Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 8th November 2022

Landboutegnologienuus: Koeie kry robotkelners!

By 5 min read
931 words

dairyfeed-f4500-barn_tcm11-108587

Outomatiese melkmasjiene is nou al ՚n geruime tyd op plase doenig, maar nou het GEA ook ՚n outomatiese voermasjien, genaamd DairyFeed F4500, ontwikkel. Voer is die grootste kostefaktor in die bestuur van ՚n plaas.

Die gehalte, voertye en optimalisering van gemengde rantsoene vir elke groep koeie is deurslaggewend vir melkproduksie. Dit is hier waar die GEA DairyFeed F4500-voerrobot boere help om hulle hande los te maak vir ander dinge, asook met die presiese bestuur van hulle voedingstrategie.

Die F4500, toegerus met navigasiesensors, skep ՚n akkurate kaart van die plaas wat hom in staat stel om die ideale roetes vir die verspreiding van voer uit te werk. Die robot kan voortdurend sy posisie bepaal, hindernisse herken en botsings vermy, veilig tussen skure op ongelyke vloere navigeer en teen hellings van tot 10% ry. Met die F4500 is geen groot plaasmodifikasies nodig nie!

Outomatiese 24/7 voedingsroetines

Die outonome voerrobot weeg, meng en versprei elke uur tot 2,2 m3 vars volledige voermengsels vir tot 300 diere in verskillende voedingsgroepe. Dit verseker dat pasgemaakte rantsoene perfek voorberei word in ooreenstemming met die voersiklusse wat jy bepaal het. Die robot neem ook die werk oor om voer na en tussen siklusse nader aan die diere te stoot.

Met die F4500 kan jy voerverbruik en oorskiet nagaan, en die hoeveelheid van die volgende rantsoene daarvolgens aanpas om voervermorsing tot die minimum te beperk. Dit is ook moontlik om die voedingsamestelling van die bestanddele te ontleed, wat aanpassings van die mengsel moontlik maak op grond van jou voedingstrategie vir die beste moontlike dieregesondheid. GEA voer- en melkrobotte is digitaal verbind via DairyNet, wat dit moontlik maak om voer- en melkuitsetdata 24 uur per dag te sinkroniseer. (Bron: GEA)

Eerste elektriese Kubotatrekkers in Europa

Kubota gaan sy eerste elektriese trekker in Europa bekend stel.

Kubota sal in die komende maande sy LXe-261 elektries aangedrewe kompakte trekker by verskeie sleutelgeleenthede regoor Europa wys, insluitend SALTEX by die NEC en EIMA in Italië. Die battery-aangedrewe trekker sal vanaf April 2023 in die VK te huur wees. Met ՚n toenemende aantal Europese markte wat regulasies verskerp en dieselvoertuie verbied, soek baie plaaslike owerhede alternatiewe kragbronne en probeer CO2-uitstralings verminder. Een van die groot uitdagings wanneer ՚n elektriese trekker ontwikkel word, is reikafstand en werktyd.

Kubota reken dat hy voldoende reikafstand verskaf deur die LXe-261 toe te rus met ՚n groot battery wat vinnig in een uur kan herlaai vir drie tot vier uur se aaneenlopende werk. Dit sal operateurs in staat stel om die batterye tydens middagete te laai en in die middag verder te werk. Die ontwikkeling word beskryf as ՚n belangrike strategiese stap vir Kubota in die VK en Europa. Die LXe-261 is geskik vir ՚n wye reeks toepassings, insluitend sny en sleep. Die spesifikasie sluit ՚n onafhanklike kragaftakker, HST (hidrostatiese kragoordrag) en veelvuldige hidrouliese uitlate in. (Bron: profi)

Amazone lewer 75 000ste spuit

Oorhandiging van die 75 000ste Amazone-spuit: Simon Brown,
besturende direkteur, Amazone; James Faulkner en Robert Davidson, Robert Davidson & Seun; Rupert Batho, gebiedsbestuurder, Amazone; en Tim Osbourne van RW Crawford.

՚n Maatskappy wat 75 000 eenhede van ՚n werktuig vervaardig en verkoop, moet iets reg doen! Die 75 000ste Amazone-spuit wat uit die fabriek gery het, ՚n selfaangedrewe Pantera 4502 van 36 m, is onlangs aan Robert Davidson & Seun gelewer, wat op sowat 1 350 ha naby Colchester in Engeland, boer.

Hulle boer met ՚n mengsel van gewasse wat winterkoring, murgvetertjies, rog en mielies vir voer, sowel as vir die stroper insluit, en bestuur nog 800 tot 1 200 ha mielies en rog vir bure. Hulle gebruik ՚n Pantera sedert September 2015, en hulle vorige 40 m 4502 het 5 000 uur in sewe jaar gewerk. Robert, die derde geslag van ‘n familie wat reeds sedert die vroeë 1970’s op die plaas is, bevestig dat die vorige model uitstekende diens gelewer het.

“Hoewel ons gekyk het na ander produkte op die mark, maak sy smal padwydte, 50 km/u padspoed en verbeterde vering dit ideaal vir ons kontrakplase wat verder weg is. Die diensondersteuning van Amazone en ons plaaslike handelaar, RW Crawford, het bygedra tot ons keuse van die Amazone-handelsmerk. Hopelik sal ons oor ՚n paar jaar, wanneer ons gereed is vir die volgende een, die 100 000ste masjien kry.”

Die eerste Amazone-spuit, wat in 1969 gemaak is, was die gemonteerde S-reeks, wat beskikbaar was met tenkvolumes van 400 en 600 liter. Vandag se spuite word gemaak by ՚n nuwe, doelgeboude fabriek op ՚n perseel van 20 ha by Bramsche, in Duitsland. (Bron: Amazone)

Baal groter met CLAAS

Hoekom bly by 1,5 meter bale, as jy dit tot 1,8 meter kan rek? Die nuwe Variant 500-veranderlikekamerbaler het twee modelle, die 565RF en 560RC wat jou bale van tot 1,6 m kan gee, of jy kan die 585RF of 580RC kies wat tot 1,8 m kan strek. Afsonderlike sensors beteken die spanarms kan onafhanklik beheer word – een hou die kamerbande gespan, die ander bepaal die baaldruk.

Dit sal gebruikers in staat stel om te bepaal of hulle byvoorbeeld ՚n sagte middel in die baal wil hê, voordat die druk verhoog word namate die baal volle grootte nader. Net so kan dit van die begin af ՚n harde senter skep. Die keuse van een van die drie gewastipes op die beheerkas gee ՚n paar voorafbepaalde digthede wat dan verfyn kan word.

Die opteller het die ratse in-/uitswaaiwiele gekry wat reeds by ander CLAAS-balers gesien word. Daar is ՚n keuse van 2,1 of 2,35 m optelwydtes. Die netbindstelsel is ook opgeknap. Dit is nou baie laer geposisioneer met ՚n nuwe swaartekragbeheerde rem en die netmesvrystelling gebruik dieselfde uitskakelmeganisme as die knopers van die Quadrant-vierkantbalers. En omdat daar ՚n nuwe onderstel is, het CLAAS die geleentheid gebruik om die baler te ontwerp om groter bande tot 560/45-22.5 te neem. (Bron: profi)

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0