Categories: Crop productionPublished On: 21st February 2017

Maak wins uit Moringa

By 4 min read
760 words
Moringa

moringa 1

Boere kan nou ook baat by die groot beweging in die verbruikersmark na ’n gesonder leefstyl en die gebruik van gesondheidsprodukte as deel van mense se daaglikse dieet.

Daar is min plante wat met soveel gesondheidseienskappe spog as die Moringaboom. Lees gerus hiernaas meer oor die “wonderplant” en wat dit alles bevat wat goed is vir mense.  Boere in die warm en vogtige streke van die land, soos die Laeveld en die noordelike streke soos Limpopo, het nou ’n gulde geleentheid om op kontrak Moringa-aanplantings te doen.

Moringa4all is ’n maatskappy wat betrokke is by die vervaardiging van verskeie produkte uit Moringa. Gerhard Abrie, konsultant by Moringa4all, sê daar word tot 43 verskillende produkte met Moringa as hoofbestanddeel vervaardig. Die maatskappy is nou op soek na boere wat die rou, gedroogte produk kan lewer, wat dan verwerk en uitgevoer word. Gerhard sê elke boer se kontrak is uniek, want dit hang af wat die boer reeds beskikbaar het.

Van beginnerboere wat finansiering benodig, tot boere wat reeds geriewe beskikbaar het soos byvoorbeeld bestaande droogoonde, kan deel word van die projek. Moringa4all het ook self grond beskikbaar wat in vennootskap ontwikkel kan word.

Boere kan aanplantings doen vir blaar- of saadproduksie, of beide. Vir blaarproduksie moet ’n boer ten minste 20 hektaar aanplant met ’n plantestand van 350 000 tot 500 000 per hektaar om dit ekonomies lewensvatbaar te maak. ’n Vorm van oorhoofse besproeiing is noodsaaklik.

Die plante kan elke agt weke tot 10 cm bo die grond afgeoes word. Dit lewer 20 ton per hektaar, wat na droging sal neerkom op ongeveer 1 300 kg/ha. Teen die huidige prys van R37,50 per kg, is dit ’n goeie inkomste!  In kouer streke sal die plante doodryp en nie gedurende die winter ’n oes lewer nie, wat dit minder lonend sal maak. ’n Boom kan van ses tot sewe jaar lank ’n oes lewer voor dit vervang moet word.

Gerhard sê daar is ’n goeie meganiese planter beskikbaar wat die saadjie met sy vlerkies kan hanteer, asook ’n stroper vir die oes van die blare. Die oesproses elke agt weke is maklik en vinnig met die aanwending van die blaarstroper. Vir kleiner aanplantings, of as dit ’n gemeenskapsprojek is, kan ’n span met sekels ingestuur word.

Vir saadproduksie is ’n lonende grootte aanplanting ongeveer 100 hektaar met 1 111 bome per hektaar. Dit kan droëland-aanplantings wees of drupbesproeiing kan aangebring word.

Vir dié aanplantings word aanbeveel dat saailinge geplant word en Moringa4all bied ook as deel van hulle saadvoorsiening ’n bamboeskegeltjie (cone) aan waarin die saad in ’n groeimedium geplaas kan word om te ontkiem. Die kegeltjies kan sommer in ’n dwars gespande diamantdraad geplaas word om regop te bly en sodra die plantjie groot genoeg is, word dit met sy bamboesomhulsel in die grond geplaas. Gerhard sê: “Ons moedig mense aan om organies te boer, want dit gaan hier oor gesondheid.”

Boere in die rypvry vogtige dele van die land wat graag van die geleentheid gebruik wil maak kan ’n e-pos stuur na info@moringa4all.co.za.

Stuur ook enige vrae oor die verbouing van Moringa na die e-posadres. In die volgende ProAgri-artikel sal die vrae geantwoord word.  

Moringa, die wonderplant

Moringa oleifera is ‘n vinnig groeiende boom wat uit Suid-Asië kom. Dit word in verskeie lande aangeplant, maar floreer veral in tropiese gebiede.

’n Moringaplant kan groei tot ’n yslike boom, maar as dit gereeld gesnoei of geoes word, bly dit ’n lowergroen boom.

Die kosbaarste deel van die plant is sy klein ronde blare wat gewoonlik gedroog word om in kapsules of as ‘n tee gedrink te word. Die blare bevat groot hoeveelhede proteÏene, vitamine, kalsium, aminosure, magnesium, kalium, en verskeie ander voedingstowwe en minerale. Dit bevat ook geen skadelike vette nie. In die Ooste word Moringa al vir die afgelope 4 000 jaar gebruik vir voeding en medisyne.

Moringa word vir soveel as 300 verskillende kwale aangewend, maar ‘n paar van die sleutelgebruike as medisyne is:

  • Lewerbeskerming
  • Beskerming teen skadelike bakterieë
  • Anti-oksidante
  • Velgesondheid
  • Maagprobleme
  • Haargroei

Die stam en sade kan ook gebruik word vir voeding en gesondheid, maar in ’n kommersiële boerdery gaan dit oor die blare.

Boere in die rypvry, vogtige dele van die land wat graag die geleentheid wil aangryp, kan vir Gerhard kontak by info@moringa4all.co.za.

Moringa

Plante wat gelos word om te groei vir saadproduksie, word redelike groot bome.

moringa

Die klein ronde blaartjies van die Moringaplant bevat ongelooflik baie proteïene en ’n verskeidenheid ander voedingstowwe.

moringa

Moringa4all kan ook hierdie bamboeskegeltjies voorsien wat die uitplant van saailinge maklik maak. So ’n kegeltjie met ’n saadjie kos R2,50.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0