Laat trap jou beeste in hulle spoor:

johan hoewe
Johan Hoewe spesialiseer in die regknip van kloue
Beeste is oorspronklik ontwerp om redelike lang afstande in die veld te loop en gras te eet. Moderne boerderypraktyke vereis dat beeste dikwels nie meer so ver loop nie en dat hulle graan en ander kragkonsentrate gevoer word, wat noodwendig ’n uitwerking op onder meer hulle hoewe sal hê. Min loop kan veroorsaak dat hoewe nie soos normaalweg afslyt nie en kragvoer kan veroorsaak dat dit abnormaal uitgroei.
Hoewe wat verkeerd uitgroei kan later tot ongemak, loopprobleme en selfs wanstaltige voorkoms lei, en daarom is dit goed en wys om dié beeste se hoewe betyds en gereeld reg te sny.
Die man om daardie taak met die nodige kundigheid en vaardigheid te verrig, is Johan Hoewe Combrink. Hy vertel:
“In 1997 het ek by die bekende oudstoeier en Brahmanteler, oom Manie Maritz, geleer om skoubeeste se kloue reg te sny. Oom Manie het op sy beurt by die bekende Amerikaanse skouman, John Joyce, geleer. Sedertdien lewer ek ’n mobiele diens aan die stoetbeesbedryf in Suid-Afrika, Botswana en Namibië.”
In sy soeke na ’n manier en toerusting om beeste, veral bulle, sonder beserings en onnodige spanning te immobiliseer, het hy oorsee op hidrouliese hanteergange, wat die Amerikaners chutes noem, afgekom. Dit was baie duur en spesifiek vir melkbeeste gebou.
“Ek ontwikkel en bou toe my eie hanteergang wat aan die boer se drukgang vasklamp en baie meer ekonomies en beesvriendelik is.” Hierdie hanteergang het verskeie voordele:
- Die diere hanteer makliker en ondervind minder spanning omdat daar in hulle eie drukgang wat hulle reeds ken gewerk word.
- Die meganiese hanteergang maak nie diere so seer soos die hidrouliese een nie. Omdat hy meganies en handgedrewe werk, kan ’n mens self voel hoeveel spanning op ’n bees se been geplaas word en dit presies beheer. Daarteenoor kan hidroulika geweldige krag uitoefen en as daar nie baie versigtig gewerk word nie, beseer dit beeste maklik.
- Die hidrouliese hanteergang is baie duur, wat beteken dat ’n mens vinnig moet werk en groot getalle beeste deur hom afjaag om hom ekonomies lewensvatbaar te maak. Die oorhaastige werk verhoog die risiko van beserings aan diere en onnoukeurigheid.
As gevolg van die kennis wat Johan by oom Manie opgedoen het, het hy besluit om sy dienste op die skoubedryf te mik. Destyds is net melkbeeste se hoewe reggesny, maar daar was reeds ’n behoefte om dit ook met skoubeeste te doen aangesien beeste in skoustringe meer op stal begin staan het, minder geloop het en hoëproteïen- / energievoer (warm voer) gevoer is. Hierdie omstandighede het konstruksiefoute veroorsaak deur die te vinnige hoefgroei van die warm kos en nie net deur genetika soos baie boere geglo het nie.
“Met my regkniptegniek kan ek algemene konstruksiefoute soos x-benigheid, duiftonigheid, sekelhakkigheid en koeihakkigheid verbeter en in baie gevalle heeltemal herstel,” sê Johan.
Volgens Johan kan die oorsake van konstruksiefoute soos volg ingedeel word:
Genetika 20%
Voeding 40%
Beweging 20%
Grondoppervlak 20%
Johan sê: “Ek het ook agtergekom dat baie stoettelers, veral die sakemanne wat beeste aanhou, nie die beenkonstruksie ken en kan identifiseer nie, veral as dit kom by die aankoop van bulle en koeie op veilings waar hulle meer kyk na goeie kondisie en nie soseer loopvermoë nie.
“Baie jare lank is top diere uitgeskot as gevolg van swak loopvermoë wat veral veroorsaak was deur sand- en vleikampe. In baie gevalle sou so ’n dier nog vir jare kon produseer in stede daarvan om ’n nuwe bul aan te koop. Dit is dus nie die bul se skuld dat hy nie kon loop nie en sy genetika is ook nie die oorsaak nie.”
Die doel van hoeweknip is nie om genetika te vervang of reg te dokter nie. In die tagtig persent gevalle waar hoewe- en loopprobleme deur bestuursfaktore veroorsaak word, behoort hoeweknip as bestuurshulpmiddel ingespan te word om die probleem reg te stel.
In die volgende paar uitgawes sal die resultate van regknip bespreek word en aangetoon word hoe hoewe en die bees se houding voor en na regknip lyk.
Vir meer inligting, praat met Johan Hoewe Combrink by 082-568-5034 of stuur ’n e-pos aan info@johanhoewe.co.za. Besoek ook sy webwerf by www.johanhoewe.co.za en sy bakkiesblad by https://www.facebook.com/johan.hoewe.7?ref=ts&fref=ts
Die foute lyk so:



