Laat trap jou beeste in hulle spoor 3: Duiftonigheid is niks om oor te koer nie

johan-hoewe-okt-feature
deur Johan Hoewe
In ons vorige artikel het ons x-benigheid bespreek en hoe die probleem reggestel kan word deur die dier se kloue reg te sny. ’n Saak waaroor daar tot op hede baie min geskryf is, is duiftonigheid en die regsny van hoewe om hierdie probleem reg te stel.
As ’n mens mooi kyk na foto’s van duiwe wanneer hulle op ’n plat oppervlak sit, sal jy sien dat hulle pote effens na binne gedraai is. Vir ’n duif is dit heeltemal reg en natuurlik, maar by beeste is dit ’n probleem. Alle beesrasse het hierdie probleem en dit is ook by wild ’n algemene verskynsel, maar by die katsoorte soos leeus en luiperds word dit nie as ’n fout beskou nie.
Om te bepaal of ’n dier duiftonig is, moet jy net soos by x-benigheid ’n vertikale lyn trek van die punt van die skouer, deur die middel van die knie tot by die middel van die klou. Wanneer die kniegewrig buite die lyn is, is die bees duiftonig. Dit sal lei tot ’n oormatige oop borsvloer en, in uitermatige gevalle, tot bakbenigheid. As die dier duiftonig is, sal die binneklou hoër wees as die buiteklou.
Duiftoningheid kan reggestel word deur die binneklou te sny om die lyn reguit te trek. Dit is nie altyd suksesvol nie, maar dit dien as ’n voorkomingsmaatreël om bakbenigheid te voorkom. Soos die dier groei, sal die probleem terugkeer, daarom sal sy kloue gereeld gesny moet word.
Sommige beoordeelaars by skoue hou nie van duiftonigheid nie. Hulle merk dit maklik op omdat die dier breëbors loop en sy beweging nie vloeiend is nie. Die dier word dan gepenaliseer deur dit ’n plek of twee af te skuif. Tog het ek al talle kampioene met duiftonigheid gesien, wat die indruk skep dat dit vir sommige beoordeelaars ’n probleem is en vir ander nie. Duiftonigheid moet nie met bakbenigheid verwar word nie. Dit is twee verskillende konstruksiefoute. Bakbenigheid is waar die lyn van die blad tot in die knieë nie reguit is nie (Skets 1) en duiftonigheid is wanneer die onderste kootgewrig na buite neig (Skets 2).
In ons volgende uitgawe sal Johan Hoewe die agterbene bespreek, in die besonder koeihakkigheid.




