Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 23rd July 2025

Laurika du Bois: ’n Lewe van passie, diens en bemagtiging in landbou

By 6 min read
1260 words

Lana and Luarika with Baby Goat

Laurika du Bois, Hoof van Bemarking en Kommunikasie by Agri Skills Transfer, glo dat landbou veel meer is as ’n bedryf, dit is ’n lewenswyse, ’n roeping en ’n manier om betekenisvol by te dra tot die toekoms van Suid-Afrika. Met meer as drie dekades in onderwys en opleiding, waarvan die afgelope agt jaar in die landbousektor, leef sy haar passie elke dag ten volle uit.

“Ek is Laurika du Bois, Hoof van Bemarking en Kommunikasie by Agri Skills Transfer. ’n Rol wat ek met trots, toewyding en diep passie vervul,” stel sy haarself voor. Haar werk sluit strategiese bemarking, sigbare posisionering en doeltreffende bekendstelling van Agri Skills Transfer se missie en werksaamhede in. Die instansie fokus daarop om die toekoms van landbou in Suid-Afrika te help vorm deur mense op te lei en te bemagtig met praktiese kennis en vaardighede.

Vir Laurika strek haar missie verder as bemarking alleen. Sy wil veral die jeug, en spesifiek skoolleerders, inspireer om landbou te sien soos sy dit sien: as ’n dinamiese, noodsaaklike en volhoubare loopbaan en lewenswyse. “Ek wil hê hulle moet die waarde van landbou raaksien,” sê sy. Sy doen dit deur artikels te skryf, praatjies aan te bied, jongmense te motiveer en die bedryf aktief te bevorder.

Laurika se liefde vir leer en landbou

Laurika is reeds meer as 35 jaar betrokke by onderwys en opleiding, wat sy as ’n ware roeping beskou. By Agri Skills Transfer werk sy aan die praktiese en doelgerigte opleiding van landboukundiges, tegnici, produsente en entrepreneurs.

“Wat Agri Skills Transfer uniek maak, is ons eie opleidingsplaas net buite Cullinan waar studente nie net leer nie, maar leef,” sê sy.

Hier bewerk hulle die grond, versorg diere, plant, oes en ervaar elke aspek van boerdery eerstehands. Sy glo vas dat ware leer gebeur wanneer kennis en hande saamwerk.

Gebaseer op die Groenkloof-kampus van Agri Skills Transfer in Gauteng, beskryf Laurika haar werk as die hoogtepunt van haar loopbaan. “Landbou is nie net ’n sektor vir my nie, dit is ’n lewensroeping,” sê sy. Met haar jarelange ervaring het sy ’n diep liefde vir die bedryf ontwikkel en glo sy onwrikbaar in die krag van kennis en vaardigheidsontwikkeling om ware transformasie teweeg te bring.

Haar inspirasie om by landbou betrokke te raak

Haar liefde vir die grond het diep wortels. “Ek is gebore op die plaas Tweerivier, net anderkant Beestekraal,” vertel sy. As die jongste dogter van ’n boer, was landbou van kleins af deel van haar lewe. Sy onthou hoe haar ouers en grootouers haar waardevolle lesse oor harde werk, geloof en waardering vir die aarde geleer het. Haar oupa, ’n bekende beesboer, het ’n nalatenskap van geloof en eerbied vir die natuur agtergelaat wat haar steeds inspireer.

Hoewel sy haar loopbaan begin het met studies in bemarking en kommunikasie en later by verskeie opleidingsinstansies gewerk het, het sy uiteindelik teruggekeer na haar wortels. “Die lewe het my teruggebring na waar ek hoort. In die hart van die landbousektor,” sê sy. Vir haar is dit nie net ’n beroep nie, maar ’n manier om by te dra tot die toekoms van Suid-Afrika.

Die rol van mentors en rolmodelle

Laurika se ouers en grootouers was haar eerste mentors en het haar diep waardes en werksetiek gevorm. Oor die jare het sy ook baie ander mentors en rolmodelle gehad wat haar geïnspireer het om aan te hou leer en groei. “Die grootste les wat ek by hulle geleer het, is: moet nooit ophou leer nie,” sê sy. Sy leef hierdie filosofie uit deur kennis te deel en ander op te bou, net soos ander dit vir haar gedoen het.

