McHale en Valtra: Hier’s die gedugte baalkombinasie
Wikus van Niekerk, sy vrou Esta en hulle kinders, Anika en Esmari, en die hond Hitler is almal in hulle noppies met die twee McHale balers.
Talle tevrede boere en baalkontrakteurs gebruik gereeld die naam, McHale, as hulle van perfekte baalwerk sonder staantyd of sukkel praat. Dit is immers nie om dowe neute dat McHaletoerusting tans in meer as 50 lande gebruik word nie.
As verskaffer van eersteklas hooimaaktoerusting het Valtrac met Greenfields, die invoerder van MacHaletoerusting, kragte saamgesnoer om die balers te bemark.
Een van die ingenome boere wat sommer twee McHale-balers gekoop het, is Wikus van Niekerk van Taaiboschbult buite Potchefstroom. Hy baal sy mieliereste om dit vir die skape en beeste wat hy in ’n voerkraal afrond te voer. “Na strooptyd sny ek die mieliereste, hark dit in windrye en dan baal ek dit baie vinnig en met gemak om dié gesonde ruvoerkomponent vir die res van die jaar vir my diere te verseker. Ek het twee jaar gelede die F5400 aangekoop en dinge het so goed gegaan dat ek ook verlede jaar die F5500 met sy gevorderde ontwerp aangeskaf het.”
Die F5500 se opteller is 2 meter wyd en sluk al die materiaal in die windry met sy harktande in sodat Wikus met gemak 450 netjiese, stewige bale mieliereste per dag maak. Die optelkop het vier rye optelvingers en hooi kan teen 12 km per uur opgetel word. Sy vyftien messe werk tussen die gleuwe van die spiraalvormige rotor om die mieliereste of lusern netjies te kerf sodat dit nie nodig is om dit in die menger fyn te kerf as die baal in die voermengsel gemeng word nie. Sy rotor het ook baie meer tande as die F5400 om die verwerkingsproses nog meer te vergemaklik.
“Die McHale-balers se groot voordeel is dat die kettings en beweeg- bare staalonderdele aan die buitekant van die baler sit en nie binne-in die materiaal loop en stof vergader nie. Dit maak ’n groot verskil as jy nie ’n brekery en stanery het van laers wat deur die stof opgevreet word nie,” sê Wikus. Die McHale F5500 ghries himself ook heeltemal outomaties in die ry, wat baie tyd aan onderhoud en arbeid spaar. Die McHale draai ook sy bale toe met enige tipe net waarop Wikus sy hande kan lê.
Nog ’n reuse voordeel van die McHale is dat die agterste vloer in ’n oogwink met ’n hidrouliese aksie kan uitsak indien daar ongewenste voorwerpe in die baler beland of as die materiaal dalk te taai is en ’n problem veroorsaak. Die materiaal val dan uit en die binnekant van die baler is dan heeltemal toeganklik sodat die haastige boer vinnig kan kyk wat is fout om gou-gou weer aan die gang te kom.
Valtrac se Valtra-trekkers werk ook soos ’n droom saam met die McHalebalers. As die baler die baal klaar gevorm het, gaan daar ’n alarm af wat aandui dat die trekker moet stop. Die Valtra laat die boer toe om slegs die rem te trap terwyl die baler die baal uitspoeg. Verby is die dae wat die boer die koppelaar moet trap, die trekker uit rat moet haal en die omwentelinge afbring sodat die baler sy werk kan doen. Wanneer die baal gereed is, kan die rem net gelos word en die Valtra se outomatiese spoedbeheer neem die trekker terug na werkspoed. Valtra maak dit so maklik soos melktert eet.