Kundiges gee raad oor vleisbeesboerdery by Agri-Expo Livestock

Livestock 2017
‘n Groep vleisbeesboere van Brasilië het die Vleisbeesinligtingsdag by die 2017 Agri-Expo Livestock bygewoon.
Veeboere en ander belangstellendes kan gratis na kenners kom luister wat by die jaarlikse Vleisbees-inligtingsdag op Vrydag 12 Oktober 2018 tydens Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch sal gesels oor hoe om vleisbeesboerdery suksesvol aan te pak.
Volgens Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo, is die inligtingsdag een van die landbougenootskap se projekte om nuwe toetreders tot landbou te bemagtig en op te lei. Die program word in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Standard Bank aangebied.
“Dit is ook ‘n ideale geleentheid vir kommersiële beesboere om hulle kennis te verbreed, die jongste inligting te bekom en vernuwend te dink en te boer,” sê Milford.
Vanjaar se program sluit sprekers van regoor die land in, waaronder:
- Die bekroonde Oos-Vrystaatse vleisbeesteler Llewellyn Angus, verlede jaar se wenner van die Landbounavorsingsraad (NLR) se toekenning vir Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar, wat die basiese beginsels van suksesvolle vleisbeesboerdery sal deel;
- Dr. Vlok Ferreira, ‘n kenner op die gebied van herkouervoeding en -bestuurstelsels werksaam as nasionale tegniese bestuurder by RCL Foods, wat raad sal gee oor korrekte voedingsbestuur by koeie en verse;
- Willie Clack, die Nasionale Voorsitter van die Veediefstalvoorkomingsforum en tweede ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), wat fokus op die rol van die produsent as beskermheer in veediefstalvoorkoming; en
- Dr. Faffa Malan, alom bekend as Dok Faffa, Suid-Afrika se bekendste virtuele veearts, wat sy verbeterde “Vra vir Faffa”-portaal as deel van die nuwe Kundiges-afdeling op Landbou.com sal bekendstel. Malan is die bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA). Sy deelname word moontlik gemaak deur Landbouweekblad.
Die Vleisbeesinligtingsdag vind van 08:00 tot 13:00 in die Standard Bank-konferensiesentrum plaas. Bywoning is gratis, maar plek is beperk tot 150 gaste. Vir registrasie en navrae, kontak Breyton Milford by 021-975-4440 of breyton@agriexpo.co.za.
Agri-Expo Livestock vind van 11 tot 13 Oktober 2018 plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za.
Bron: Agri-Expo