Categories: MeganisasiePublished On: 26th May 2026

LEMKEN bring slim bewerkingsoplossings en nuwe Onyx-skeurploeg (ripper) na NAMPO 2026

By 3 min read
655 words

IMG_2702fafd

Die LEMKEN-span het boere by NAMPO 2026 verwelkom met ’n reeks moderne grondbewerkings- en saadplasingoplossings.

NAMPO-oesdag bly een van die belangrikste geleenthede op die landboukalender waar boere nuwe tegnologie eerstehands kan beleef. Vanjaar het LEMKEN weer bewys waarom hulle implemente en toerusting wêreldwyd bekend is vir innovasie, presisie en betroubaarheid.

Van grondbewerking tot slim saadplasing het boere vanjaar weer die geleentheid gehad om LEMKEN se implemente van nader te besigtig, met die span te gesels en oplossings te ontdek wat ontwerp is om boerderye meer doeltreffend en winsgewend te maak.

Die MultiHub maak dit moontlik om fyn saad tydens grondbewerking te vestig en sodoende verskeie aksies in een bewerking te kombineer.

LEMKEN stel splinternuwe MultiHub-stelsel aan boere bekend

Een van die grootste trekpleisters vir boere vanjaar by LEMKEN se standplaas was hul nuwe MultiHub-stelsel wat op die Rubin 10-implement vertoon is. Volgens Wessel Vosloo van LEMKEN Suid-Afrika bied dié tegnologie vir boere die vermoë om saad tydens grondbewerking in jou grond te kry, alles in een bewerking.

Die MultiHub is ’n ISOBUS-eenheid wat fyn saad akkuraat kan uitmeet en op verskillende LEMKEN-implemente gebruik kan word. Die stelsel werk met ’n elektriese uitmeetmeganisme en ’n hidrouliese waaier wat die saad op die rollers plaas terwyl die implement werk. Dit beteken boere kan tyd bespaar, brandstofverbruik verminder en meer doeltreffend werk deur verskeie aksies in een bewerking te kombineer.

Die Rubin 10 waarop die stelsel gedemonstreer is, is toegerus met ’n 645 mm-skottel en is ontwerp vir aggressiewe, egalige bewerking onder verskillende toestande. Die implement is beskikbaar in verskillende groottes, vanaf 3 m en 4 m- driepunt-eenhede, asook gesleepte modelle vanaf 4 m tot 7 m.

Volgens Wessel is die MultiHub ook geskik vir ander implemente in hul reeks, insluitend die Rubin 12 en die Karat, wat boere nog meer buigsaamheid gee wanneer dit kom by dekgewasse, fyn saad of ander vestigingspraktyke.

LEMKEN se Rubin 10 met die nuwe MultiHub-stelsel het groot belangstelling onder boere gelok.

Onyx-skeurploeg (ripper) bring nuwe moontlikhede vir boere

Nog ’n belangrike hoogtepunt by LEMKEN se uitstalling was die bekendstelling en bewusmaking van die nuwe LEMKEN Onyx-skeurploeg (ripper), wat nou in 3 m- en 4 m-modelle beskikbaar is.

Wessel vertel: “Ons het ook ’n paar nuwe produkte hier, en een daarvan is die Onyx-skeurploeg (ripper) wat tot ’n werkdiepte van 600 mm kan rip. Die Onyx se raamhoogte bo die grond is 90 cm, wat beteken daar is steeds goeie vloei van materiaal onder die raam deur, selfs wanneer daar 600 mm diep gewerk word. Daar is ook ’n roller agter aan die skeurploeg wat help om die kluite op te breek.”

Die Onyx is ontwerp om aan boere ’n doeltreffende en praktiese oplossing vir moderne boerderypraktyke te bied. Soos met die res van die LEMKEN-reeks, fokus die implement op duursaamheid, werkverrigting en gebruikersvriendelike tegnologie wat boere help om produktiwiteit te verhoog sonder onnodige kompleksiteit.

Met boere wat voortdurend onder druk is om insetkoste te bestuur en terselfdertyd opbrengste te beskerm, word slim implemente en veeldoelige oplossings al hoe belangriker.

Wessel Vosloo van LEMKEN Suid-Afrika.

Kyk uit vir LEMKEN se komende demonstrasie-dae

NAMPO gee vir boere die kans om implemente van naby te sien, maar vir LEMKEN is dit net die begin. Die span het aangekondig dat hulle kort ná NAMPO met ’n reeks demonstrasie regoor die land gaan begin sodat boere hul implemente en toerusting, onder meer ook die Onyx in hul eie grond en onder hul eie toestande kan beleef en prakties te sien werk.

“Dit is altyd lekker om die implemente by NAMPO te sien, maar dit is nog beter om te sien hoe werk dit in jou eie grond, moontlik selfs met jou eie trekker. Ons nooi almal uit om aan te sluit by ons demonstrasiedae,” sluit Wessel af.

Vir baie boere was die waarde van die uitstalling nie net die implemente self nie, maar ook die geleentheid om direk met die LEMKEN-span te gesels oor toepassings, praktyke en oplossings vir spesifieke boerdery-uitdagings.

Vir enige navrae oor LEMKEN se produkte of oor die komende demonstrasiedae besoek gerus LEMKEN se webwerf of gaan loer op hul sosialemediaplatforms!

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1