Categories: NuusPublished On: 24th July 2026

Boereplanne-kompetisie plaas vernuf in die kollig by NAMPO Kaap

By 2 min read
427 words

Boereplanne 2

Praktiese planne, slim oplossings en eg Suid-Afrikaanse vindingrykheid kry van 9 tot 12 September 2026 weer ’n prominente platform tydens NAMPO Kaap by Bredasdorp Park. Graan SA nooi uitvinders, boere, studente en tegnologie-entoesiaste om hul vernuf in te skryf vir die gewilde Boereplanne-kompetisie, ’n vertoonvenster vir idees wat alledaagse uitdagings op plase, in werkswinkels en rondom die huis eenvoudiger, slimmer en meer bekostigbaar maak.

Na ’n sterk 2025-kompetisie met 32 innoverende inskrywings, fokus die 2026-aanbieding op idees wat prakties uitvoerbaar, kostedoeltreffend en relevant vir die moderne landbou-omgewing is.

Inskrywings word in agt afdelings beoordeel:

•    Nuut: oorspronklike landboutoerusting en digitale tegnologie
•    Gemodifiseerd: aangepaste implemente en sagteware
•    Gereedskap: elektries en nie-elektries
•    Huis en tuin: slim oplossings vir huishoudelike gebruik
•    Ope-afdeling: kostedoeltreffende idees onder R5 000
•    Skole-afdeling: inskrywings van leerlinge en studente
•    Kommersiële afdeling: planne wat reeds bemark word
•    Video-afdeling: vir idees wat nie fisiek uitgestal kan word nie

Deelnemers moet hul planne voor of op Maandag 1 September indien. Kommersiële en video-inskrywings moet teen 20 Augustus ontvang word. Alle inskrywings moet op die amptelike vorm geskied en teen Dinsdag 8 September om 14:00 op die Boereplanne standplaas, E8,  beskikbaar wees.

Beoordeling vind op Woensdag 9 September plaas, met die prysuitdeling op Vrydag 11 September om 12:00. Die prysgeld word met trots deur Omnia Nutriology® geborg. Wenners sal op Landbouweekblad se platforms en die borge se sosiale media aangekondig word, terwyl die wenner van die kommersiële afdeling ’n spesiale 10 m x 10 m-uitstalruimte by NAMPO Kaap 2027 ontvang.

Besoekers word genooi om die inskrywings by die Boereplanne-standplaas langs Omnia te besigtig en self te sien hoe eenvoudige idees groot praktiese waarde kan ontsluit. Inskrywings kan aan Wim Venter gerig word by wim@grainsa.co.za of 086-004-7246, laai die inskrywingsvorm hier af.

“Die Boereplanne-kompetisie wys jaar ná jaar dat innovasie nie altyd ingewikkeld of duur hoef te wees nie, soms begin dit met ’n praktiese probleem en ’n boer wat besluit daar móét ’n beter manier wees,” sê die organiseerders.

Die kompetisie bied deelnemers ’n geleentheid om hul idees met die landbougemeenskap te deel, erkenning vir praktiese innovasie te ontvang en ’n bydrae tot ’n meer vindingryke, doeltreffende landboubedryf te lewer.

Besoekerinligting

Kaartjies vir NAMPO Kaap 2026 is aanlyn beskikbaar op www.opentickets.co.za kaartjies sal nie dag-spesifiek wees nie en kan op enige van die vier dae gebruik word.

•    R110 vir volwassenes (aanlyn)
•    R120 vir volwassenes (by die hek)
•    R60 per kind (slegs by die hek)
•    Gratis toegang vir voorskoolse kinders

Ekspo-ure

•    09 – 11 September: 08:00 tot 17:00
•    12 September: 8:00 tot 14:00

Akkommodasie-inligting

•    Cape Agulhas Toerisme: 028-424-2584 / 082-896-2225 www.overberg-info.co.za
•    Tente akkommodasie op Bredasdorp Park admin@antoinetteevents.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0