'n Holsteinverwysingskudde vir Suid-Afrika
Die wêreld van moderne genetika is nou maar eenmaal asemrowend. Die idee dat die unieke eienskappe van enige organisme vergestalt word in die derduisende gene of kombinasies van gene wat in sy DNS voorkom, was ’n paar dekades gelede ondenkbaar.
Wat nog meer asemrowend en dalk bietjie skrikwekkend is, is dat organismes soos mense, plante en diere se karaktertrekke vandag in ’n laboratorium gelees kan word om uiters akkurate voorspellings oor ’n bepaalde organisme te maak. Hierdie proses staan bekend as genotipering en het natuurlik ’n rewolusionêre omwenteling in die landbou veroorsaak.
Dit is veral tydens teling en seleksie in die melkbedryf waar boere nou jare kan wen deur bloot ’n genetiese monster soos die wortels van die sterthare van ’n jong bul of verskalf in te stuur en binne enkele weke ’n hele genetiese profiel te ontvang van hoe die dier aangewend kan word in teling en of dit die moeite werd is om die dier vir stoet te gebruik. Die koste van genotipering was aanvanklik duur en tydrowend, maar soos met baie ander tegnologieë, het dit die afgelope tyd al hoe meer bekostigbaar geraak om genetiese profiele van teeldiere te bekom.
Lande in Europa en Noord-Amerika het die gulde geleentheid raakgesien om so veel as moontlik van hulle nasionale teeldiere wat reeds betroubare genetiese waardes (teelwaardes) op grond van ‘n meting verkry het, te genotipeer om ’n nasionale verwysingsbevolking op te bou. Nou is dit maklik om nuwe indiwidue se genotipiese data met die verwysingsbevolking te vergelyk met behulp van die ‘sleutels’ wat genetici deur middel van algoritmes ontwikkel het. Hoe meer diere in die verwysingsbevolking is, hoe akkurater kan die ‘sleutels’ natuurlik voorspellings oor nuwe diere se prestasie maak.
Die vraag kom dadelik by ’n Suid-Afrikaanse boer op of dit nie moontlik is om ’n Suid-Afrikaanse verwysingskudde op te bou nie. “Dit is dalk moontlik vir Holsteins en Jerseys, maar dit gaan nog ’n tydjie neem vir ons kleiner melkrasse om voldoende getalle vir ’n verwysingsbevolking te kry,” sê dr Bernice Mostert van Stamboek. “Ons het reeds deur middel van nasionale en internasionale samewerkingsooreenkomste die genetiese profiele van ongeveer 400 plaaslike en internasionale Holsteinbulle met gemete dogters in Suid-Afrika wat gebruik kan word. As ’n mens gaan kyk na die aantal dogters wat hulle gelewer het, teenoor die aantal dogters wat oorsese lande se nasionale bulle gelewer het, is dit egter min.
“’n Goeie voorbeeld is die bekende Holsteinbul, Nokia, wat in Suid-Afrika geteel is en verlede jaar dood is. Sy ma is in Suid-Afrika gebore en sy pa in Amerika en hy het in Suid-Afrika 1 494 dogters in 102 kuddes gelewer wat goed vergelyk met oorsese gemiddeldes. Daar is tans slegs 869 Suid-Afrikaansgeteelde en 933 ooresese Holsteinbulle wat in meer as 10 kuddes in Suid-Afrika gebruik is. Indien die genetiese profiele van hierdie bulle verkry word, behoort die verwysingspopulasie vir die SA Holsteinras groot genoeg te wees vir sinvolle voorspellings van Direkte Genomiese Waardes (DGVs). Dit is egter belangrik dat die diere van ‘n verwysingsbevolking uit verskillende familielyne moet kom en dat die hele spektrum van genetiese variasie gedek word. Dit moet dus meerder- en minderwaardige diere se genetiese informasie wees wat ingesluit word”, sê sy.
SA Stamboek het egter al lankal besef dat dit nog ‘n tydjie gaan duur voor die Suid-Afrikaanse verwysingspopulasies in plek is en aan die werk gespring om deur die Logix Genomiese Diens ‘n alternatief aan die Suid-Afrikaanse telers te stel, waar hulle genetiese monsters vir boere oorsee stuur en die resultate omskakel na die Suid-Afrikaanse skaal en versoen met die konvensionele BLUP-teelwaardes wat boere al baie jare gebruik, om meer betroubare teelwaardes aan die bedryf beskikbaar te stel. Hierdie is ‘n internasionaal erkende prosedure wat deur lande waarvan die verwysingspopulasies nog te klein is, toegepas word. SA Stamboek kan dus vir boere, KI-maatskappye en telersgenootskappe direkte genomiese waardes (DGV’s) of genomies verrykte teelwaarde-voorspellings (GEBV’s) op die Suid-Afrikaanse basis beskikbaar stel, wat dan met groter betroubaarheid aangewend kan word om ingeligte teelbesluite te neem. Die genetiese profiele van die diere wat terugkom, word verder ook op SA Stamboek se omvattende databasis geberg om later in Suid-Afrika se eie verwysingspopulasie ingesluit te word.

Dr Linky Makgahlela (agter) by Olivia Mapholi, ’n navorser wat druk besig is in die LNR se genetika-laboratorium by Irene.
Die Landbounavorsingsraad het intussen ‘n inisiatief begin om Suid-Afrika se eie nasionale verwysingskudde op te bou, want om die genetiese profiele van bulle wat in ons klimaat presteer te gebruik is net soveel beter en akkurater as dié van oorsee, omdat sekere gene aan- of afgeskakel kan word wanneer dit van klimaat verander.
Dr Linky Makgahlela het haar doktorsgraad in die ontwikkeling van die genomiese modelle vir melkbeesrasse aan die universiteit van Helsinki in Finland verwerf. Sy het in Maart vanjaar teruggekom en is aangestel as die LNR se projekleier vir hierdie ontsaglike groot taak om Suid-Afrikaanse melkbeeste se genetiese materiaal te versamel en dit in die LNR se gevorderde laboratoriums by Onderstepoort te verwerk om ’n verwysingskudde op te bou.
“Finland se verwysingskudde is tans 12 000 groot en hulle moet deurlopend die nuwe diere wat bykom genotipeer. “Suid-Afrika het tans bittermin plaaslike Holsteinbulle wat as verwysing gebruik kan word. Dit is dus ’n deurlopende taak en ons het ’n reusagtige agterstand om in te haal,” sê sy. Die LNR is tans ernstig besig om nog befondsing vir hierdie groot taak te vind.