Karoo Skilderstoet: Klein begin, groot gewin

Bokke 4
Een van die jong ooie wat stoetmateriaal is. (Bron: Karoo Skilder Stud)
Tracey Michau het haar eerste 10 Kaapse skilderbokke 10 jaar gelede met geleende geld gekoop. Sy meen dit was die beste besluit wat sy nog geneem het, want vandag is haar Karoo Skilderstoet en kommersiële kudde in sulke groot aanvraag dat sy nouliks kan bybly om gehalte teeldiere aan gretige kliënte te verskaf.
Tracey en haar man, Toby, boer op die plaas Kareekloof en Orange Grove in die omgewing van Cradock in die Kamdeboostreek van die Oos-Kaap – twee titelaktes op dieselfde 3 400 ha-grond wat Toby se oupagrootjie, Paul Willem Michau, in 1878 gekoop het.
Sy boer met haar Kaapse skilderbokke, terwyl Toby omsien na die Bonsmaras en Jerseys asook wild soos koedoes en blesbokke. “Dit is ’n vennootskap en ons is daar om mekaar te help as dit nodig is.
“Dit is ’n groot ekstensiewe plaas met hoofsaaklik soetveld, meer geharde grasse en Karoostruike,” vertel Tracey. “Die soort veld is uiters geskik vir inheemse veldbokke wat van nature blaarvreters is en floreer op struike eerder as gras.”
Die gebied het egter ook sy uitdagings. “Die reënval is onvoorspelbaar en laag met tussen 350 en 650 mm per jaar wat gewoonlik gepaardgaan met sporadiese donderstorms in die somer, eerder as deurdringende reën.”
Die klimaat is ook tipies Karoo met uiterstes. Somers is droog en baie warm met temperature wat gereeld bo 30 °C styg, terwyl die winter gewoonlik bitter koud is. Ryp is algemeen. “Dis ’n tawwe omgewing, maar ons werk saam met die natuur. Dit is hoekom ons fokus op geharde, goed aangepaste diere wat sonder te veel inmenging onder hierdie omstandighede kan produseer.”

Savannah (9) help graag met die skilderbokke. (Bron: Karoo Skilder Stud)
Karoo Skilderstoet
Tracey het destyds nege ooie en ’n ram by ’n jong vrou van Murraysburg gekoop met die doel om ’n volhoubare boerdery te skep. Met versigtige seleksie en ’n praktiese benadering het sy ’n produktiewe stoet gevestig wat goed aangepas is by die omgewing.
“Elke dier in die stoetkudde het ’n doel, hetsy vrugbaarheid, moederinstink, gehardheid en die vermoë om sterk lammers onder ekstensiewe toestande groot te maak.
“Vandag vorm die stoet ’n beduidende deel van ons groter boerdery deur teeldiere van hoogstaande gehalte te lewer wat aan ander boere wat ook taai teeldiere wil hê, verkoop word.”
Tracey en Toby het ook ’n kommersiële kudde.

Die skilderbokke word geteel om sonder te veel aandag aan te pas by die klimaat en veldtoestande. (Bron: Karoo Skilder Stud)
Teling
Volgens Tracey is daar altyd vyf ramme by die stoetooie. “Ek glo aan meer as een teelram – die sterkste ram sal in elk geval meer ooie dek en genetiese verskeidenheid verseker.”
Ter wille van nuwe genetika word die ramme elke twee en ’‘n half jaar vervang, hetsy met hul eie teelramme of ramme wat sy by ander telers koop.
Ramme onder die aanwas wat nie as teelramme geskik is nie, word gekastreer en as kapaters verkoop. Toekomstige teelramme loop saam met die kapaters in ’n kamp.
Die regte teelmateriaal is die sleutel tot sukses. Tracey kies teeldiere met die doel om ooglopende foute en minderwaardige diere uit te skakel. “Teelramme is skaars, maar goeie ramme is nodig vir die kudde se algehele gesondheid, groei en genetiese potensiaal, asook gehardheid en produktiwiteit. Die kudde moet ook sonder medikasie, inenting en aanvullende voer in intensiewe omstandighede kan aanpas.
“Ons het nie ’n vasgestelde dektyd nie, maar volg ’n natuurlike teelsiklus met so min as moontlike inmenging. Dit gee die bokke kans om hulle natuurlike voortplantingsritme te volg.”
