Louise Wessels: “Ek hou van vuur!”

OLYMPUS DIGITAL CAMERA
OLYMPUS DIGITAL CAMERA
Louise Wessels is die bestuurder van die Groter Overberg Brandbeskermingsvereniging, wat bekend staan as goFPA. “Ek is ՚n Namakwalander wat op Vanrhynsdorp gebore en grootgeword het, en gematrikuleer het aan die Hoërskool Vanrhynsdorp.
“My pa was ՚n besigheidsman en ons gesin was baie betrokke by die dorp se dinge, wat waardevolle ondervinding as rolmodelle was.
Sy het BCom aan Universiteit Stellen-bosch studeer en daarna BCom Hons by die destydse RAU, vandag Universiteit Johannesburg. Daarna het sy vir Nama-kwa Agri Ernst & Young en PwC gewerk.
Sewentien jaar gelede is sy en dr Gys Wessels, “die liefde van my lewe” getroud en het Bredasdorp toe getrek waar hy ‘n veearts is. Hulle het drie kinders, hulle dogter Remy (16) en tweelingseuns Kruger en Jack (13). Louise het tussen haar “Kaapse-werk” vrywilliger werk gedoen, insluitend vir verskeie bewaringsorganisasies soos onder andere die Agulhas Biodiversiteitsinisiatief (ABI) wat die landskap en biodiversiteit bestuur.
Nie ‘n firefighter nie
En dit is waar die voorsitter van goFPA haar opgeraap het om die leisels as bestuurder van die Groter Overberg Brandbeskermingsvereniging (goFPA) oor te neem. “Met my aanstelling het die voorsitter, Dr Paul Cluver, met groot dankbaarheid verklaar dat hy iemand aangestel het wat nie ՚n firefighter is nie. Hy benader goFPA uit ‘n besigheidsoogpunt waar sisteme in plek is.”
Sy is uitgeknip vir die beroep: “Ek hou van vuur!” verklaar sy. “Dit is bekend dat ek daarvan hou om groot braaivleisvure te maak! Nou is dit my en my goFPA-span se missie om die oorsake van onbeheerde brande te identifiseer en dan samewerking uit alle oorde te kry om sulke vure te voorkom!”
Haar belangrikste taak is om die kommunikasiekanale tussen goFPA, die Overberg Distrik Munisipaliteit se brandweer en die boere van die Overberg oop te hou.
“My werk is ՚n voortdurende geleentheid om die boodskap oor hoe belangrik dit is om die natuur te beskerm en hoe ՚n mens brande kan voorkom en vuur kan gebruik om risiko’s te verminder, oor te dra.
Groter Overbergdistrik
Die Groter Overberg-distriksmunisipaliteit beslaan ՚n gebied van 12 241 km² en strek van die Hottentots-Hollandberge in die weste tot by die Breederivier in die ooste, en die Riviersonderend-berge in die noorde.
Die gebied sluit die dorpe Grabouw, Caledon, Hermanus, Bredasdorp en Swellendam in, asook Kaap Agulhas die mees suidelike punt van Afrika waar die Atlantiese en Indiese Oseaan bymekaarkom.
“As plattelander was die natuur en die invloed op boerdery en die ekonomie voortdurend belangrik vir ons. Maar ek moet sê: Ek verlang nie na Vanrhynsdorp se oostewind wat ons smiddae geteister het nie!”
Die taak is onmoontlik sonder die samewerking van die Overberg Distriksmunisipaliteit (ODM) se Brandweerdienste.
“Die ODM se brandweerhoof, Reinard Geldenhuys, is ook ՚n brandbeskermingsbeampte.”

Louise en haar man dr Gys Wessels, ՚n veearts, en hulle drie kinders, dogter Remy (16) en tweelingseuns Kruger en Jack (13), woon op Bredasdorp in die hart van die Overbergdistrik. (Foto: Verskaf)
Wat doen ՚n brandbeskermingsvereniging?
Die Brandbeskermings-vereniging (BBV) se doel is om grondeienaars te help om hulle wetlike verpligtinge rondom veldbrande na te kom. Dit behels dat al die lede moet voldoen aan die vereistes van die Nasionale Wet op Veldbrande.
Boere en lede van die publiek word aangemoedig om saam te werk om die doelstellings van die wet na te streef. Dit behels die voorkoming en beheer van veldbrande, nie net op plase nie, maar ook in natuurlike velde ter wille van die ekosisteem en biodiversiteit. Dit sluit ook die bestuur van brandgevare ten einde die risiko en enige nadelige gevolge te beperk.

