Landbou in 2023 en wat om in 2024 te verwag

DSC_0041
John Hudson, hoof van landbou: Nedbank
deur John Hudson, hoof van landbou: Nedbank
2023 was ‘n moeilike jaar. Dit het noukeurige stuurmanskap geverg en in baie opsigte was dit ‘n jaar van konsolidasie en herstel, veral vir uitvoere. En hoewel daar ‘n mate van verligting van insetkoste was, word boere steeds met vele uitdagings en verhoogde risiko gekonfronteer.
Aan die positiewe kant het die Agbiz/Nywerheidsontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika se Agribesigheidsvertrouensindeks met 6 punte teruggespring na 50 punte in die derde kwartaal, nadat dit vir 3 opeenvolgende kwartale onder die 50-punt-kerf was. Dit dui daarop dat landboubesighede geleidelik aanpas by langdurige uitdagings wat saketoestande raak, soos verswakkende infrastruktuur, mislukte munisipaliteite, verskerpte geopolitieke spanning en aanhoudende beurtkrag.
2023 was ‘n mengelmoes van seëninge en uitdagings
Verskeie sektore soos koring, sojabone en mielies – wat goed op dreef is om die naasgrootste oes op rekord te lewer – het uitstekende oeste gelewer, maar afwaartse druk het ‘n impak op kommoditeitspryse. Suid-Afrika se verdienste ten opsigte van landbou-uitvoere sal na verwagting vanjaar verswak in vergelying met die 2022-rekord van VS$12,8 miljard, wat deur ‘n sterk landbouseisoen en hoër wêreldpryse gedryf is. Kommoditeitspryse het gemiddeld met sowat 11% gedaal, terwyl streng regulasies oor sitrusswartvleksiekte in die Europese mark en voortdurende beperkings op die uitvoer van sommige veeprodukte weens bek-en-klouseer uitvoerdienste waarskynlik sal knou.
Veesiektes bly ook ‘n bekommernis, veral die onlangse voëlgriepuitbraak, wat verreikende gevolge vir die produsent en verbruiker inhou. ‘n Verslag wat in Mei deur ‘n regering-aangestelde taakspan vrygestel is, het gewaarsku dat Suid-Afrika se veeartsenykundige en dieresiektebeheer geskend en in ‘n krisis gedompel is, wat die lewensvatbaarheid van die land se veebedryf bedreig. Volgens die verslag is van die grooste probleme swak instandhouding van laboratoriuminfrastruktuur, toerusting en navorsingsfasiliteite; ‘n gebrek aan beheer oor die beweging van diere uit besmette gebiede; onbekombaarheid van entstowwe vir aanmeldbare siektes; swak en onwetenskaplike besluitneming deur amptenare; power samewerking tussen nasionale en provinsiale regerings; en stadige reaksie op noodsituasies. Ongelukkig blyk daar geen vasgestelde plan te wees om die krisis te hanteer nie, en tot dusver is geen poging aangewend om die aanbevole regstellende aksies te implementeer nie.
Wat wag vir 2024?
Ongelukkig sal baie van die gewone uitdagings daaraan verbonde om sake in Suid-Afrika te doen voortduur. Onsekerheid oor kragvoorsiening duur voort, maar baie landboubesighede het reg in eie hande geneem en genereer nou hul eie krag. Onderliggende infrastruktuurkwessies – paaie wat op die rand van ineenstorting is en spoor- en hawestelsels wat van die swakste ter wêreld is – sal waarskynlik nie aangespreek word nie, want onsekerheid en verlamming in ‘n verskiesingsjaar beteken beperkte vordering.
Druk rondom huishoudelike voedselsekerheid sal waarskynlik tot in 2024 voortduur, en enige voedselprysstygings sal geweldige druk op reeds uitgerekte huishoudelike begrotings plaas. Dit verg ‘n delikate balans om, te midde van stygende produksiekoste en biosekuriteitskwessies, ‘n gesonde en volhoubare voedselsektor te handhaaf en terselfdertyd ook toegang en bekostigbaarheid van voedsel vir almal te verseker. En dit is nie iets wat die landboubedryf alleen kan oplos nie – dit vereis ‘n robuuste ekonomie wat groter werks- en groeigeleenthede bied.
Die uitvoeromgewing sal waarskynlik, weens verskeie redes, ook ‘n uitdaging bly. Ons het breedvoerig kommentaar gelewer oor Suid-Afrika se moontlike uitsluiting van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika en die negatiewe uitwerking wat dit op die landbousektor kan hê, en intussen verskerp die regulasies in EU steeds. Daarbenewens word verwag dat geopolitieke spanning tot in 2024 sal voortduur met die Rusland-Oekraïne- en Israel-Palestina-konflikte wat weinig tekens van herstel toon. Ons is dus van mening dat daar dringend aandag gegee moet word aan die verbetering van logistieke doeltreffendheid, die bevordering van Suid-Afrikaanse produkte in uitvoermarkte, en die handhawing van stewige verhoudings met bestaande kritieke uitvoermarkte terwyl uitbreiding na nuwe markte verseker word.
Te danke aan verbeterde grondvog van vorige reënvalseisoene sal El Niño gelukkig minder van ‘n impak hê as wat aanvanklik verwag is. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel egter bo-normale minimum en maksimum temperature vir die somer. Hierdie voorspelling kom te midde van waarskuwings van die Wêreld Meteorologiese Organisasie dat El Niño wêreldwyd, tesame met klimaatsverandering, rekordtemperature in die volgende 5 jaar tot gevolg sal hê. Dit was reeds die geval met hittegolwe wat vanjaar die noordelike halfrond getref het. Dit voorspel niks goed vir gewasse en vee nie, en waterverlies deur verdamping en verhoogde veldbrande hou bykomende bedreigings in.
2024, wat sekerlik sy eie hoogte- en laagtepunte sal hê, word as ‘n bepalende oomblik vir Suid-Afrika beskou. Sedert Covid-19 is landbou ‘n hoogtepunt en ondanks al die uitdagings waarvoor ons te staan kom, is daar bemoedigende tekens dat dit so sal bly. Dit is egter belangrik om die gulde geleenthede wat die bedryf bied te benader vanuit die die werklikheid dat dit moeilik is om in Suid-Afrika besigheid te doen. Dit is nie maklik nie, maar daar is altyd hoop. Met al die uitdagings wat ons as bedryf en as land moes teenstaan, is ons stoer van gees met murg in ons pype.
Deur dit alles glo ons die privaatsektor sal volhard – met of sonder die regering.
Bron: Gillian Gernetzky, Percheron Strategic Communications namens Nedbank