Categories: NuusPublished On: 12th August 2025

Korridorsiekte: Raaisel hoe siekte oorgedra is

By 4 min read
888 words

korridor 3

Beeste met korridorsiekte sukkel om asem te haal en skuim kom by die bek uit voor die dier vrek. (Bron: Phalaborwa Dierekliniek)

Korridorsiekte, ook bekend as buffelsiekte, is onlangs vir die eerste keer in 20 jaar in Limpopo aangemeld.

Die siekte is endemies in buffels en word deur middel van die bruin oorbosluis (Rhipicephalus appendiculatus wat met die bloedparasiet Theileria parva besmet is, na beeste oorgedra.

Volgens dr Gerrit Scheepers, private veearts op Phalaborwa in Limpopo, het die uitbreking op ‘n wildsplaas by Ofcolaco voorgekom nadat daar kontak tussen beeste en buffels was.

“Die groot vraag is hoe sogenaamde ‘skoon’ buffels op die plaas die siekte aan die beeste kon oorgedra het,” verwoord Gerrit die vraag op almal se lippe.

“Daar hang nou ‘n vraagteken oor alle skoon buffels.

Samewerking

Die boer het die veeartse van Phalaborwa, drs Jacob Dirsuwei en Gerrit Scheepers  ingeroep toe die vrektes voorkom. Gerrit het twintig jaar gelede, toe korridorsiekte die vorige keer in die omgewing voorgekom het, ook daarmee te doen gehad en het dadelik geweet hier kom moeilikheid. 

“Toe ek na die eerste smere kyk het ek besef hierdie is nie ingroeitoonnaels nie: as ons nie nou reg reageer nie, gaan dit reperkussies inhou.”

Het die boer aangeraai om onmiddellik die beeste te kwarantyn en in ‘n kraal te plaas  waar hulle  vier keer binne 14 dae gedip is om te verseker dat die bruin oorbosluise in al hulle ontwikkelingsfases vernietig is.

Gerrit het dr Christiaan Steinman, staatsveearts van Hoedspruit, versoek om ‘n  voorlopige kwarantynbevel uit te reik; ‘n paar dae later het dr Kabelo Mohlabe, staatsveearts van Tzaneen, het die plaas besoek en die amptelike, formele kwarantynbevel aan die boer oorhandig.

Daarna is die beeste met ‘n Rooikruispermit in ‘n verseëlde vragmotor na ‘n normale abattoir geneem waar die hele kudde geslag is.

Volgens Gerrit sal die nege buffels, wat steeds op die plaas geïsoleer is, ook van kant gemaak moet word; of, afhangend van Departement Dieregesondheid en onderhewig aan streng toetsmaatreëls, na geproklameerde korridorgebiede verskuif mag word.

Volgens Gerrit is die uitbreking deur uitstekende samewerking tussen die betrokke partye hokgeslaan. Maar die onsekerheid bly kwel.

Daar is verskillende moontlikhede hoe die ‘skoon’ buffels besmet  kon geraak het.  Het daar tien jaar gelede toe die buffels getoets is, ‘n fout ingesluip? Is daar êrens ander buffels wat nie die toets geslaag het nie, of glad nie getoets is nie, in omloop? Of is hierdie ‘n besmette dwaalbuffel van anderkant die Krugerwildtuin se Rooilyn deurgebreek en sy besmette bosluise afgelaai het.

Volgens Gerrit word buffels wat deur ‘n paneel van Onderstepoort as skoon gesertifiseer is, voorsien van ‘n mikroskyfie waarop die rekord van die verskillende siektes waarvoor hulle bloed getoets is, aangedui word. Die koper kry ook dokumentasie ter stawing van die buffels se status.

“Ek hoop hierdie is ‘n geïsoleerde voorval, maar ons wéét nie. Dit is nou die staat se verantwoordelikheid om die nege buffels se oorsprong na te spoor om te kyk waar hulle vandaan kom. Tot die oorsprong vasgestel is, hang daar ‘n groot vraagteken oor alle skoon buffels in die land.”

Volgens Gerrit is daar nie in Suid-Afrika entstof teen korridorsiekte nie beskikbaar nie. Daar is wel terapeutiese middels wat suksesvol gebruik word in buurlande en indien die siekte vroeg onder beeste identifiseer word, kan die middels die bees se lewe red. Die middels is nie in Suid-Afrika geregistreer nie en daarom onwettig om te gebruik, want die gevaar bestaan dat beeste wat die siekte oorleef, draers van die siekte mag word.

Dr Gerrit Scheepers, private veearts van Phalaborwa, wat al voorheen met korridorsiekte te doen gehad het en dadelik die siekte kon diagnoseer. (Bron: Phalaborwa Dierekliniek)

Voorkoms

Die bruin oorbosluis kom in gebiede voor waar jaarliks meer as 400 mm reën val, naamlik in Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en Gauteng, die KwaZulu-Natal kus en in die suidelike Oos-Kaap veral waar plase grens aan bewaringsgebiede waar buffels voorkom. Die naam ”korridorsiekte” is afkomstig van die gang (corridor) wat gevorm word deur die gebied tussen die Hluhluwe- en Umfolozi-wildreservate in KZN waar die siekte oorspronklik aangeteken is.

Elders in Afrika kom die bruin oorbosluis ook in suidelike Sudan, Uganda, suid-westelike Kenia, oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo, Rwanda en Burundi tot in die noordelike, noord-oostelike, sentrale en suidwestelike dele Tanzanië voor. Verder suid is die bosluis beperk tot die natter dele wat die hooglande van Malawi, Zambië, Zimbabwe en die Angónia  en Chimoio distrikte van Mosambiek.

Simptome

Korridorsiekte is ‘n aanmeldbare, beheerde siekte in Suid-Afrika wat reguleer word ingevolge die Wet op Dieregesondheid van 1984. Die wet maak melding daarvan dat beeste en buffels verkieslik nie op dieselfde plaas aangehou word nie.

Simptome sluit in aptytverlies wat daartoe lei dat die bees se kondisie vinnig agteruitgaan, diarree, hoë temperatuur van meer as 40 °C, oogafskeiding, moeilike asemhaling en skuim by die neus net voor die bees vrek.

Die siekte is gewoonlik dodelik en tot 80% besmette beeste vrek binne drie tot nege dae nadat die eerste kliniese simptome waargeneem is.

Omdat besmette bruin oorbosluise tot ‘n jaar en ‘n half in die veld kan oorleef en die siekte kan oordra, is dit noodsaaklik dat daar twee jaar lank geen buffels of beeste op die plaas aangehou word nie.

Kontakbesonderhede

Dr Gerrit Scheepers 082-920-9934, 015-781-0653, of e-pos phbdierekliniek@gmail.com.

Bronverwysings

Korridorsiekte

https://www.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/korridorsiekte-20180507

Raats, J. (2025) Korridorsiekte onder beeste laat vrae oor ‘skoon buffels’

https://www.landbou.com/bedrywe/wild/korridorsiekte-onder-beeste-laat-vrae-oor-skoon-buffels-20250727-0375

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0