Min tyd en te veel hooi op die vurk? Novacat het die antwoord
Skoon gesnyde hawer in netjiese windrye is al wat agterbly waar die Pottinger Novacat 3507T deurbeweeg het, sê Matthian Viljoen van Villiersdorp.
Dit is die mooiste, mooiste maand van die jaar en in die Villiersdorpomgewing in die Wes-Kaap glinster die wit vrugtebloeisels tussen die lande vol geil groenvoer. Dit is die einde van die reënseisoen, maar die weer is onvoorspelbaar en die sonskyn- en reëndae speel woer-woer met boere se beplanning.
“Ons is gedruk vir tyd,” vertel Matthian Viljoen, “want ons kry gereeld reën hier wanneer ons hooi moet sny.” Matthian maak nie net voer op sy plaas nie, maar doen ook kontrakwerk vir ’n hele paar ander boere in die omgewing. Werkspoed is dus vir hom baie belangrik en dit is waarom Pöttinger se lekker groot Novacat 3507T sy aandag getrek het.
Hy sê die sleepmodel is die grootste wat hulle nog in die land gehad het en hy kan teen hoë spoed werk. “As die terrein dit toelaat, kan jy maklik tussen 6 en 8 kilometer per uur werk.”
Die masjien het 8 tolle met messies en sny 3,4 meter breed. Jy kan hom hidroulies vanuit die kajuit stuur om agter of aan enige kant langs die trekker te loop. Klosse hooi en lusern wat dink hulle kan wegkruip in hoekies of op die punte van lang maer landjies, kan maar vergeet – tussen ’n wakker operateur en die ratse Novacat het hulle geen kans om staande te bly nie, want die snyer kan tot in ’n hoek ingestuur word.
“Ek kan hom op ’n sentimeter uit die trekker se kajuit beheer; klein draaisirkels is geen probleem nie,” sê Matthian.
Die 3507T is ook toegerus met ’n rollerkneuser om die hawerhooi of lusern te kneus sodat dit gouer droog kan word. Die kneuser kan ontkoppel of heeltemal afgehaal word as jy nie met hom wil werk nie.
Matthian sê die ander belangrike ding wat sy aandag getrek het, is die gemak waarmee jy die messies kan ruil. In sy ingeboude gereedskapkissie is daar ’n spesiale hefboom wat jy tussen die skywe van die tolle indruk en dan draai sodat hulle net ver genoeg van mekaar af beweeg sodat die lem met die hand afgedruk en uitgetrek kan word.
En as die lem se een kant bietjie stomp raak, kan jy hom eers net omdraai sodat hy met die ander kant sny. Kontoere en klipperigheid is ook geen probleem vir die snyer nie. Matthian sê hy het ’n drywende bed (float) wat met vere werk. “Sodra hy iets slaan, lig hy self die tolle op en dan het hy ook sleë voor sodat hy oplig en jy nie die messies beskadig nie.” Na die hindernis sak hy dadelik weer af om flink verder te sny.
Sny is immers sy werk en Matthian sê hy deins nie ’n tree terug voor die moeilikste uitdaging nie. “Ons sny gewoonlik lusern en hawerhooi in hierdie omgewing, maar hy kan enige gewas sny, soos Smutsvingergras het ek al net so maklik met hom gesny. Die masjien het ’n ongelooflike werkvermoë en hy sny enige gras, of dit taai of nat of droog is, hy sny.”
Dit gaan ook nie net oor sny nie, maar oor skoon en netjiese snywerk. Veral vir die vinnige hergroei van lusern, moet die snyer nie die stingel uitpluis nie, maar glad afsny, sê Matthian. Met die Novacat is elke snit ’n meesterstuk, selfs teen hoë spoed. Hooi kan met gemak teen tot 14 km per uur gesny word. Die skoon snitte is te danke aan die feit dat die lemme baie naby oor die snyerbed beweeg. ’n Veer hou die snylem in plek en sou die lem kontak maak met die bed, is daar ’n vervangbare wolfram (tungsten) insetsel wat sorg dat die lem breek, maar die res van die masjien beskerm word.
Onderhoud is ook ’n plesier vir ’n haastige man. Die snyer het altesaam 14 ghriespunte wat net elke 100 tot 150 uur ’n bietjie aandag nodig het, maar hy het ook ’n oliepot op wat self vir die smering van die rollers sorg. Matthian sê elke keer as jy hom oplig, stoot hy olie deur na die rollers se laers toe.
Padvervoer is ondanks die lang balk geen probleem nie, want jy kan hom stuur dat hy in die spore van die trekker loop.
Matthian wys ook op die stewige konstruksie van die balk en die hele masjien. “Dit is net meer solied en stewiger as sy mededingers,” sê hy.
Voeg daarby Valtrac en sy handelaars se legendariese dienslewering en dan kan daar geen keer aan snywerk wees nie. In die Wes-Kaap sorg Human Landboudienste vir die Valtrac-boere. Matthian sê: “Ek het net verlede week nuwe messies bestel en binne ’n dag was dit hier.”