Categories: NuusPublished On: 5th July 2022

NAMPO Kaap 2022: Tye van Verandering

By 4 min read
799 words

NAMPO Bredasdorp

Van 14-17 September 2022 lei alle paaie weer na Bredasdorp vir die jaarlikse NAMPO Kaap Ekspo op Bredasdorp Park.

Besoekers aan NAMPO Kaap 2022 kan onder andere uitsien na:

  • Meer as 500 uitstallers
  • BKB Merino Classic Nasionale Kampioenskappe
  • Nasie in Gesprek besprekings van aktuele onderwerpe
  • Nedbank Flora blommerangskikkings
  • Akkerbouproewe en demonstrasies
  • Elim Fynbos uitstalling
  • NAMPO Kaap Skoonheidsalon
  • Overberg Streeksjeugskou
  • Toyota SA Jong afslaerskompetisie
  • Omnia boereplanne kompetisie
  • Verskeie demonstrasies soos skaapskeer, wolverwerking, taxidermie en vele meer.

Veranderinge op Bredasdorp Park

Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park Direksie is daar heelwat veranderinge aangebring op Bredasdorp Park in die afgelope twee jaar. Nie net is daar 72 addisionele uitstalruimtes en nog 4ha besoekersparkering op die Park ingeruim nie, die ou perdestalle is omskep in die BKB Vee-afdeling waar die BKB Merino Classic en die Overberg Jeugskou sal plaasvind.

Die Water Wise Sentrum waar verskeie metodes van grondlose produksie soos hidroponika en akwaponika gedemonstreer word het ook na ‘n nuwe, groter tuiste op Bredasdorp Park verskuif. Dit is ‘n werkende hidroponiese onderneming en opleidingsfasiliteit in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch.

Die Santam Ouditorium is ook verander in twee aparte lokale. Die Nasie in Gesprek sessies sal op die boonste verdieping aangebied word en die onderste lokaal word aangewend vir ‘n skoonheidsalon.

Die Engen 4×4 baan is ook in 2021 uitgebrei om ‘n ekstreme 4×4 afdeling ook in te sluit. Besoekers sal hier onder die bekwame leiding van Terrain Tamers die nuutste 4×4 voertuie van verskillende fabrikate in aksie kan sien.

Overbergse blomme prag

Besoekers aan NAMPO Kaap staan elke jaar verstom oor die indrukwekkende Nedbank blommerangskikkings uitstallings onder leiding van Marjolijn Malan. Hierdie jaar is geen uitsondering nie, met die tema Netwerk met die Natuur beloof dit om weereens ‘n skouspel van blommeprag te wees.

Vanjaar is daar nog ‘n fees van blomme tydens NAMPO Kaap met die Elim Fynbos uitstalling in die Shell-gebou. Die verskeidenheid en raar spesies van die Elim streek word in die uitstalling op ‘n natuurlike wyse uitgebeeld. Die Elim Opsienienerraad is verantwoordelik vir hierdie uitstalling en die teetuin waar besoekers aan tipiese Overbergse lekkernye kan smul.

Gemeenskapsbetrokkenheid

NAMPO Kaap bied die geleentheid vir plaaslike skole en nie-regerings organisasies om fondse in te samel. Alle kosstalletjies word óf self deur die organisasies bedryf óf privaat ondernemings wat kosstalletjies bedryf moet ‘n gedeelte van hul wins aan so ‘n organisasie afstaan.

Van die eetplekke waar besoekers hul honger en dors sal kan les sluit in:

  • Die Hollard Bistro in die ABSA-gebou word deur Huis Klippedrift bedryf.
  • Die BKB teetuin word deur Suideroord Tehuis bedryf.
  • SRS Kiosk naby die nuwe BKB Vee sentrum word deur Hoërskool Bredasdorp bedryf .
  • Die Elim Opsienersraad bedryf die teetuin in die Shell-gebou.
  • Die Standard Bank Steakhouse word deur Rûens Kollege bedryf .
  • Laerskool De Heide en Zoetendal Akademie is ook nuwe skole wat toetree tot die spyseniering tydens NAMPO Kaap.

Jeug en landbou

NAMPO Kaap glo aan die toekoms van landbou en wil daarom graag meer doen om die jeug te betrek by landbou. NAMPO Kaap nooi graag deelnemers om aan die Overberg Streekjeugskou deel te neem op Saterdag 17 September in die nuwe BKB Vee-afdeling. Leerders met Landbou as ‘n skoolvak en ‘n belangstelling in Landbou as ‘n beroep word uitgenooi om deel te neem aan die NAMPO Kaap Skoleprogram wat in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied word. Die program sluit onder andere vertikale produksiesisteme, akkerbouproewe, diereproduksie, graanbemarking en loopbane in die landbou in.

Vir die dames

Benewens ‘n interessante vroueprogram met Jannie Moolman, Sonja de Beer, Elsabe Albrecht en Rico Summers kan die skoner geslag ook uitsien daarna om van kop tot tone versorg te word in die NAMPO Kaap skoonheidsalon op die grondverdieping van die Santam Ouditorium.

Borge is die ankers

‘n Geleentheid soos NAMPO Kaap kan nie plaasvind sonder die ondersteuning van borge nie. Chrystal van Wyk, Besigheidsbestuurder van die Bredasdorp Park sê hulle is bevoorreg dat borge soos Overberg Agri, BKB, Santam Landbou, Total Energies, ABSA en PlaasMedia weer aan boord is vir NAMPO Kaap 2022. Sy is ook baie opgewonde oor nuwe borgskappe van onder andere Toyota SA, Standard Bank, Shell, SAB IN-Bev en die Wes-Kaap Departement van Landbou.

Volgens Toit Wessels, Assistent Bestuurder, Gaan SA Bemarking, kry 2019 uitstallers voorkeur by die toekenning van uitstalruimtes. Daar is reeds ’n waglys van nuwe uitstallers wat slegs geakkommodeer kan word met kansellasies.

Sien jou daar!
Toegangskaartjies is slegs aanlyn beskikbaar vanaf 1 Julie 2022 by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag, 14 tot Vrydag, 17 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 17 September van 08:00 – 14:00. Besoekers kan gerus die Kaap Agulhas Toerismekantoor by 028 424 2584 / 082 896 2225 kontak of besoek www.overberg-info.co.za vir verblyf.

Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2022, besoek www.expo.org.za of kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 / 072 905 5111 of stuur ‘n e-pos aan admin@expo.org.za.

Bron: Graan SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0