Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 18th August 2025

Nasionale Meatmaster-veiling bevestig ras se groei en gewildheid

By 2 min read
413 words

532404765_1074403428198127_437713408134194758_n

Foto's: Vleissentraal Facebookblad

Die jaarlikse Nasionale Meatmaster ram- en ooiveiling, aangebied op 13 en 14 Augustus 2025 by die Bloemfontein-skougronde, het weereens sy plek as een van die groot hoogtepunte op die veilingskalender bevestig. Hierdie veiling is nie net ‘n belangrike byeenkoms vir Meatmaster-boere en -telers nie, maar ook ‘n ware viering van die ras se prestasies en toenemende groei onder Suid-Afrikaanse kleinvee boere.

Met uitsonderlike pryse wat behaal is vir beide ramme en ooie, het vanjaar se veiling duidelik gewys waarom die Meatmaster een van die mees gesogte vleisrasse in Suid-Afrika geword het.

Chris Potgieter, Meatmaster-boer van Klaargoud Boerdery in die Upington-distrik én pas verkose president van die Meatmaster Telergenootskap, getuig met trots: “Die Meatmaster is ‘n ongelooflike ras om mee te boer – die ras praat eintlik vir homself.”

Die duurste Ram, Lot 55 van Ochre Meatmaster, verkoop vir R82 000 aan Nu Vino (Foto krediet: Farmersweekly).

Die Meatmaster telergenootskap groei jaar op jaar en bestaan tans uit meer as 300 lede. As een van die vinnigste groeiende skaaprasse in die land, is die Meatmaster se aanpasbaarheid en produksievermoë die kern van sy gewildheid.

“Een van die belangrikste eienskappe vir ‘n boer is dat sy diere moet produseer. Ek kan met trots sê die Meatmaster is ‘n produserende ras vir boere en wat uitstekend presteer in die vleisbedryf,” vertel Chris.

Hy is vol vertroue dat die ras sy groei en toenemende aanvraag in die komende jare sal volhou. “Ons sluit vanjaar se Nasionale veiling en ekspo met groot trots af. Vanjaar het ons dit bietjie anders aangepak – die ramveiling is in die aand gehou en die ooiveiling die volgende oggend. Beide was ‘n reuse sukses. Die diere se gehalte was uitstekend, al die diere is verkoop, en die ooie het uitsonderlike pryse behaal.”

Volgens Chris is die sukses van die veiling nog ‘n bewys van die entoesiasme en passie wat binne die Meatmaster-bedryf heers. “Die mense neem deel, hulle is opgewonde, en boer met trots en vreugde met hierdie skape,” sluit hy af.

Die genootskap het reeds groot planne vir 2026 en nooi telers en belangstellendes hartlik uit na die volgende Nasionale Meatmaster veiling en ekspo wat weer in Augustus by die Bloemfontein-skougronde sal plaasvind.

Gemiddelde en hoogste pryse vir ramme:

Gemiddelde en hoogste pryse vir ooie:

Die veiling was aangebied deur Vleissentraal en aanlyn deur SwitfVee. Baie geluk aan elke verkoper asook die kopers met die nuwe toevoeging van die diere.

Die duurste ooi, Lot 49A van Model Meatmasters verkoop vir R 65 000 aan Yield Agri Investments. (Foto krediet: Vleissentraal Facebookblad).

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0