‘n Nuwe era vir die landbousektor in 2025
John Hudson, Hoof van Landbou by Nedbank Kommersiële Banksake, en Wandile Sihlobo, Hoofekonoom by Agricultural Business Chamber of South Africa (Agbiz).
2024 was ‘n jaar van gemengde welvaart vir die landbousektor. Die midsomer-El Niño het droogte veroorsaak wat somergewasse negatief beïnvloed het, terwyl gebeure soos voortslepende dieresiektes, die skynbaar eindelose logistieke krisis, hoë rentekoerse en onsekerheid oor die nasionale regering, swaar op die sektor geweeg het. Die gevolglike moedeloosheid kon waargeneem word in die Agbiz/IDC Agribesigheidsvertroue-indeks (ABI) vir die tweede kwartaal van 2024, wat tot die laagste vlak in 15 jaar gedaal het.
Hierdie uitdagings – asook ‘n verwagte verdere inkrimping in die sektor (wat ook in die vorige jaar ‘n inkrimping ervaar het) – het volgens data van die Banking Association of SA (BASA) vir Junie 2023 tot Junie 2024 tot ‘n gedempte bankprestasie gelei. ‘n Tydperk van konsolidasie was voor die hand liggend, met blootstelling aan die sektor wat sywaarts beweeg het. Die vraag na krediet het afgeneem, maar deposito’s het ‘n absolute hoogtepunt bereik, wat daarop dui dat boere versigtig was en hul kapitaalbesteding oor hierdie tydperk vertraag het.
Landbou weer op koers
Sentiment het egter meer onlangs begin verbeter. Die ACI vir die derde kwartaal van 2024 – wat uitgereik is na afloop van die vreedsame nasionale verkiesing wat ‘n regering van nasionale eenheid (RNE) tot gevolg gehad het – het met 10 punte tot 48 gestyg. Alhoewel dit onder die neutrale 50-punt-kerf is, dui dit op ‘n groeiende gevoel van optimisme, selfs terwyl baie van die uitdagings wat vroeër in die jaar ervaar is, onveranderd gebly het. Die RNE het nuwe energie na die sektor gebring en belangriker – daar is ‘n verbintenis tot die implementering van die Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan (LLMP).
Die weervooruitsigte vir 2025 is positief, met ‘n La Niña-stelsel wat voorspel word, en – terwyl trekkerverkope afgeneem het ná rekordverkope oor die afgelope 2 jaar – is saadverkope bemoedigend, wat dui op vertroue in toekomsvooruitsigte.
Dis belangrik dat die regering aanhou om die diversifisering van uitvoermarkte vir Suid-Afrikaanse landbouproduksie te prioritiseer. Die Suid-Afrikaanse landbousektor steun swaar op uitvoere, aangesien die helfte (in waarde) van alles wat op plase geproduseer word, uitgevoer word. Ons grootste uitvoermarkte is Afrika (40%), die Midde-Ooste en Asië (23%), die EU (19%) en die VK (7%). Terwyl ons uitvoermarkte reeds uiteenlopend is, sal landbouproduksie waarskynlik in die nabye toekoms uitgebrei word, hoofsaaklik weens voorheen onderbenutte grond. Daarom is dit noodsaaklik dat die uitgebreide BRICS-lidlande toenemend as landbou-uitvoermarkte beskou word – veral Sjina, Indië, Saudi-Arabië en Egipte.
Suid-Afrikaanse uitvoer moet tradisionele markte laat groei en nuwe uitvoermarkte inskakel
Tans is die dryfkrag agter uitvoere veral dringender te midde van toenemende geopolitieke spanning. Kyk byvoorbeeld na die onsekerheid oor die standpunt van die nuwe Amerikaanse administrasie, oor Amerikaanse invoertariewe, die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) – en veranderings aan omgewingsregulasies, veral in die EU en die VK. Gelukkig is daar onlangs ‘n memorandum van verstandhouding met Sjina onderteken, wat ‘n beduidende stap in die regte rigting is om landbouhandelsbetrekkinge te versterk. Gesprekke word ook in sleutelstreke (insluitend die VSA, Indië en Afrika) gevoer, met die oog daarop om Suid-Afrika se landbou-uitvoergeleenthede te verbeter.