- Toby Michau en die egpaar se negejarige dogter, Savannah, wat reeds van kleins af saam met die bokke grootword. (Bron: Karoo Skilder Stud
- Tracey is passievol oor haar Karooskilderstoet, en alles wat sy weet het sy uit ondervinding geleer. (Bron: Karoo Skilder Stud)
Lamseisoen
Goeie bestuur tydens lamtyd is die tweede en ewe belangrike sleutel tot sukses, sê Tracey. Tot 80% van die ooie lam twee maal per jaar, naamlik in Mei/Junie en in November, wat goed inpas by die Karoo se toestande. Die oorblywende ooie lam elke agt maande.
“Ons mik vir ’n lampersentasie van tussen 150% en 160% met ’n goeie balans tussen enkel- en tweelinglammers, maar sonder om te veel druk op die ooie te plaas. Dit is vir ons belangriker dat die boklammers suksesvol gespeen word en wanneer hulle op drie weke in die veld saam met die ooie begin wei, kan oorleef.”
Goeie bestuur tydens die eerste paar dae nadat die ooie gelam het, is kritiek.
“Die ooie lam in kampe wat beskut is teen die weer en roofdiere. Daar is 20 ooie in ’n lamkamp sodat ons hulle kan moniteer. Ons maak elke dag seker dat elke boklam gedrink het en dat die ooi genoeg melk het. ’n Oorvol uier of ’n swak lam kan tot verliese lei as ’n mens nie betyds optree nie. Dit is noodsaaklik om heeltyd by te wees.
“Koue en blootstelling word bestuur deur saam met die natuur te werk; beskutte lamkampe bied beskerming teen die wind en slegte weer. Lammers wat van die begin af sterk is, oorleef makliker.”
Omdat roofdiere soos jakkalse, rooikatte en bobbejane immer ’n faktor is, word die kudde snags gekraal. Dit verskaf ekstra beskerming vir veral jong diere en speel ’n belangrike rol in die bekamping van verliese.
Die plaas se grensheinings word ook eenkeer ’n week te perd inspekteer ter wille van veiligheid en sekuriteit en om seker te maak die infrastruktuur word in stand gehou.
Zed, ’n Anatoliese herdershond en Xena, ’n ’n kruising tussen ’n Anatoliese en Kaukasiese-herdershond, is altyd by die bokke. Hulle is met GPS-halsbande toegerus sodat Tracey op haar foon kan sien wanneer die honde onrustig is. Saans wanneer die bokke gekraal word, slaap die honde by hulle.
- Een van die vyf ramme wat by die Kaoo-skilderstoetooie loop. Goeie ramme is skaars en Tracey moet mooi uitsoek wanneer sy die ramme elke twee en ’n half jaar vervang. (Bron: Karoo Skilder Stud)
- Rekordhouding is uiters belangrik om te verseker dat daar vooruit geboer word. (Bron: Karoo Skilder Stud)
- Elke dier in die stoetkudde het ’n doel, hetsy vrugbaarheid, moederinstink, gehardheid en die vermoë om sterk lammers onder ekstensiewe toestande groot te maak. (Bron: Karoo Skilder Stud)
Rekordhouding
Noukeurige rekordhouding is die derde belangrike sleutel tot sukses. “Ek hou boek van al die diere in die stoet sodat ek vordering kan dophou, kan bepaal waar ek kan verbeter, en om ingeligte besluite oor teelmateriaal en algehele kuddebestuur te kan neem.”
Bemarking
Volgens Tracey is een van die grootste uitdagings tans om genoeg gehalte teeldiere te lewer om aan die vraag te voldoen.
“Daar was die afgelope paar jaar ’n beduidende verskuiwing na meer boere wat die waarde van ’n boerdery met lae-inset, goed aangepaste diere soos inheemse veldbokke besef. Daar is ’n toenemende vraag na goeie teeldiere en die uitdaging is om ’n balans te vind tussen ons eie kudde se ontwikkeling en om teelmateriaal aan die mark te verskaf.”
Tracey se bemarking is gebaseer op geloofwaardigheid, deursigtigheid en ware resultate, eerder as konvensionele bemarking.
Sy bemark deur openlik te deel wat sy doen, veral op Facebook. “Ons lewer daagliks verslag oor wat ons doen. Die deursigtigheid bou geloofwaardigheid en mense kan presies sien hoe die bokke bestuur word en hoe hulle onder die Karoo-omstandighede reageer. Die mense wat ons op Facebook volg, word dikwels ons kliënte.
“Ons vertrou ook op direkte kommunikasie, veral met WhatsApp, om navrae en verkope te hanteer. Dit hou sake persoonlik en doeltreffend.
“Ons het ’n sterk reputasie opgebou deur deurlopend goed aangepaste teeldiere van gehalte te verskaf. Wanneer boere goeie resultate kry van diere wat van ons af kom, laat hulle ons weet en hulle deel hulle ervaring met ander. Ons groei is in hierdie bemarking gesetel.”
