Categories: NuusPublished On: 27th July 2026

Lamb Champs Pretoria 2026: ’n Dag van smaak, saamkuier en Suid-Afrikaanse mense

By 4 min read
807 words

Lamb Champs ingang

Die reuk van lamsvleis oor die kole, ’n terrein vol besoekers en ’n feestelike atmosfeer het Saterdag die toon aangegee by Lamb Champs Pretoria 2026. Met amper 7 000 mense wat die geleentheid bygewoon het, was dit ’n dag waar goeie kos en vermaak saamgekom het.

Lamb Champs is ’n jaarlikse kompetisie wat deur Saai aangebied word met die doel om Suid-Afrikaanse familieboere en die hoëgehalte-lamsvleis wat hulle produseer, in die kollig te plaas.

Die geleentheid is vanjaar by Harlequins Rugbyklub in Pretoria aangebied, waar 110 spitte kop-aan-kop meegeding het vir die titel van beste lam. Die fees het van 10:00 tot 20:00 plaasgevind met ’n heerlike aanbod van lamsvleis, landbou, musiek en ’n hele paar prettige kompetisies.

Lamb Champs het oor die jare heen veel meer as net ’n kompetisie geword. Dit bied ’n geleentheid waar boere, die landboubedryf en die publiek op ’n informele manier bymekaar kan kom, met Suid-Afrikaanse lamsvleis natuurlik in die kollig.

Die soektog na die beste lam

Die hart van Lamb Champs bly die kompetisie waar daar uiteindelik bepaal word wie se lam die beste op die dag presteer.

Deelnemers se lammers word voorberei en op die spit gesit voordat die finale beoordeling plaasvind. Dit skep nie net gesonde kompetisie tussen die boere nie, maar gee ook duisende verbruikers die geleentheid om eerstehands die gehalte van plaaslike lamsvleis te ervaar.

Die groot titel het vanjaar aan Gerhard en Jani Lourens van LGL Persian Sheep gegaan. Hulle boer buite Pretoria en spesialiseer in Persieskape.

Vir Gerhard was dit nie sy eerste keer tussen die voorste deelnemers nie. By Lamb Champs Pretoria 2025 het Gerhard en Jani reeds ’n indrukwekkende vyfde plek met hul Persieskaap behaal. ’n Jaar later kon hulle uiteindelik die Pretoria-titel huis toe neem.

Hul oorwinning plaas ook die kollig op die verskeidenheid skaaprasse en produksiestelsels wat deel vorm van Suid-Afrika se skaapbedryf.

Van die plaas tot op die bord

Een van die groot trekpleisters van Lamb Champs is natuurlik die kos. Regoor die terrein was die voorbereiding van lamsvleis deel van die ervaring, met spitbraaie wat deur die dag aan die gang gehou is.

Vir besoekers is dit ’n kans om verskillende lammers te proe, maar vir die deelnemende boere is dit ’n geleentheid om die eindproduk van maande se harde werk voor ’n groot gehoor aan te bied.

Dus bied dit ’n belangrike skakel tussen die boer en die verbruiker. Vir baie besoekers is die eindproduk op die bord bekend, maar Lamb Champs bied ’n geleentheid om ook die mense agter dié produk te ontmoet en meer waardering te kry vir waar voedsel vandaan kom.

Met amper 7 000 besoekers was Lamb Champs Pretoria 2026 ’n miernes van bedrywighede en ’n ware viering van lamsvleis, boere en Suid-Afrikaanse landbou.

Vir die dapperes: Die skaapkop-eetkompetisie

Die tradisionele skaapkop-eetkompetisie is een van die fees se bekende hoogtepunte en beslis nie vir sensitiewe eters bedoel nie.

Die uitdaging is eenvoudig, ten minste op papier. Tot 50 deelnemers kan inskryf en elke deelnemer moet ’n gaar skaapkop eet én ’n 500 ml-bier klaarmaak. Die vangplek? Alles moet binne 15 minute gebeur.

Met die skare wat die deelnemers aanmoedig, sorg die kompetisie jaar ná jaar vir lekker lag, ’n gejuig en ’n paar baie dapper deelnemers wat om die titel van skaapkop-kampioen meeding.

Vir diegene wat eerder hul krag as hul eetlus wou toets, was daar ook die Woldra-kompetisie, terwyl die Toyota Urban Trax-aktiwiteit nog ’n dosis aksie tot die dag gevoeg het.

Die Bokslam-veiling bring nog ’n landbou-element

Nog ’n hoogtepunt van vanjaar se geleentheid was die Bokslam-veiling, waar die waarde van gehaltevleis weer onder die soeklig gekom het.

Lot 51, ’n 25,5 kg-skaapkarkas van Van Rooy Boerdery Dorpers, is vir ’n indrukwekkende R50 000 verkoop. Toog Vermaak van Vleissentraal Bosveld het as afslaer tydens die veiling opgetree.

Die veiling het nog ’n dimensie tot die dag gevoeg deur die kommersiële waarde van die produk en die feestelike kant van Lamb Champs te kombineer.

Besoekers kon nie net die beste van Suid-Afrikaanse lamsvleis geniet nie – daar was ook volop vermaak en aktiwiteite wat bygedra het tot die feestelike atmosfeer by Lamb Champs Pretoria 2026.

Meer as net ’n kompetisie

Met die duisende besoekers was daar heelwat meer as net die beoordeling van lammers om mense besig te hou.

Uitstallers, borge, kos, vermaak en lewendige musiek het gesorg dat daar deur die loop van die dag iets vir die hele gesin was.

Lamb Champs Pretoria 2026 het weer gewys dat ’n goeie stuk lamsvleis veel meer as net ’n maaltyd kan wees. Dit kan ’n gesprek begin, mense bymekaarbring en die verhaal van Suid-Afrikaanse landbou op ’n lekker manier vertel.

Die dag het vir ons gewys dat Suid-Afrikaners se liefde vir lekker kuier, goeie lamsvleis en ’n behoorlike spitbraai springlewendig is.

Die kenmerkende Lamb Champs-spitbraaie was gereed vir die dag se groot ster: Suid-Afrikaanse gehaltelamsvleis.

Vir meer inligting oor Lamb Champs en toekomstige geleenthede:
Lamb Champs se amptelike webwerf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0