Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 7th November 2023

Mielies oorplant of nie: Wat sê 3 jaar se data?

Maize

  • Meerjarige data help enige produsent om meer ingeligte besluite te neem wat sy boerdery meer doeltreffend maak.
  • Belangrike faktore om in ag te neem is relatiewe opbrengspotensiaal van huidige stand teenoor oorplant teen ՚n hoër stand, asook die koste verbonde aan oorplant.
  • Probeer om emosies buite rekening te laat en bepaal die randwaarde-voordeel of –verlies in jou besluitneming.
  • Wees veral versigtig aan die einde van die seisoen vir oorplant, omdat daar moontlik nog tyd oor is om oor te plant.

Hierdie artikel is ՚n samevatting van die afgelope drie seisoene se proefdata op dieselfde stande, perseel, kultivars en praktyke in ՚n poging om die antwoord op oorplant van mielies beter te verstaan en ingeligte besluite te neem indien jy met daardie besluit op ’n spesifieke land gekonfronteer word. Oorplant is iets wat geen boer in enige gegewe seisoen wil doen nie, maar soms gebeur onvoorsiene dinge wat daardie besluit oor ՚n boer se pad laat kom.

Vrae wat jaarliks gevra word

“Ek het 50 000 p/ha geplant, maar nou is daar net 40 000 of 35 000 p/ ha. Moet ek oorplant of nie? Wat gaan my moontlike verlies wees as ek nie oorplant nie?”

“Ek het 50 000 p/ha geplant, maar nou is daar net 40 000 of 35 000 p/ha. Dit is nou reeds 1 Desember. Moet ek oorplant of nie? Wat gaan my moontlike verlies wees as ek nie oorplant nie?”

Metode

  • Twee mieliekultivars – een enkelkoppig (P1513) en een meerkoppig, (P1975) – is oor vier plantdatums, van vroeg Oktober, elke twee weke uitmekaar geplant.
  • By elke plantdatum is ՚n stand van 55 000 pl/ha geplant en later uitgedun tot op die bepaalde stand vir daardie betrokke plantdatum.
  • Hoofstande wat belangrik was vir metings, was: 55 000, 45 000, 40 000 en 35 000 pl/ha.
  • Vanaf elke hoofstand is daar dan by elke plantdatum uitgedun na 80%, 70% en 60% van daardie betrokke stand en plantdatum.
  • Die opbrengs is daarna by elke behandeling vir elke stand bepaal.
  • Hierdie proef en uitleg is presies gedupliseer en herhaal in jaar 2 en jaar 3.

Doel met die proef

Buiten die feit dat die data ՚n boer behulpsaam moet wees om te bepaal of dit die kool die sous werd sou wees om oor te plant, kan ons ook die volgende metings uit die data neem:

  • Plantdatum se effek op opbrengs (meerjarige proef)
  • Stand-effek op opbrengs by enkelen meerkoppige kultivars
  • Stand en plantdatum se effek op opbrengs by enkel- en meerkoppige kultivars
  • Opbrengsverlies as gevolg van standverlies

Resultate: Gemiddeld van die afgelope 3 seisoene

Tabel 1: Opbrengs van albei kultivars by elke plantdatum en alle stande
gemeet oor 3 jaar.

In Tabel 1 kan al die opbrengste van elke kultivar by elke plantdatum en stand oor die afgelope 3 seisoene gesien word. P1513 se beste opbrengs was op 55 000 pl/ha op die 27ste Oktober plantdatum (11,76 t/ha). P1975 se beste opbrengs was op die 27ste Oktober op 55 000 pl/ha (15,14 t/ha). P1975 het deurgaans beter presteer op alle stande en plantdatums, hoofsaaklik omdat P1513 oor die afgelope 3 seisoene baie meer noordelike blaarskroei gekry het.

Tabel 2: Die gemiddelde van die optimale opbrengs oor 4 plantdatums vir beide kultivars in die proef oor die afgelope 3 seisoene.

Tabel 2 gee ՚n oorsig van hoe die twee kultivars oor die verskillende plantdatums en stande presteer het. Albei kultivars het die beste resultate op 55 000 pl/ha gelewer en daarna het die opbrengste stelselmatig afgeplat tot op die laagste stand van 21 000 pl/ha. Na die eerste seisoen was dit interessant om te sien dat die enkelkoppige kultivar (P1513) minder van die maksimum opbrengs op 55 000 pl/ha afgewyk het op laer stande. Die logiese verwagting sou eintlik gewees het dat die meerkoppige kultivar (P1975) meer sou kompenseer op laer stande en dat die afwyking daarom op laer stande nie so groot sou verskil van die maksimum op 55 000 pl/ha nie.

Dit was presies dieselfde in jaar 2 en jaar 3 van die proef en in Tabel 2 wat die gemiddelde syfers van al drie jare aantoon, kan gesien word dat van 28 000 tot 21 000 wys die data dat die meerkoppige baster slegter daaraan toe is as daar ‘n standverlies tot op daardie vlak voorkom. Alhoewel P1975 steeds meer t/ha lewer op stande tussen 28 000 tot 21 000, is die persentasie verskil vanaf die maksimum opbrengs meer op P1975 as P1513.

Om die data wat uit die proef verkry is net meer prakties te maak, gaan dit verder verduidelik word in Tabel 3. Tabel 3 verduidelik die uitkoms van die proef baie eenvoudig. Byvoorbeeld, kyk op Tabel 3 na die waarde by die blou pyl. Op 2 Desember is daar 76% van die opbrengs gestroop met 55 000 pl/ha. Vergelyk dit met die 100% wat jy op die 27ste Oktober sou gestroop het met hierdie kultivar op dieselfde stand.

