Kmdt Jan Nel: RMIS se nuwe ystervuis

Jan-7-1200x540reg
Naspeurbaarheid, naspeurbaarheid, naspeurbaarheid!
“Naspeurbaarheid en wetstoepassing is al manier hoe oortreders van biosekerheidsmaatreëls wat oordraagbare siektes soos bek-en-klouseer kan keer in die bek geruk kan word,” sê kmdt Jan Nel wat pas deur die Rooivleisbedryfdienste (Red Meat industry Services of RMIS) as hoof van wetstoepassing vir biosekerheid aangestel is.
En as oortreders gedink het hulle gaan voortaan steeds daarmee wegkom, beter hulle weer dink: die RMIS se wetstoepassingsbeampte is ‘n selfverklaarde militaris en sy ystervuis is reg vir hulle.
Jan Nel is ast’ware gepas maak vir die doel waarvoor RMIS hom nou nodig het. En vir hom is die aanstelling in die unieke posisie ‘n lekker manier om besig te bly na hy die einde 2024 afgetree het. “Ek sien tog nie kans vir stilsit en niks doen nie,” sê hy.
- Kmdt Jan Nel is links voor op die foto wat geneem is in ‘n polisiehelikopter tydens ‘n operasie teen die Limpoporivier om smokkelroetes vir vee te bepaal. (Bron: Verskaf)
- Die foto is op ‘n boer se plaas waar Jan en sy span oornag het geneem. “Die kat was oorlams en as jou kamer se deur oop was, het hy hom daar tuisgemaak en jou duidelik laat verstaan dat hy nie maklik van sy lêplek geskuif gaan word nie.,” vertel hy. (Bron: Verskaf)
Gelukkige vormingsjare
Jan het op Odendaalsrus in die Vrystaat grootgeword waar sy ouers by die Allanridgemyn gewerk het. Hy was in die Volkskool-laerskool op die myndorp voordat sy pa na die Swartklipmyn by Rustenburg verplaas is.
“Ons het op Swartklip ‘n sorgvrye kinderlewe gehad,” vertel hy. Hy het laerskool die die plaaslike laerskool voltooi voor hy na die Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi is waar hy matrikuleer het. “Dit was heerlike tye van jag, visvang en vriende vóór sosiale media en daardie jare kon ons nog die hele vakansie by die myndam kampeer.”
In 1977 het by aan die Normaalkollege op Pretoria gaan onderwys studeer en as iemand wat borrel van lewensvreugde, sy studentedae ook baie geniet.
Daarna is hy vir militêre diensplig na die Infanterieskool op Oudtshoorn en toe na 113 Bataljon op die oewer van die Letabarivier waar hulle gehelp het met die opleiding van die destydse Gazankulu-weermag in die omgewing van die Letaba Ranch. “Jissie, dit was fantasties gewees en my liefde vir die natuur is opnuut bevestig.”
In dié tyd het hy ook besef hy is eintlik ‘n militaris in murg en been, maar na sy diensplig het hy op Messina gaan skoolhou. Daar het hy Elna, ‘n jong onderwyseres, ontmoet en hulle is in die middel 1980’s in die enigste restaurant in die omgewing op Tshipise verloof geraak.
Elna het aanhou skoolhou, in ‘n stadium afgetree, maar toe weer betrokke geraak en tree einde April vanjaar uit as departementshoof van die grondslagfase. “Ons is al 40 jaar getroud en het al ‘n paar sakke sout saam opgeëet.”
Hulle het drie kinders: twee dogters, Celeste en Minette, in hulle dertigs, en die laatlam Johan (23). “My vyf kleinkinders is die trots van my lewe en hulle hou hulle oupa baie besig!” Oudste dogter, Celeste, woon in Pretoria, Minette in Heuweloord op Krugersdorp en Johan, wat nog studeer, op die plaas by Jan en Elna.
Na drie jaar in die onderwys het Jan besef die beroep tiek nie al die boksies nie en hy is na die Departement van Landbou se Veeartstenydienste. Kort voor lank het hy ‘n veeinspekteurskursus gedoen, maar admin in die kantoor het hom besig gehou en hy het nie by veldwerk uitgekom nie.
In 1989 het hy ‘n ook kursus in opleidingsbestuur gedoen en die hoofopleidingsbeampte vir die landboudepartement geword.
Voor provinsialisering is hy terug na veeartsenydienste in die voormalige ou Transvaalstreek waarvan die veeartsenygrense van die Botswanagrens tot by Swazilandgrens gestrek het.
- Kmdt Jan Nel tydens ‘n patrollie by Mapungubwe op die noordelike grens van die land. (Bron: Verskaf)
- Sjef aan die braai tydens ‘n kuier op die plaas waar hy, Elna en Johan woon. Johan is nog ‘n student. (Bron: Verskaf)
Ingebore militaris in aksie
Terwyl hy by Gauteng Veeartsenydienste gewerk het, het hy opnuut besef hy is hart en siel ‘n militaris. “Ek het kampe gedoen en later by die SAPD se Reserwemag aangesluit en ook ‘n jaarkursus gedoen.”
