Moenie hierdie 20ste Bonsmaraveiling misloop nie: Poggenpoels bied spogbeeste

poggenpoel
As daar een stoet is wat met trots op dekades se harde werk en beproefde genetika kan terugkyk, is dit Poggenpoel Molopo Bonsmara. Dié stoet staan sterk op beproefde bloedlyne wat hulleself al in die bedryf bewys het. Met van die oudste Bonsmara-genetika in die land as grondslag, boer die Poggenpoel-familie met diere wat nie net mooi op papier lyk nie, maar op die veld hulle sout werd is.
Hulle fokus op veld-aangepaste diere met beproefde BBM-bloedlyne, soos BBM 20-101 en BBM 18-240, wat bekend is vir hulle uitstekende speengewigte, goeie konformasie en aanpasbaarheid. Die stoet se teelbeleid beklemtoon koeidoeltreffendheid, met ‘n klem op koeie wat stiptelik jaarliks kalf en genoegsame melk vir hulle kalwers voorsien.
Kobus Poggenpoel senior, die man agter die ontstaan van Poggenpoel Molopo Bonsmaras, het nie oornag by sy eindbestemming beland nie. Sy pad na sukses het in 1976 begin toe hy ná sy studies in ‘n landbougraad besluit het om sy hand aan boerdery te waag.
“Ek het vir twintig jaar in die Kalahari geboer,” vertel hy rustig. “Daarna het ons in die Setlagole-omgewing kom vastrapplek kry, waar ons nou al 25 jaar lank stoet-Bonsmaras teel.”
’n Familiesaak met diep wortels
Vir die Poggenpoels is boerdery nie net ’n beroep nie – dit is ’n familie-erfenis wat van geslag tot geslag oorgedra word. Dit is nie net Kobus sr wat hand aan die ploeg slaan nie – sy twee seuns, Phillip en Kobus jr, is voluit deel van die dag-tot-dag bestuur van die boerdery. Die drie vorm ‘n sterk span wat nie net hulle merk laat in die beesbedryf nie, maar ook geslagte se kennis en boerderyliefde saamsnoer in ’n stoet wat reeds bekend is vir van die oudste en mees gesogte Bonsmara-genetika in Suid-Afrika.
“Dit is vir ons ’n groot voorreg om al meer as twintig jaar saam met ons pa op die plaas te werk,” vertel Phillip. “Dit is nie iets wat ons as vanselfsprekend aanvaar nie – om daagliks van hom te leer en saam besluite te neem, is ’n seën.”
Hulle jaarlikse veiling bewys duidelik dat hulle ernstig is oor gehalte: “Ons mikpunt is om 100 bulle aan te bied, saam met 80 kommersiële vroulike diere en sowat 15 uitgesoektevroulike stoetdiere,” sê Kobus sr.
“Ons poog om veldaangepaste diere aan die mark en aan ons kopers bekend te stel,” sê Phillip.
20 jaar se harde werk loop uit op ‘n mylpaal-veiling
Met die 20ste produksieveiling wat voorlê, staan die Poggenpoels nederig en dankbaar voor ’n reuse mylpaal. Die veiling vind plaas by die Stella-veilingskompleks en word aangebied deur Noord-Kaap Lewendehawe.
“Ek en my twee seuns, nooi almal hartlik uit om die veiling saam met ons by te woon,” sê Kobus sr. “Almal is welkom – die diere sal ook die dag voor die veiling by die veilingskrale beskikbaar wees vir voorafbesigtiging.”
Phillip sluit aan by sy pa se woorde: “Om voor ons 20ste produksieveiling te staan, is werklik vir ons ’n groot mylpaal – net moontlik deur die Here se genade. Ons het vanjaar ’n besonderse groep bulle op aanbod. Die gehalte is uitsonderlik, en die vroulike diere is met die hand uitgesoek – diere wat eintlik seermaak om te verkoop, maar wat ons met trots in die mark bekend stel.”
Met drie geslagte se kennis, harde werk en geloof agter elke lot op aanbod, beloof dié veiling om ‘n hoogtepunt op die veilingkalender te wees – en ’n geleentheid wat geen beesboer wil misloop nie.