Categories: News, Resource managementPublished On: 10th October 2016

Jasper: Die grootste sonplaas in SA

By 3 min read
549 words
Jasper-sonplaas

jasper-okt-feature

Die grootste sonplaas in die land en een van die grootstes in Afrika, is die Jasper-sonplaas net buite Postmasburg in die Noord-Kaap. Dit is deur SolarReserve, ’n wêreldwye ontwikkelaar van grootskaalse sonenergieprojekte, opgerig.

Die naam, Jasper, is Engels vir jaspis, ’n soort klip wat algemeen in die Noord-Kaap voorkom en maklik op die sonplaas uitgeken kan word. Jasper-sonplaas is 150 hektaar groot en sy meer as 325 000 fotovoltaïese modules lewer 96 megawatt DC (gelykstroom), wat na 75 megawatt wisselstroom omgeskakel word. Dit beteken dat die sonplaas jaarliks 180 000 megawatt-uur lewer, wat genoeg is om 80 000 huishoudings van elektrisiteit te voorsien.

Kevin Smith, die wêreldwye besturende direkteur van SolarReserve, sê hulle het op die Noord-Kaap besluit omdat die son daagliks helder skyn en die lug suiwer is. “SolarReserve kies sy projekte versigtig in markte met ’n sterk onderliggende ekonomiese beweegrede in hulle guns. Die Jasper-projek, soos alle SolarReserve-projekte, is so ontwikkel dat die projek finansiering kan bekom,” voeg Kevin by.

Die krag wat die sonplaas opwek, gaan na Eskom se netwerk. “Huise en organisasies naaste aan die sonplaas sal eerste die elektrisiteit ontvang,” verduidelik Kevin. “Daar is ’n paar myne in die sonplaas se omgewing waarnatoe baie van die elektrisiteit gaan,” sê hy. Die sonplaas se 325 360 sonpanele word twee keer per jaar skoongemaak.

Hoe gaan die sonplaas te werk?

Jasper se fotovoltaïese selle skakel sonlig oor na gelykstroom-elektrisiteit. Die krag wat hulle vanaf die son kry, is gelykstroom en dit moet na wisselstroom omgeskakel word voordat na die netwerk gestuur kan word om huise en organisasies van krag te voorsien. Die omskakeling word betroubaar gedoen deur omskakelaars in die sonplaas se 39 AC Power Blocks™.

Agt weerstasies op die sonplaas vertel presies hoeveel son die sonpanele ontvang, want die een nadeel van fotovoltaïese aanlegte is dat hulle net elektrisiteit produseer wanneer die son skyn. “Projekte soos Jasper verskaf nie net elektrisiteit aan Suid-Afrikaners nie, maar ook werksgeleenthede en ’n skoner omgewing. “Die Jasper-projek het 800 regstreekse konstruksie- en bykomende werksgeleenthede geskep wat verband hou met toerustingvoorsiening, vervaardiging, ingenieurs-, vervoer- en ander dienste,” sê Kevin.

Die sonplaas dra ook tot ekonomiese ontwikkeling by aangesien net 88% van Suid-Afrikaanse huishoudings toegang tot elektrisiteit het. “Een van ons projekte is die Kgatelopele-biblioteek in Daniëlskuil. Jasper het gehelp om die biblioteek in ’n belangrike leersentrum vir kinders en volwassenes te omskep. Hulle het opvoedkundige speelgoed vir kinders, ensiklopedieë vir die wat studeer en rekenaars en drukkers geskenk.”

SolarReserve het nog ’n groot projek wat binnekort langs Jasper sy opwagting gaan maak en ook die eerste van sy soort in Afrika gaan wees, naamlik die Redstonegesmeltesouttoring. Hierdie sonplaas bestaan uit ’n hoë toring en om die toring is 10 000 spieëls. Daar is ’n ontvanger bo-op die toring waarin sout gebruik word, wat deur die weerkaatsing van die son verhit word om elektrisiteit op te wek.

Die energie word as hoë-temperatuur gesmelte sout opgeberg totdat die elektrisiteit benodig word. “Hierdie sonplaas sal dag en nag krag verskaf, waar ’n ander een dit slegs kan doen indien die son skyn.”

 

Jasper-sonplaas

Die son skyn lekker helder op die panele en wek elektrisiteit op vir die mense in die omgewing.

Jasper-sonplaas

So lyk tegnologie: Jasper-sonplaas van ver af.

Jasper-sonplaas

Die klip, jaspis, kom algemeen voor op die sonplaas se terrein. Die sonplaas se naam kom van die Engelse
woord vir jaspis, naamlik jasper.

1

Deel hierdie artikel.

2 Comments

  1. Dané Stroebel 13th March 2023 at 19:44 - Reply

    Hi ek is besig met n ondersoek oor sonkrag in Suid-Afrika en ek kort n bietjie meer inligting oor Jasper. Is daar dalk n website waarna julle my kan verwys of het julle dalk vir my meer inligting?

Leave A Comment

1