Mooi bly darem mooi! Mercedes-Benz X-Class bakkie
Bakkiery sal nooit weer dieselfde wees nie. Met Mercedes-Benz se X-Class wat pas die mededingende bakkiemark van Suid-Afrika betree het, is nuwe standaarde van prestasie, voorkoms en gerief bereik. Doep du Plessis van Shirita Boerdery tussen Heidelberg en Villiers sê hy was lankal lus vir ’n verandering, maar daar was net niks wat hom gaande genoeg gemaak het om wel te verander nie. Mercedes-Benz se X-Class het dit reggekry.
“Hy ry lekker, ek weet hy is betroubaar en ek voel veilig in die bakkie,” vertel Doep. Dit is ook nie sy enigste Mercedes op die werf nie, daar is ook ’n motorkar en ’n trok wat die bekende Duitse handelsnaam dra.
“Ek stoet nou nie meer nie, maar as ek ’n bul wil aanry of ander vee wil wegry, het ek ’n betroubare vragmotor wat ook my diere in gerief laat ry,” vertel hy. Hy sê dit is nie om dowe neuter dat een van die grootste voerkrale in die land naby hom Mercedes-trokke gebruik nie.
Doep sê hy glo Mercedes-Benz stel net die beste mense aan en die diens van die plaaslike handelaar is net so uitstekend soos die voertuie self. “Ek het nou nog nie nodig gehad om enige herstelwerk te laat doen nie, want die voertuie breek nie en hulle vertel jou wanneer dit nodig is om in te gaan vir ’n versiening.”
Die bakkie se padhouvermoë is goed op die oop pad, volgens Doep, maar hy het nog nie nodig gehad om sy vierwielvernuf te probeer nie. “Ek weet as dit nodig is, sal ek die vermoë hê om deur die modder of uit die moeilikheid uit te ry.” Hy meen daar is boere wat graag ’n 3,5 liter model sal wil hê, maar die 2,5 se krag is “glad nie onaardig nie”.
Al die bykomende en blink goed was vir hom ’n bietjie duur, maar hy wou hê dat die bakkie vir hom mooi moet lyk. Sy raad aan boere is om miskien maar rustig te wees met al die sensors wat om die bakkie waarsku as daar iets naby is, want dit is miskien baie nuttig in ’n parkeerterrein in die stad, maar grashalms is nie so ’n groot gevaar nie!
Doep sê mense waarsku gewoonlik dat enige nuwe model van ’n voertuig eers deur sy tandekrystadium moet gaan, want daar is altyd ietsie wat pla, soos die kajuit wat stof trek, of so iets.
“Die X-Class is goed getoets, het klaar al sy tande, daar is niks fout nie,” sê hy.
NAMPO gons oor Mercedes-Benz
By NAMPO het dit behoorlik gegons oor die X-Class en die ander voertuie op die Mercedes-Benz-standplaas. Bennie van Rensburg, onafhanklike consultant en produkspesialis, sê hy glo dit was die besigste standplaas op die terrein, want dit was nie ’n oomblik stil nie.
Die wat nie kon koop nie, wou net kyk, en die wat wou koop, het weer en weer kom kyk! Bennie sê boere kan gerus kennis neem van die eienskappe van die X-Class wat hom nuttig sal maak op die plaas terwyl hy steeds spoggerig sal vertoon.
Die bakkie het ’n allemintige 221 mm grondvryhoogte, 600 mm waterdiepteryvermoë en ’n 30/26 grade inklim/vertrekhoekvermoë. Binne die kajuit is daar ’n goeie klank-, kommunikasie- en inligtingstelsel wat
alles duidelik sigbaar is op ’n lekker groot kleurskerm, met die beheerarm gerieflik tussen die sitplekke, net soos ’n goeie trekker se armleuningbeheer. Oorskakeling na vierwielaandrywing geskied met die druk van ’n knoppie. Outomatiese en handratmodelle is beskikbaar. Lees gerus in ProAgri 218 meer oor die spesifikasies.
Met meer as 50 handelaars landwyd en ook in die res van Suidelike Afrika kan ’n boer maar net dorp toe ry om te gaan voel wat maak die X-Class anders!