Categories: NuusPublished On: 24th April 2018

Jongboerekongres – innovering is die sleutel tot sukses

By 3 min read
607 words
Suidwes Groep

DSC_04431

Die drie finaliste wat in vanjaar se Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar meegeding het, is Marnus Bothma, Gerhard Strydom en JP van den Berg. By hulle is Hansie Viljoen, Voorsitter van die Suidwes Direksie (links) en dr Herman van Schalkwyk, hoof uitvoerende beampte van die Suidwes Groep (regs).

Daar is inderdaad hoop vir die toekoms in die landbousektor, veral omdat vandag se jong boere die belangrikheid van verandering, innovasie en kreatiwiteit raaksien en ook so in hulle boerderypraktyke in werking stel. Dit was die algemene gevoel onder landbouboere tydens die jaarlikse Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar kongres.

Suidwes Landbou, as hoofborg van die kongres, het onlangs dié spoggeleentheid in samewerking met Agri NW by die Uurpan Lodge buite Schweizer-Reneke aangebied. Tydens sy groeteboodskap, het dr Herman van Schalkwyk, Groep  se hoof uitvoerende beampte van Suidwes gesê dat landbouboere- en maatskappye deesdae meer uitdagings in die gesig staar as ooit tevore.

“Dit is belangrik dat ons mekaar in hierdie tyd ondersteun, help en bystaan. In die verlede het die landbousektor verskeie aanslae oorleef en selfs sterker aan die ander kant uitgekom. Ons jong boere is belangrik, want hulle is ons toekoms. Juis daarom is dit belangrik dat ons hulle met inligting, kennis, advies en ondersteuning bemagtig. Hulle moet nie net die volhoubaarheid van die landbousektor en voedselsekuriteit verseker nie, maar dit selfs tot hoër hoogtes neem.”

Dr van Schalkwyk het ons jong boere gekomplimenteer vir dit wat hy waarneem. “Ek het volle vertroue in ons jong boere. Daar steek iets in hulle. Ek sien ambisie, harde werk en uithouvermoë. Alles wat nodig is om ‘n sukses van ‘n boerdery te maak. Dankie vir die geleentheid om julle te kan bystaan met inligting en raad, professionele dienste en gehalte produkte. Mag elkeen van julle daarna streef om elke dag jou heel beste te gee.”

Die dag se paneelbespreking het kundige advies oor die optimale bestuurspraktyke en kostedoeltreffendheid in boerdery opgelewer. Dr Herman van Schalkwyk het as fasiliteerder opgetree, met dr Flippie Cloete (Terratek, Landbou-ekonoom), Johan Jordaan (Terratek, Akkerboukundige), Marnus Bothma (finalis) en JP van den Berg (finalis) as paneelgaste.

Tydens die geleentheid is die drie boere wat as finaliste van die jongboer van die jaar bekendgestel. JP van den Berg is uiteindelik as Agri Noordwes se Jongboer van die jaar aangewys. JP boer die afgelope nege jaar in die Tosca/Vergeleë-distrik. Hy boer om ʼn deel van die plaas en bestuur die hele boerdery self. Die boerdery bestaan uit ʼn 70% saadaartappelboerdery, 25% kommersiële veldbeeste, 3% Brahmanstoetery, 2-3% Borseltjie, Blou- en Witbuffelgrassaadboerdery wat wissel na gelang van die seisoen, 2% hoenderslagpale en 3% wildboerdery. JP is van mening dat landbou die hartklop van enige land se ekonomie is en dat jong boere op hoogte moet bly en moet fokus op die snelveranderende tegnologie en die toepassing daarvan in hulle ondernemings.

Dr van Schalkwyk het hom geluk gewens en gesê dit is ʼn voorreg dat vanjaar se jongboer van die jaar uit Suidwes Landbou se bedieningsgebied kom.

Twee ander finaliste het ook in die kompetisie meegeding. Marnus Bothma boer die afgelope veertien jaar in die Mareetsane-distrik. Hy behartig die boerdery selfstandig en is die alleeneienaar van die plaas. Sy boerdery bestaan uit 48% mieliegewasse, 5,1% sonneblomgewasse, 4,8% grondboongewasse, 10,6% kommersiële beesboerdery, 30% voerkraalboerdery en 0,9% wildboerdery.  Marnus is van mening dat jong boere daarop moet fokus om innoverend te dink en om daarna te streef om ʼn meer positiewe beeld van die boer na buite uit te dra. Hy sê ook dat innovasie die sleutel is om volhoubaar te produseer wat tot voedselsekuriteit sal bydra.

Die derde finalis, Gerhard Strydom, boer die afgelope sewentien jaar in die Ventersdorp-distrik. Die boerdery word in samewerking met sy pa en twee broers bedryf. Gerhard is verantwoordelik vir die besproeiing-, bees-, eksotiese wild-, skaapboerdery-, en diamant delwery. Hy is van mening dat jong boere ʼn kardinale rol in die mentorskap van opkomende boere het om te vervul om sodoende volhoubare voedselproduksie en ook werkskepping te bevorder op die platteland.

Bron: Suidwes Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0