Tracey se Karoo Skilderstoet-handboek vervul ook ’n ander belangrike rol. Dit is nie net ’n joernaal van haar eie boerdery nie, maar ook ’n bron van praktiese kennis oor die teel van skilderbokke vir boere wat ernstig daaroor is om hul eie stelsels te verbeter.
Plaas Tracey se leerskool
Tracey het nie op ’n plaas grootgeword nie, maar deur ondervinding geleer. “Ek het die boerdery van niks af opgebou en geleer soos wat ek aangegaan het. My paadjie met landbou het gepaard gegaan met praktiese ondervinding, gedryf deur vasberadenheid, nuuskierigheid en my passie om met diere te werk.”
Die Bonsmaras en Jerseys word bemark maar ook vir eie vleis en melk gebruik. Die melk word ook ingespan as voeding vir die lammers. Van die Jersey- en bokmelk maak Tracey kaas. Sy het ook ’n boek geskryf oor die maak van kaas: Cheesemaking: The Ultimate Guide for the Self-Sufficient Homesteader: Artisanal Cheesemaking Made Simple!.
Die paartjie se dogter, Savannah (9), is net so lief vir die bokke en sy is elke dag besig met haar eie takies. Toby se twee volwasse seuns, Paul en Brett, is onderskeidelik bestuurder by een van die grootste varkboerderye in die land, en ’n kardiopulmonêre chirurg. Haar eie volwasse seun, Connor, is in IT.
Volgens haar was haar beste leerervaring die praktiese ondervinding op die plaas. “Om in die Karoo te boer leer jou veerkragtigheid, geduld en die vermoë om aan te pas – dit is ’n volgehoue leerproses.
“Ons boerdery is ’n familiepoging, al is nie al ons kinders direk dag tot dag betrokke nie. Dit is ’n vennootskap waarin ons mekaar ondersteun, wat belangrik is in ’n boerderystelsel soos ons s’n, sê Tracey
“Wat as ’n droom en ’n stokperdjie begin het, het gou ontwikkel tot ’n ernstige, winsgewende onderneming. Uit die staanspoor was my fokus om ’n kudde van goed aangepaste inheemse veldbokke te bou wat nie baie insette verg nie en onder ware Karoo-toestande kan floreer.”
Veiling
Haar bokke kom nooit naby ’n veilingskraal nie, sê Tracey. “Die vraag na ons teelmateriaal is reeds so sterk en buiten dat dit tyd verg om veilings by te woon, neem dit my weg van my boerdery. Ek verkoop direk aan kopers wat ons in staat stel om goeie verhoudings met hulle te bou en seker te maak die regte diere gaan na die regte stelsels.”
Bêrekoop-opsie
Die informele markvraag na bokke wat aan spesifieke kulturele of velpatrone voldoen, is ook beduidend en van die bokke word uit die hand verkoop. “Die vleis is gesog omdat dit ’n besondere smaak het en gesond is.”
Om boerdery met die bokke meer toeganklik te maak, bied sy ’n ses maande bêrekoop-opsie. “Ek het self nie met baie kapitaal begin nie, so ek verstaan hoe belangrik dit is om geleenthede vir nuwe en opkomende boere te skep om tot die bedryf toe te tree.”
Omdat hulle ’n geslote kudde het en geen nuwe diere sedert die uitbreking van bek-en-klouseer ingebring het nie, het die siekte byna geen invloed op haar boerdery gehad nie. “As ek nuwe genetika wil inbring, sal dit onder streng kwarantynprotokol geskied.”
Volgens haar is daar toenemende belangstelling buite landsgrense. “ ’n Koper van Zimbabwe het al bokke deur die bêrekoop-opsie bekom, en ons hou daardie diere terug totdat bewegingsbeheer ons toelaat om weer diere uit te voer.”
Tracey het vroeg al by die Inheemse Veldboktelersgenootskap aangesluit en vind baat by inligting oor teelpraktyke en kuddebestuur ter wille van die behoud en ontwikkeling van die ras.
Biologiese bestuur van indringerplante word sonder skadelike chemikalieë gedoen, terwyl bosluisbeheer deur renostervoëls – wat nie deur die biologiese bestuur beïnvloed word nie, gedoen word.
Tracey en Toby beskerm die veld deur die toepassing van rotasiebeweiding.
Kontak Tracey Michau by 083-286-5222 of per e-pos by traceymichau@gmail.com of besoek die Faceboek-blad onder Karoo Skilder Stud.