Daar is, ten spyte van die konstante toename in uitvoervolumes (wat vanjaar kan afneem as gevolg van verminderde produksie wat deur die somerdroogte veroorsaak word) 2 faktore wat ‘n uitdaging vir Suid-Afrikaanse goedere bied: logistiek en ‘n toenemende fokus op volhoubaarheid. Ten spyte van ons wêreldklasproduksie, bly logistiek ons achilleshiel. Dit maak ons produkte minder mededingend in ‘n tyd wat ‘n toenemende globale fokus op volhoubaarheid die potensiaal het om ons te kniehalter. Byvoorbeeld, die EU se koolstofgrensaanpassingsmeganisme (wat waarskynlik teen 2030 vir landbouprodukte in werking sal tree) kan daartoe lei dat ’n koolstofbelasting op produkte uit Suid-Afrika gehef word. Dit sal ‘n rampspoedige uitwerking op byvoorbeeld die sitrusbedryf hê, wat die meerderheid van sy inkomste aan uitvoere na hoofsaaklik die EU en VK te danke het.
Nie een van hierdie uitdagings kan oornag aangespreek word nie, so produsente moet beplan en voorberei terwyl die regering nuwe uitvoermarkte soek. Dit is egter belangrik dat produsente nie volhoubaarheid as ‘n bysaak beskou nie. Hulle moet dit eerder sien as ’n mededingende voordeel en ’n manier om klimaatrisiko (en sakerisiko, gegewe die klem op volhoubaarheid in baie uitvoermarkte) te versag. Die installering van hernubare energie lei byvoorbeeld nie net tot ‘n betroubare voorsiening van energie nie, maar stel ook die koste vas, wat die risiko aanspreek terwyl ‘n belangrike insetkoste vasgestel of selfs verminder word.
‘n Nuwe plan vir grondhervorming
’n Verdere opwindende ontwikkeling in die landbousektor is die regverdige verdeling van grond aan voorheen benadeelde gemeenskappe. Dit het ’n geruime tyd geneem vir die legkaartstukke om in plek te val, maar ons het nou die punt bereik waar die gemengde finansieringskema in werking gestel kan word en sleutelvennootskappe – soos Nedbank se samewerking met PALS – vrugte afwerp.
Maar nog belangriker is dat daar nou – ná onduidelikhede (wat veroorsaak is deur die debat rondom grondonteiening sonder vergoeding) wat beleggingspersepsies in die sektor negatief beïnvloed het – druk van die regering is om eiendomsreg te versterk, wat dus maak dat die kwessie van titelaktes nie meer ‘n bedreiging is nie. Voortaan sal die fokus eerder wees op waar grond vandaan sal kom – en om die regte begunstigdes vir die grond te kies.
Die regering besit ongeveer 2,4 miljoen hektaar wat aan toepaslike geselekteerde begunstigdes beskikbaar gestel gaan word vir kommersiële produksie. Dit sal ‘n groot stap wees om die tweeledigheid uit te skakel wat Suid-Afrikaanse landbou histories belas het. Dis ook belangrik dat die kommersiële produksie van hierdie talle hektare grond produksie en broodnodige werkskepping in Suid-Afrika se landelike gebiede ’n hupstoot moet gee.
In die algemeen, terwyl verwagtings vir 2025 gunstig is, bly landbou ‘n sikliese spel wat vir talle eksterne kragte kwesbaar is. Met beperkte staatsondersteuning het Suid-Afrikaanse produsente – en die hele landbouwaardeketting – belanghebbendes soos banke nodig om betrokke te raak. Nedbank sal ons in die komende jaar daarop toespits om ons verhoudings met ons kliënte te versterk en die risikodrywers van hul agribesighede beter te verstaan, sodat ons hulle kan help om die afswaaie te navigeer, hulle deur die siklus kan ondersteun en saam met hulle werk om hul besighede te help groei. Die landbousektor bly vir die Suid-Afrikaanse ekonomie uiters waardevol. Dit help om werkskepping en voedselsekerheid te bevorder. Daarom is belegging in die sektor noodsaaklik.