KZN Bek-en-klouseer: Siektebeheergebied al groter

Nuwe uitbrekings van bek-en-klouseer kom steeds in KwaZulu-Natal voor en ‘n nuwe siekebeheergebied sluk feitlik die hele provinsie in. Bek-en-klouseer is steeds besig om met rasse skrede in KwaZulu-Natal te versprei. Die toedrag van sake het onafwendbaar daartoe gelei dat John Steenhuisen, minister van Landbou, die bestaande siektebeheergebied (SBG) moes uitbrei om die verdere verspreiding te probeer voorkom.
Die oorspronklike gebied wat in 2021 afgekondig is, word vergroot om nou verskeie munisipale gebiede as geheel in te sluit, asook gedeeltes van ander. Volgens ‘n verklaring van die Departement van Landbou is die siekte steeds besig om uit te kring met nuwe voorvalle wat in die Newcastlegebied aangemeld is. Vroeg in Februarie het die Departement van Landbou se Veeartsenykundige Dienste bekend gemaak dat uitbrekings by ‘n kommunale diptenk by Mtubatuba noord van Richardsbaai voorgekom het, en daarna is beeste met kliniese simptome van die siekte ook in die omgewing van Vryheid en Newcastle opgemerk. Laasgenoemde voorval is nou bevestig.
Die oorspronklike siektebeheergebied is in 2021 aangekondig toe die eerste uitbreking van die SAT 2 bek-en-klouseervirus in die provinsie voorgekom het. Dit kom steeds voor, maar die virus wat in Februarie by die diptenk identifiseer is, was die SAT 1-virusstam wat ook onlangs in die Krugerwildtuin identifiseer is. Dit is nog nie bevestig watter stam by Newcastle voorkom nie.
Siektebeheergebied nou groter
Die siektebeheergebied word nou uitgebrei om die volgende plaaslike munisipale gebiede in geheel in te sluit:
Big Five Hlabisa, Mtubatuba, Nongoma, Ulundi, Umhlabuyalingana, Jozini, Pongola,
Abaqulusi, Mfolozi, uMhlathuze, Mthonjaneni, Nqutu, Nkandla, uMlalazi, en Mandeni.
Gedeeltes van die volgende munisipaliteit vorm ook nou deel van die siektebeheergebiede:
Emadlangeni: Suit van die R34 vanaf die R33;
Newcastle: Suid van die R34 tot oos van die N11;
Dannhauser: Oos van die N11 en Noord van die R68;
Endumeni: Noord van die R68 en oos van die R33;
Msinga: Oos van die R33;
UMvoti: Oos van die R33 tot by die R74 en Noord van die R74;
Maphumulo: Noordoos van die R74;
Ndwedwe: Oos van die R74; en
KwaDukuza: Noordoos van die R74 tot by die N2 en wes tot by die N2 tot by Mandeni.
Met hierdie nuwe afbakening word gehoop dat die beweging van diere met gesplete hoewe, wat beeste, skape en bokke insluit, asook die produkte afkomstig daarvan beter beheer sal word. Geen diere met gesplete hoewe, produkte of genetiese materiaal mag beweeg word vanaf, na of binne die siektebeheergebiede nie tensy dit deur ‘n staatsveearts goedgekeur is en ‘n veeartsenykundige permit bekom is in ooreenstemming met die voorwaardes van so ‘n permit.
Nasionale bewegingsbeheer
Die Departement van Landbou het opnuut bevestig dat die maatreëls wat die beweging van vee wat in Oktober 2022 ingestel is, steeds van krag is. Die maatreëls is opnuut in die Staatskoerant bevestig en bepaal dat enige beweging van diere, hetsy skape, beeste of bokke, vergesel moet word van ‘n verklaring van die eienaar wat die oorsprong van die vee en hulle gesondheid ten tye van die beweging aandui. Die persoon wat die vee ontvang moet ‘n ondertekende onderneming gee dat die diere ten minste 28 dae lank afsonderlik aangehou sal word voordat hulle by bestaande kuddes gevoeg word.
Vee-eienaars se verantwoordelikheid
Volgens die Wet op Dieresiektes (1984) is dit die eienaar or bestuurder van die vee se wetlike verantwoordelikheid om alles in hulle vermoë te doen om te voorkom dat hulle diere besmet raak of die siekte verder versprei.
Noodsaaklike bisekerheidsmaatreëls sluit in:
Beperking of uitstal van die insluiting van nuwe diere in bestaande kuddes op plase;
Slegs vee van ‘n bekende, siektevrye gebied met ‘n wettige gesondheidsverklaring moet aangekoop word;
Voorkom direkte kontak tussen die vee op ‘n plaas en buite die plaasgrense;
Onderhou plaasgrense en beperk toegang tot gebiede waar die vee loop;
Beperk toegang deur persone en voertuie tot die plaas en sorg dat die korrekte protokol vir ontsmetting toegepas word.
Aanmelding van siektes
Volgens die Wet op Dieresiektes is bek-en-klouseer is ‘n beheerde dieresiekte wat sekere beheermaatreëls vereis, insluitend isolasie en bewegingsbeheer wat deur veeartsenykundige Dienste toegepas moet word. Enige verdagte kliniese simptome, soos ‘n kwylende bek of seertjies in die bek, sere op die hoewe of ‘n dier wat mank loop, moet onverwyld by die plaaslike staatsveearts aangemeld word. Sulke diere mag onder geen omstandighede geskuif word nie.

Die jongste kaart wat die verspreiding van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal aandui.