleiner is en het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle jag maak op kleiner prooidiere wat yl versprei is, waaronder dassies (Procavia capensis), klipspringers (Oreotragus oreotragus) en Kaapse grysbok (Raphicerus melanotis).

Dit blyk dus dat die predatore kleiner is omdat hulle aangepas het by hul omgewing en prooi en nie weens isolasie of genetiese veranderinge nie.

Bevolkings wat so aangepas het verteenwoordig ’n unieke tak van ’n spesie se evolusionêre geskiedenis en moet beskerm word sodat hulle kan aanhou aanpas by huidige en toekomstige veranderinge.

Uniek in ’n unieke landskap

Die luiperds in die Kaapse floristiese streek is dus uniek vanweë die unieke landskap waarin hulle voorkom en het gevolglik verander om aan te pas by die plantegroei, die beskikbaarheid van prooi en die vinnige groei van die menslike bevolking. Hier is nie groot begrensde reservate nie en die luiperds beweeg vryelik rond op plase en dorpe – en natuurlik lei dit soms tot konflik.

Om die luiperds te beskerm moet hul habitatte aan mekaar gekoppel wees sodat hulle vryelik kan rondbeweeg sonder om gejag te word. Ongelukkig word hulle steeds gejag (in sekere dele) en op paaie doodgery – en daarom moet grondeienaars en gemeenskappe saamwerk om hulle te beskerm.

Cape Leopard Trust

Die Cape Leopard Trust (CLT) doen sedert 2004 navorsing oor luiperds in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap met die doel om luiperd-ekologieë en die diere se interaksie met mense te ondersoek.

Die organisasie gebruik kamera-monitering om tendense te bepaal wat betref bevolkingsdigtheid sodat betyds opgetree kan word indien nodig. Hierdie inisiatief fokus op die gebiede in die Kaapse Plooiberge en sluit die Sederberge, Piketberg, die Olifantsrivierberge, die Bolandse berge, die Overberg en die Klein-Karoo in. Die monitering dek ’n area van tussen 1 500 en 3 500 km² met tussen 120 en 180 veldkameras.

Hierdie monitering help CLT om die luiperds se bevolkingsdigtheid in die gebiede te bepaal. Foto’s van ander diere wat gekiek word, is net so nuttig en word as ’n biodiversiteit-databasis gebruik. Die kameras toon waar die luiperds onder druk is en watter korridors nodig is sodat hulle veilig kan rondbeweeg in ‘n landskap wat met die verloop van tyd deur landbou en menslike bewoning gefragmenteer is.

Kaart van die Kaapse Plooiberge
(Bron: https://af.wikipedia.org/wiki/Kaapse_Plooigordel#/media/L%C3%AAer:Wes-Kaapse_topografie.jpg

Verwysingsbronne

Joanie Bergh (2025) Luiperd eerste keer in 170 jaar in Weskus-park opgemerk. Landbou.com. https://www.landbou.com/nuus/luiperd-eerste-keer-in-170-jaar-in-weskus-park-opgemerk-20251118-0185

Steyn, T (2025) Jong luiperd vrek na hy in twee strikke gevang is. ProAgri. https://proagri.co.za/jong-luiperd-vrek-na-hy-in-twee-strikke-gevang-is/

Steyn, T (2025) Jong luiperd vrek na hy in twee strikke gevang is. ProAgri. https://proagri.co.za/jong-luiperd-vrek-na-hy-in-twee-strikke-gevang-is/

Tensen, L. (2026) Leopards adapted to South Africa’s Cape so successfully that they’re genetically unique – study. The Conversation. https://theconversation.com/leopards-adapted-to-south-africas-cape-so-successfully-that-theyre-genetically-unique-study-2750220February%2026%202026%20-%203687637703+CID_3f10cda89a897240d1f450124f3aef49&utm_source=campaign_monitor_africa&utm_term=Leopards%20adapted%20to%20South%20Africas%20Cape%20so%20successfully%20that%20theyre%20genetically%20unique%20%20study

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0