In 1992 het hy uitgepasseer as die beste student in Distrik 92 en het normale diens by die Cullinan Uniformtak gedoen.
Hy is later gewerf vir die Eenheid vir die Beskerming van Bedreigde Spesies (Endangered Species Protection Unit of ESPU). “Ek het lekker gewerk met goed wat my na aan die hart lê,” vertel hy.
Toe dié eenheid ontbind is hy oorgeplaas na die Cullinan-veediefstaleenheid, waar hy 19 jaar na-ure gewerk het. “Dit het my werk by Veeartsenydienste baie gehelp. Ek kon weens my polisie-agtergrond ‘n redelike verskil maak.”
In daardie stadium het hy en die voormalige hoofdirekteur dr Malcolm de Budè koppe bymekaar gesit en besluit dit is ‘n goeie idee om ‘n veeartseny-wetstoepassingseenheid van die grond af te kry. Die eenheid is gestig met vier wetstoepassingsbeamptes en Jan as hoof.
Op ‘n kol het die Nasionale Veeartsenydienste hom genader en gevra of hy kan help met die beheer van onwettige invoer van vleis en hy het sommer gou positiewe resultate gelewer.
Hy is van die provinsiale kantoor na die nasionale departement oorgeplaas. Maar net voor hy na die nasionale departement oorgeplaas is, het hy die voorreg gehad om ‘n kursus by die Universiteit van Pretoria te doen wat hom gekwalifiseer het as omgewingsbestuurs-inspekteur, oftewel ‘n Groen Skerpioen. “Dit het goed ingepas by my liefde vir wat ek doen, maar ek dié titel verloor toe ek na die nasionale departement oorgeplaas is.”
As assistent-direkteur van Veeartseny se Wetstoepassingseenheid het hy onder die onderskeie wette vir die departement van veterinêre volksgesondheid en die departement van veterinêre dieregesondheid wetstoepassing en -vertolking vir albei departemente gedoen. Hy het omgesien na onwettige slagtings en vleisgesondheid, maar ook die welstand van diere.
Toe die regisrateurspos vir diere-identifikasie oopgaan, is hy gevra om die addisionele pos van registrateur van brandmerke te word. “Ek het ingestem want daar is noue skakeling tussen wetstoepassing en of brandmerke gedoen en veral reg gedoen is vir identifisering en naspeurbaarheid van diere.” Hy s deur die minister aangestel en het die rol tot so twee-en-‘n-half jaar terug vertolk.
Op 1 April 2023 is hy oorgeplaas na die nuutgestigte grensbestuursowerheid (GBO) se gespesialiseerde dienste waar hy met die rang van kommandant veeartsenykundige wetstoepassing gedoen het.
“Ek het afgetree as ‘n offisier met die rang van kommandant en toe het ek hier by die huis gesit, en ek kan nie net sit en niksdoen nie, ek voel nog jonk van gees.”
- Kmdt Jan Nel met versteekte drank wat hy tydens ‘n roetinebesoek by die Lebombo-grenspos gekry het. (Bron: Verskaf)
- Die foto van kmdt Jan Nel is geneem tydens ‘n presidensiële indaba by Middelburg om die bestaan van die GBO te bemark. (Bron: Verskaf)
Nuwe uitdaging
Na ‘n gesprek met Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van RMIS dr Philip Oosthuizen, hoof operasionele beampte, het hulle hom gevra om betrokke te raak. “Ek het die geleentheid aangegryp om steeds besig te wees en my passie vir boere, die boeregemeenskap en veral veeboere, uit te leef.”
Hy is deur dr Mpho Maja, die Direkteur van Dieregesondheid, onder die Wet op Dieregesondheid aangestel met die mandaat om sekere seksies van die wet toe te pas. Die aanstelling gee hom volle magte om dieresiektes en enigiemand wat biosekerheidsregulasies oortree, by dr Maja aan te meld.
“Ek het volle magte en tande om namens dr Maja sake te ondersoek, tydens padblokkades voertuie af te trek, en die wet toe te pas. Ek is dankbaar dat sy my vertrou om namens haar op te tree.”
Daar is baie uitdagings, maar dit is mos sy kos. Dit sluit die onwettige skuif van diere uit beheergebiede in. “Mense is nie so eerlik as wat hulle behoort te wees nie en smokkelhandel en poreuse grense maak dit makliker om die wet te oortree.
“Ek glo en vertrou en ken die boeregemeenskap, 99% van hulle wil saamwerk en biosekerheid toepas, maar dit vat net een besmette dier om al die diere in ‘n nuwe gebied te besmet.
“Die wat nie wil hoor nie, sal maar moet voel, en ek gaan hulle vir seker aankla. Dit gaan oor volhoubaarheid, en al die boere kry swaar. Ek doen die regte ding omdat dit reg is.”
Kontakbesonderhede
Kontak kmdt Jan Nel by biosecurity1@rmis.co.za of 066-117-2289