Dit is ՚n uitdaging om befondsing te kry vir gespesialiseerde dienste by groot veldbrande wat sensitiewe gebiede bedreig, insluitend landbougebiede, strukture, lewende hawe en gebiede van ekologiese belang. (Bron: Justin Sullivan en LoveGreen Communications).
Geïntegreerde gemeenskapsbrandbestuursdiens
Die brandbeskermingsvereniging bied vir die lede ՚n geïntegreerde gemeenskaps-brandbestuursdiens. Dit sluit in dat die lede ondersteun word in die nakoming van hulle verantwoordelikhede in terme van die wet, die BBV se konstitusie en reëls. Die BBV verskaf ook inligting oor geïntegreerde brandbestuurstrategieë en voorkoming, en bemagtig plaaslike gemeenskappe deur hulle meer bewus te maak van die risiko’s van brande.
Die risiko van veldbrande word getemper deur geïntegreerde brandbestuursplanne in plek te kry. Voorts word lede ondersteun wanneer ՚n brand voorkom.
En ten slotte word lede op plaaslike en provinsiale forums verteenwoordig en hulle kry terugvoer oor sake
rakende hulle bedrywighede.
- Boere moet sorg dat die brandbane op die plaas in orde is soos voorgeskryf deur die reëls van die BVV en die wetlike voorskrifte. (Foto: Verskaf)
- Lede se werkers moet opleiding ontvang en van beskermende klere voorsien word. (Foto: Verskaf)
Doeltreffende kommunikasie
“My rol is om saam met ons BBV en -raad, strategiese leiding te gee en die bedrywighede van die BBV operasioneel te bestuur. Dit sluit doeltreffende kommunikasie met ons lede, identifisering van hoë-risiko-gebiede en voorkomende maatreëls in.”
Sy is ook die visevoorsitter van die oorkoepelende BBV, oftewel die Wes-Kaapse Sambreel-BBV.
Tyd en geld
Een van die grootste uitdagings is genoeg tyd om alles gedoen te kry. En geld.
“Brandbeskermingsverenigings is vrywillige organisasies wat afhanklik is van ՚n jaarlikse heffing,” verduidelik Louise.
“Om genoeg fondse te kry om grondeienaars by te staan met basiese toerusting is ՚n probleem.
“En dan is daar ook ՚n uitdaging om befondsing te kry vir gespesialiseerde dienste by groot veldbrande wat sensitiewe gebiede bedreig – insluitend landbougebiede, strukture, lewende hawe en gebiede van ekologiese belang.”
Nog ՚n uitdaging is gebrekkige samewerking met staatsinstellings in hoë-risikogebiede wat (nog) nie goed bestuur word en voorbereid is vir veldbrande nie.

Hoewel fynbos vuur nodig om te kan voortbestaan, kan selfs beheerde en beplande brande ՚n risiko vir ՚n nog groter gebied inhou. (Bron: Justin Sullivan en LoveGreen Communications)
Fynbos
“Ons Fynbos het vuur nodig om te kan voortbestaan. Sonder tydige vure verloor ons belangrike ekologiese areas, maar selfs beheerde en beplande brande kan ՚n risiko vir ՚n nog groter gebied inhou.”
Maar te veel brande het weer ՚n negatiewe impak. “Daar is ՚n oorweldigende hoeveelheid uitheemse plantegroei wat ons fynbos verdring.Die uitheemse indringers sluit rooikrans, wattel en dennebome in en dit is onbekostigbaar duur om al hierdie ongewenste plante te verwyder.” Na ՚n groot brand is fondse nodig om die gebied skoon te hou deur te voorkom dat die plante weer groei, “anders veg ons oor vyf jaar weer dieselfde brand!”
Waar ՚n rokie is...
Waar daar ՚n rokie is, is daar ՚n vuurtjie. Iets brand en daar is of ՚n veldbrand op jou grond, of dit is op pad daarheen.
“Boere kan brande voorkom deur saam te werk, en dit is wat ons boere doen!”
• Meld onmiddellik ՚n brand aan by die Brandweer, by jou bure en die landbou-groep vir jou area.
Verskaf die nodige inligting soos:
• Waar brand dit? Die beste manier is om ‘n liggingpen met WhatsApp te verskaf.
• Hoe kom ons daar? Watter pad, ingang, hek, en dies meer lei na die ligging?
• Wat brand? Brand dit in uitheemse bos, fynbos, stoppelveld en dies meer?
• Hoe groot is die vuur? Is dit ‘n klein of nuwe vuur?
• Hoe vinnig brand dit? Groei of versprei die brand vinnig?
• Waarheen gaan die vuur? In watter rigting brand die vuur?
• Wat doen die weer by die vuur?
• Is daar lewens of eiendom in gevaar? Brand die vuur na strukture?
Die skakel is nuttig: https://overbergfpa.co.za/its-burning/
Riglyne vir boere
• Volg die permitregulasies vir ՚n beheerde brand;
• Reageer dadelik – “Hiermee is ons boere baie goed!” sê Louise.
• Hou die regte toerusting aan – dit word bepaal deur die reëls van BVV (wat verskeie faktore in ag neem. Dit sluit ՚n bakkie-sakkie (skid unit) of toegang tot een of meer in, volgens die reëls); opgeleide personeel moet die nodige persoonlike beskermende klere en plakke (bush beaters) dra. Alle BVV het die voorskrifte op hulle webtuiste en op die goFPA skakel: https://overbergfpa.co.za/ the-right-equipment/
• Sorg dat die brandbane op jou plaas in orde is soos voorgeskryf deur die reëls van die BVV en die wetlike voorskrifte: (https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201409/a101-98.pdf)
• Dit behels besonderhede soos hoe wyd die brandbaan moet wees, waar die brandbane gemaak moet word en die instandhouding daarvan.
• Help jou bure. en
• Werk saam om hoë-risiko gebiede te beveilig.
Betekenisvolle verskil
“My hartsbegeerte vir die Overberg is vernuwing en beskerming van ons unieke ekologie ter wille van biodiversiteit,” sê sy.
“Ook om veldbrande te voorkom en so vinnig moontlik te beperk, en tot voordeel van die gebied te bestuur. Dit behels dat brand gebruik word om ՚n groter risiko af te weer, of om alternatiewe metodes te gebruik om gebiede van ekologiese waarde te beskerm en ekonomiese verliese te beperk. Kortom: Om alle belangegroepe te laat saamwerk om ՚n betekenisvolle verskil te maak.”
Kontakbesonderhede
Kontak Louise Wessels by 063-690-7899 of manager@overbergfpa.co.za
Bronverwysing
Steyn, T. (2024) Die Overberg renosterveld: Bewaar die paradys: https://proagri.co.za/dieoverberg-renosterveld-bewaardie-paradys/