Vroue in landbou en die uitdagings

Laurika erken dat een van die grootste uitdagings vir vroue in landbou die persepsie is dat hulle ’n minderwaardige rol speel. Sy glo egter dat vroue veerkragtig, vasberade en toegerus is met unieke eienskappe wat hulle formidabel maak. Sy sien daagliks hoe vroue hul plek volstaan, skouer aan skouer met hulle manlike eweknieë, en selfs uitblink in verskeie fasette van die bedryf.

Hoe die rol van vroue verander het

Sy beskryf die verandering as merkwaardig: van ondersteunende rolle tot strategiese en leiersposisies. “Vroue is doelgerig en gefokus en verstaan die kompleksiteit van moderne landbou,” sê sy. Hulle hanteer die tegniese, finansiële en mense-aspekte van die bedryf met vaardigheid en vasberadenheid.

Vir Laurika is elke dag ’n gawe en ’n geleentheid om sinvol by te dra. Sy hou haar gemotiveerd deur op die groter prentjie te fokus wat die volhoubaarheid van die landbousektor en haar rol daarin is. Sy sorg dat sy ingelig bly, bly leer en altyd vra: “Was ek vandag deel van die probleem of deel van die oplossing?”

In haar werk en lewe leef Laurika volgens waardes soos eerlikheid, positiewe gesindheid, dankbaarheid, hardwerkendheid, geloof in God, diensbaarheid en nederigheid. “Ons almal het unieke talente ontvang,” sê sy. “Dit is ons verantwoordelikheid om dit met moed, kreatiwiteit en diensbaarheid aan te wend.”

Werk- en lewensbalans

Sy erken dat balans ’n groot uitdaging is. In haar jonger jare het sy dikwels haar werk bo haar eie welsyn gestel, maar met tyd het sy besef dat ware sukses lê in die kwaliteit van verhoudings en die vermoë om teenwoordig te wees in jou eie lewe. Sy maak nou doelbewus tyd vir haar kinders, haar lewensmaat en haar kleindogter Emily, wat haar geleer het om stil te staan en die eenvoudige vreugdes van die lewe te waardeer.

Laurika droom daarvan dat elke voornemende boer in Suid-Afrika toegang sal hê tot kwaliteit opleiding en bemagtiging. Sy hoop dat Suid-Afrikaners as ’n nasie die grond met verantwoordelikheid sal bewerk en saam aan volhoubare planne vir voedselvoorsiening sal werk. Persoonlik wil sy nog lank ’n bydrae lewer deur onderrig, mentorskap en haar passie vir ontwikkeling en gemeenskapsbemagtiging.

Raad aan jong meisies en vroue

Haar raad is duidelik en kragtig: “Doen dit! Glo in jouself. Begin waar jy is, met wat jy het, en moenie wag vir die ‘regte tyd’ nie.” Sy moedig jong vroue aan om kennis op te doen, mentors te soek en hul plek in die sektor met trots en vasberadenheid in te neem. “Landbou het plek vir jou, en jy het iets uniek en waardevol om by te dra.”

In ‘n ligter luim: 

Voltooi die sin:

Landbou is…

“Landbou verteenwoordig vir my die toekoms. ’n Dinamiese, unieke en stimulerende omgewing vol uitdagings en geleenthede. Dit is hier, in dié lewensbelangrike sektor, waar ek wil werk, groei, leer en leef. Hier vind ek nie net vervulling nie, maar ook ’n roeping.”

Ek kan nie boer sonder…

“Volhoubare boerdery is eenvoudig nie moontlik sonder toepaslike kennis en voortdurende leergeleenthede nie. Toegang tot relevante opleiding is die fondament waarop sukses in landbou gebou word.”

My gunsteling tyd van die dag is …

“My gunsteling tyd van die dag is wanneer die eerste lig van die son oor die horison breek. Daardie stil oomblik vol belofte, wanneer ’n nuwe dag begin en alles moontlik voel.”

As ek nie in die landboubedryf was nie, sou ek…

“As ek nie in die landboubedryf werksaam was nie, sou ek my toewy aan voltydse skryfwerk, verkieslik in ’n rustige, veilige kusdorpie, in ’n eenvoudige huisie teen die see, waar die dae stadig verloop, inspirasie volop is, en vars vis deel van die daaglikse ritueel is. Ek sou groente tuine maak en van die grond tot die bord leef.”

Indien lesers meer wil uitvind oor Laurika en haar werksaamhede by Agri Skills Transfer is hulle welkom om die webblad te besoek of ‘n e-pos te stuur aan Laurika by laurika@agriskills.net.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0