Tabel 3: Persentasie afwyking vanaf die maksimum (100%) by verskillende stande en plantdatums oor 3 seisoene.

Tabel 4 sit meer vleis om die been en kyk na alle stande wat ons oor die afgelope 3 seisoene in die proef gemeet het. Albei kultivars se data word hier in een tabel saamgevoeg.

Tabel 4: Persentasie afwyking vanaf die maksimum (100%) by alle
stande en plantdatums oor die afgelope 3 seisoene.

Voorbeeld

Boer plant op 13 Oktober @ 45 000 pl/ha. Hy realiseer net 35 000 pl/ha en besluit om op 17 November oor te plant, weer @ 45 000 pl/ha. Volg die blou pyltjies in die voorstelling (in Tabel 4).

  • Boer sou potensieel 86% van ‘n vol oes gestroop het met 45 000 pl/ ha.
  • Op 35 000 pl/ha op dieselfde plantdatum het hy 83% van die maksimum potensiaal oor.
  • Met die oorplant op 17 November, weer teen 45 0000 pl/ha het hy 84% van die maksimum potensiaal.
  • 83% van die maksimum potensiaal met 35 000 pl/ha stand teenoor 84% van die maksimum potensiaal met 45 000 pl/ha.
  • Hy het dus eerstens geld verloor deur in die eerste plek nie ՚n vol stand te realiseer nie.
  • Hy sou verder net ՚n 1% voordeel geniet om weer 4 weke later oor te plant – is dit die moeite werd?

‘n Dieper kyk na die data

Tabel 5: Persentasie verskil in opbrengs tussen spesifieke stande oor
3 seisoene.

In Tabel 5 is daar meer spesifiek na stande gekyk wat dit amper voor die hand liggend maak om ՚n oorplant te oorweeg. Die verskil in opbrengs is hier as ՚n persentasie uitgedruk en 55k is met 35k, 25k en 21k vergelyk. Die verskil tussen die stand met die beste opbrengs (55k) en ‘n stand waar jy dit ernstig gaan oorweeg om oor te plant, raak op die oog af kleiner, soos wat dit later in die seisoen raak.

Uit die bostaande tabel kan jy sien dat die tendens oor tyd neig na ‘n kleiner opbrengsverskil as jou stand nie voldoende was nie. Wat dit beteken is dat jy minder rede het om ‘n oorplant te oorweeg, veral as die seisoen reeds in Desember inbeweeg het.

Kyk byvoorbeeld na die driejaardata in Tabel 5: Vroeg in die seisoen is die verskil tussen 55k en 35k rondom 17%, maar gaan jy na ‘n Desemberplantdatum, raak die verskil net 8%. Dieselfde neiging is sigbaar by die verskil tussen 55k en 25k. Vroeg is die verskil rondom 36%, maar in Desember daal dit na 21%.

Pioneer se oorplanttoep vir vinnige verwysing

Intussen het Pioneer ՚n baie nuttige oorplanttoep ontwikkel wat vir vinnige verwysing gebruik kan word om jou behulpsaam te wees as jy voor die keuse te staan kom om ‘n betrokke land oor te plant. Hierdie toep werk tans net vir die oostelike produksiegebiede aangesien die proewe waaruit die data versamel is om die model te ontwikkel net in die ooste van die land geplant was. Hier is dit nou vir ‘n gebruiker baie maklik om net die verskillende oop velde te kliek en die plantinligting, plantdatums en stande in te vul en dadelik die antwoord te kry om moontlik die ongemaklike besluit van ‘n oorplant vir jou makliker te maak. In Figuur 1 hieronder kan die funksies van hierdie toepassing gesien word. In Figuur 2 kan jy die QR-kode skandeer om die toep af te laai.

Figuur 1: Voorstelling van hoe die toep lyk.

Samevatting

Oorplant of nie-oorplant gaan altyd ՚n toepaslike punt in enige seisoen wees. Daar is seisoene waar dit meer op die voorgrond tree, maar met hierdie navorsing in Suid-Afrika probeer ons die weg vir ons klante baan om meer ingeligte besluite op ons kultivar pakket te maak. Hierdie proef is meerjarig herhaal om ՚n goeie gemiddelde antwoord te kry. Na jaar een was die gevoel dat jy meeste van die tyd nie moet oorplant nie. In die gevalle waar die data wel aangetoon het dat daar ՚n opbrengsverhoging moontlik was met ՚n oorplant, sou die koste-implikasie in baie gevalle die skaal weer gelyk getrek het.

Na twee seisoene bly die data steeds vir ons aantoon dat ՚n oorplant wel ՚n plek het in seker gevalle, maar dit steeds in meeste gevalle nie die moeite werd is om dit wat reeds opgekom het te vervang nie. In jaar 3 was dit steeds dieselfde afleidings wat uit die data voortgekom het. Pogings om in te plant waar die stand nie voldoende is nie, lei ook gewoonlik tot bykomende probleme.

Groter plante ding meer mee vir voedingstowwe, water en sonlig en verrig in baie gevalle dieselfde rol as onkruid vir die kleiner plante in die land. Dit word dus aangeraai dat indien dit ՚n oorplant geregverdig word, moet die oorblywende plante uitgewerk word en van voor af begin word. Indien die oorblywende stand aanvaarbaar is, los dit daarby en aanvaar die stand soos dit is.

Pioneer is toegewyd daartoe om data aan boere te voorsien om ingeligte besluite te neem en om hulle boerdery vorentoe te vat. Vir meer inligting, besoek Pioneer se webwerf by https://www.pioneer.com/za.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment