Nat Suid-Kaap kry nog reën
Nog reën in ‘n deurweekte Suid-Kaap het die afgelope naweek amok gemaak toe riviere in vloed laagwaterbrûe in die omgewing van Mosselbaai en George oorstroom het en inwoners van die buitewêreld afgesny het. Motoriste is gewaarsku om nie vol riviere te probeer oorsteek nie.
Die reën het Vrydagnag begin uitsak oor groot dele van die Suid-Kaap, wat tot dusver vanjaar bykans 1000 mm ontvang het. “Die gemiddelde reënval vir die Mosselbaaiomgewing is sowat 650 mm,” se Henry Meyer, wat naby Ruitersbos in die Langeberge boer. Hy is Agri Wes-Kaap se streeksverteenwoordiger in die Suid-Kaap.
Die reën bied baie uitdagings want die grond is nou net te nat. “Die intensiteit van die naweek se reën was baie hoog en baie water het geloop. Hier by ons het tussen 90 en 120 mm in ‘n kort tyd geval, by Herbertsdale bietjie minder, en by George tussen 80 en 100mm.”
Volgens hom loop al die bergstrome en boere het waterpompe verloor toe die water skielik in kitsvloede afgekom het.
By Brandwag in die Robinsonpas wat Oudtshoorn en Mosselbaai verbind, het die Koumarivier vroegoggend afgekom. “Teen negeuur was die water nog laag, maar teen elfuur het die rivier sterk afgekom.”
‘n Klompie plaaswerkers wat die oggend dorp oudergewoonte dorp toe is om te gaan inkopies doen, kon die middag nie deur die vol rivier terugkeer huis toe nie. “Die mense gebruik meestal taxi’s om in die dorp te kom, maar met die verspoelde paaie wil die taxibestuurders nie daar ry nie. Indien hulle ry, laai hulle die mense in die reen by die vol rivier af. Ek het self ‘n paar mense met die bakkie deur die strome gehelp. Een boer het ‘n 40 km ompad gery om sy werkers te gaan haal,” sê Henry.
Die NSRI Mosselbaai berig hulle op versoek van die Mosselbaai-munisipaliteit ‘n klomp werkers met die hulp van ander nood- en reddingsinstansies gehelp het om die vol Geelbekvleirivier veilig in reddingsbote oor te steek.
Reën skep nuwe uitdagings
Die boere kla nie oor die reën nie, maar die situasie raak nou ongemaklik omdat dit boerderybedrywighede aan bande lê. “Soos ons altyd sê: dis nie te veel reën nie, ons grond is net te min om die reën te benut!”
Melkbeeste
Die reën skep verskeie uitdagings. Weens die voortdurende reën wat sedert Mei in die streek geval het, droog die plaaspaaie nie uit nie en beeste moet deur die modder aansukkel stal toe. Volgens plaaslike veeartse moes talle koeie van kant gemaak word omdat die horinggedeelte van die hoewe so sag word dat dit onherstelbaar beskadig is.
Volgens Meyer bestaan die gevaar dat die warmer weer bakterieë in die nat grond kan laat groei wat nou ook vrotpootjie kan veroorsaak.
Wol
Die skeer van wolskape bly ook agter weens die nat weer. “Mens kan nie nat wol skeer nie en die skeerders raak agter.”
Die laaste wol veiling van die jaar is vandeesweek en die wol sal moet oorstaan tot die openingsveiling in Januarie.” Op daardie veiling is die pryse gewoonlik laer en die boere wat staatgemaak het op ‘n woltjek kan nou kontantvloeiprobleme ondervind.”
Weens die warmer toestande kan brommers en wurms ook in die lang wol uitbroei.
Weidings
In die modderige toestande vertrap die beeste die landerye waar aangeplante weiding soos raaigras en lusern ten duurste gevestig is. “Waar die landerye vertrap is, halveer dit die opbrengs.”
Boere wat hooi moet maak kan ook nie in die landerye inkom om te sny nie. “As die hawer/gars? te lank op die lande staan raak die pitte te hard en bly op die land agter. As daar nie gebaal word nie, begin die hooi muf en vrot en dan is dit nutteloos.”
Oes
Die reën belemmer ook die oesproses. “Die boere is sterk aan die oes en is besig met platsny. Maar die groot stropers kan nie in die nat landerye inkom nie – as daai groot masjien vassit, kry jy hom nie uitgetrek nie.”Maar hulle kla nie. “Die bergstrome loop, die ondergrondse water en die damme is vol. Ons hoef vir die volgende paar weke nie te besproei nie, wat ook elektrisiteit en brandstof spaar.
“Die oumense het altyd gesê ‘n vloed maak sy eie skade reg, maar ‘n droogte se skade moet die boer herstel.”
Klein Karoo
Intussen juig boere in die omgewing van Oudtshoorn oor die Kammanassiedam wat vir die eerste keer in vyftien jaar oorloop.
Die dam word bestuur deur die Stompdrift-Kamanassie Watergebruikers-vereniging (SKWGV) wat die water volgens ‘n kwotastelsel in leibeurte vrylaat vir besproeiing op altesaam 10 800ha.langs die Olifantsrivier.
Bronne
Kruger, C (2023) Honderde melkkoeie weens klouprobleme in Suid-Kaap uitgeslag. Landbou.com
Van Niekerk, L. (2023) Dam byna vol in 100ste jaar. Oudtshoorn Courant https://www.oudtshoorncourant.com/News/Article/General/dam-byna-vol-in-100ste-jaar-202310110410