Landbou groei te midde van uitdagings

bek1
Ten spyte van talle uitdagings het landbou in die derde kwartaal met ‘n verdere 1,1% (kwartaal-op-kwartaal) in bruto waarde gegroei na ‘n groei van 2,5% in die tweede kwartaal. Boonop het uitvoere met 0,7% toegeneem, veral wees ‘n styging in die handel van groenteprodukte en minerale. Die tweede grootste mielie-oes ooit, 16,44 miljoen ton vir die seisoen, is ook prysenswaardig.
Die Minister van Landbou, John Steenhuisen het die nuutste syfers van Statistiek SA verwelkom, veral in die lig van geweldige uitdagings met betrekking tot die uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) wat hardnekkig in sommige provinsies voortduur.
“Ten spyte van al die uitdagings wat die sektor in die gesig staar, het dit steeds daarin geslaag om met ‘n positiewe houding merkwaardige veerkragtigheid te toon. Die groei word nou vir die vierde opeenvolgende kwartaal ervaar, wat bewys dat deursettingsvermoë en vasbyt selfs die moeilikste hindernisse kan oorkom,” se minister Steenhuisen.
Die BEK-uitbreking bly die grootste uitdaging sedert die eerste voorvalle in 2022 in Kwazulu-Natal voorgekom het. Sedertdien het die uitbreking in felheid en omvang toegeneem. “Om dit te hanteer, gaan ons die nasionale beeskudde deur ’n omvattende inentingsprogram beskerm deur sowat 12 miljoen beeste in te ent. Dit sluit die verkryging van entstof, opleiding van veeartse en logistiek vir verspreiding in,” verduidelik hy.
Hy het ook die landbougemeenskap geprys vir hulle positiewe houding te midde van die druk. “Ons boere en belanghebbendes is voor in die stryd om te verseker dat ons veilige voedsel produseer en terselfdertyd tot die fiskus bydra.
“Boere staan voor enorme uitdagings, en ek wil hê hulle moet weet ek sien die impak op hul families, besighede en gemeenskappe,” het Steenhuisen gesê. “Al is daar vordering gemaak, is die huidige verloop eenvoudig nie aanvaarbaar nie. Ons versterk ons benadering aansienlik om weer beheer te herwin.”
Versterkte reaksie en inentingsveldtogte
KwaZulu-Natal loop steeds die ergste onder BKS deur met 180 van die 274 onopgeloste uitbrekings landwyd.
Onlangse uitbrekings in onder meer Kokstad het gelei tot geteikende inentingsveldtogte in Estcourt en omliggende gebiede. In die afgelope drie maande is 931 200 diere ingeënt met entstof wat deur die regering bekom is, terwyl verdere ondersteuning deur openbare-private vennootskappe uitgerol word.
Die bedryf dra ook noemenswaardig by. Die Melkprodusente-organisasie (MPO) wat onlangs, deur die Red Meat Industry Services (RIMS), nog 50 000 dosisse entstof vir KwaZulu-Natal se suiwelboere aangekoop het, is ‘n voorbeeld van die samewerking wat die regering aanmoedig.
Tot dusver is die volgende entstofverspreiding vir melkprodusente gedoen:
- Bergville: 3 000 dosisse
- Estcourt: 2 500 dosisse
- Winterton: aanvanklike 1 500 dosisse, met nog 3 000 op pad
- Dundee: 4 000 dosisse (regeringsvoorraad)
- Spioenkopdam-omgewing: 5 000 dosisse (regeringsvoorraad)
Behalwe vir entstowwe wat deur die privaat industrie (hoofsaaklik voerkrale en melkerye) deur die RMIS aangekoop is, en vir noodgevalle met uitbrekings gebruik kan word, is die land egter op die stadium basies uit voorraad uit. Die volgende besending entstof, van twee miljoen dosisse, word egter in Februarie 2026 verwag. Dit sal ondersteun word deur die vestiging van ’n plaaslike vervaardigings fasiliteit vir entstowwe om die afhanklikheid van invoere te verminder.
