Limagrain: Boer koop staatmaker saad en wen ‘n kampwaentjie

WhatsApp Image 2025-08-12 at 13.39.17
Piet Steenkamp het die Metalian Genie-kampwaentjie gewen tydens Limagrain se sestigste bestaansjaar-kompetisie.
Hierdie jaar vier Limagrain hulle sestigste bestaansjaar. Hierdie internasionale saadmaatskappy is bekend vir hulle staatmaker saadkultivars wat vir boere regoor die wêreld jaar na jaar ‘n goeie oes lewer. In Suid-Afrika steek die Limagrain saad ook nie af nie en hulle het geel- en witmieliekultivars wat floreer in die Afrika-son.
Om hulle sestigste verjaarsdag te vier en dankie te sê aan hulle getroue kliënte het Limagrain hierdie jaar ‘n kompetisie geloods. Om jou naam in die trekking te kry moes jy meer as 100 sakkies saad bestel en betaal voor einde Mei 2025. Die wenner het toe huistoe gegaan met ‘n splinternuwe Metalian Genie kampwaentjie.
‘n Wenner uit Bothaville
Piet Steenkamp van die plaas Hardusbult, net buite Bothaville, was die gelukkige wenner van hierdie pragwaentjie.
Hy vertel dat hy vroeg in die jaar reeds saad by Limagrain gekoop het en dat Louis Pearson, die verkoopsverteenwoordiger vir onder andere die Bothaville-omgewing, hom aangeraai het om in te skryf.
“Ek het vir hom gesê ek wen nooit iets nie en het sommer as ‘n grap bygevoeg dat as ek wel die waentjie wen kan hy hom enige tyd kom leen. Hy het vir my gesê hy weet sommer die waentjie kom nog Bothaville toe,” het Piet vertel.

Limgrain is ‘n stapel op die Steenkamp plaas
Piet en sy broer Frans boer op hulle familieplaas wat sedert 1994 reeds in die familie is. Aanvanklik het hulle vir Limagrain proewe op hulle plaas aangeplant, so sewe jaar gelede, maar toe hulle die gehalte van die kultivars sien, het hulle besluit om by Limagrain te begin koop.
“Ons het eers proewe geplant, toe sien ons daar steek iets in die goed, toe besluit ons kom ons maak hulle meer,” vertel ‘n laggende Piet.
Hulle plant hoofsaaklik Limagrain se LG31.747 witmieliekultivar en LG31.752 geelmieliekultivar op hulle plaas.

Piet en Frans Steenkamp boer saam, en hier staan hulle langs hulle splinternuwe kampwaentjie.
Limagrain ‘n stapel in Bothaville
Louis dek die Bothaville, Schweizer-Reneke, Vryburg en Migdol-areas vir Limagrain en vertel dat hulle LG31.747BR witmieliekultivar baie goed doen by boere in die Bothaville-omgewing.
“Dit is in my oë ‘n baie stabiele kultivar wat goeie opbrengs lewer, die kultivar kom al so vier jaar aan as deel van ons pakket,” vertel hy.
Hierdie jaar het hulle ook die LG31.753BR en LG31.755BR kultivars in proewe gehad, en die twee spogkultivars sal ook binnekort aan boere beskikbaar wees.
Louis sê dat dit vir boere gemoedsrus gee om te weet dat ‘n internasionale saadmaatskappy soos Limagrain al sestig jaar in die mark is.
“Dit is nie ‘n maatskappy wat sommer net sal kom en gaan nie, ons is ‘n gevestigde maatskappy in Afrika wat jaarliks groei, Limagrain is hier om te bly,” vertel hy trots.
Die wen van hierdie spogwaentjie was vir Piet en sy broer ‘n baie groot verrassing, en die Steenkamp-broers vertel dat hulle sommer nou meer gereeld viswater toe gaan.
Om meer te leer oor Limagrain en wat hulle jou kan bied besoek hulle webtuiste by https://www.lgseeds.co.za/.