Omvattende nasionale strategie
Benewens die inentingsprogram wat in KwaZulu-Natal sal afskop, gaan ander provinsies wat die swaarste getref is ook so spoedig moontlik by die nasionale program ingesluit word, naamlik Gauteng, Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes.
Die doel is om Suid-Afrika in staat te stel om by die Wêreldorganisasie vir Diergesondheid (WOAH) aansoek te doen vir status as skoon van BKS met inenting.
Inenting op sig self is egter nie voldoende nie en Minister Steenhuisen beklemtoon dat onbeheerde beweging van diere die grootste probleem in die stryd teen BEK bly. Wetstoepassing sal saam met die inentingsaksies versterk word.
“Ons bly daartoe verbind om boere en landelike gemeenskappe deur hierdie moeilike tyd te ondersteun,” sê hy. “Dit sluit verbeterde laboratoriumvermoëns vir vinnige toetsing en tydige kommunikasie van resultate in, asook samewerking met die sektor om veerkragtigheid en langtermyn-biosekuriteit te herstel.”
‘n Stap in die regte rigting
Volgens Dr Frikkie Mare, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprosudente-organisasie (RPO), is die landwye inentings veldtog ‘n “stap in die regte rigting”.
“Met die aankondiging van die Minister, kan ons nou ‘n progressiewe pad volg in terme van inenting, en na ons mening is dit die eerste tasbare stap in die regte rigting.”
Volgens Frikkie beplan die regering om ‘n miljoen dosisse entstof per maand te bekom, en is deel van die plan dat inenting aanvanklik by voerkrale en melkery uitgerol sal word om marktoegang te bewerkstellig.
Tans word alle entstof van Botswana af verkry, en daar word ook na ander buitelandse verskaffers gekyk. Verskillende tipes entstof is op die mark beskikbaar, wat immuniteit teen verskillende stamme en vir verskillende tydperke verskaf. Daar sal dus gekyk moet word na watter tipe entstof waar aangewend gaan word.
Entstof wat, byvoorbeeld, immuniteit vir ‘n jaar bied moet verkieslik gebruik word vir melkkoeie en aanteel vee, terwyl die wat net immuniteit vir vier maande bied aangewend moet word om by voerkrale te ent aangesien die dier geslag gaan word voordat ‘n tweede dosis nodig is.
Die RPO besef dat daar nog baie werk gedoen moet word om die enorme inentingsprojek ‘n werklikheid te maak. “Noudat ‘n plan op die tafel is, moet die oorblywende werk, soos die verandering van regulasies, voltooi word om dit te implementeer en in werking te stel,” sê hy. Hy beklemtoon egter ook dat inenting alleen nie die antwoord is nie: die onwettige verskuiwing van diere moet deur naspeurbaarheid aan bande gelê word.
Bronverwysings
FMD outbreak: Minister Steenhuisen ramps up national response (2025) BizCommunity.com
Mediaverklaring: South Africa’s agricultural growth continues in third quarter (2 Desember 2025) https://mail.google.com/mail/u/0/#search/joylene/FMfcgzQdzcspqjSkrbNLDGTbHVQnBRpr?compose=CllgCHrhTcLrgHWRqgtNPXDmPtNTxCTrjknbfXHfvsnxTHWSJKVBNcqXNTZlfFwrvrBKRxxwBNB&projector=1&messagePartId=0.1
Nuusvrystelling: Rooivleis produsente-organisasie (RPO) verwelkom die aankondiging deur die minister dat die hele land geënt word teen bek-en-klouseer. (25 November 2025)
South Africa plans nationwide cattle vaccination against foot-and-mouth disease (2025) FarmProgress
Stoddard, E. (2025) Race to vaccinate 7.2 million cattle as foot-and-mouth crisis bites. Daily Maverick