Categories: NuusPublished On: 30th September 2025

Is biosekuriteit Suid-Afrika se swakste skakel in landbou?

By 4 min read
859 words

Daneel (high res)-3

Daneel Rossouw

Die verspreiding van bek-en-klouseer na van die land se grootste voerkrale vroeër vanjaar het weereens ‘n sistemiese uitdaging blootgelê – een wat dreig om ons boere uit wêreldmarkte te sluit. Daneel Rossouw, Hoof van Verkope by Nedbank Landbou, sê sterker biosekuriteitsmaatreëls is noodsaaklik as Suid-Afrika se veesektor sy volle potensiaal in die wȇreldvleismark wil bereik.

Diereproduksie is die grootste subsektor in Suid-Afrikaanse landbou en is verantwoordelik vir meer as die helfte van die bedryf se totale waarde. Dit dra duisende kommersiële en opkomende boere, asook miljoene werksgeleenthede regdeur die waardeketting – van die voerkraal en slagpale tot vervoer, kleinhandel en uitvoere.

Hoewel plaaslike aanvraag steeds ‘n aansienlike deel van veeverbruik uitmaak, het swak ekonomiese groei werklike besteebare inkomste laat stagneer. Daarom bied uitvoermarkte, ondanks toenemende risiko’s en veranderings in wȇreldhandel, ‘n ideale geleentheid vir groei.

Die herhalende uitbreek van dieresiektes belemmer vooruitgang. Bek-en-klouseer, voëlgriep en varkpes het al almal tot ‘n verbod op handel gelei, wat miljarde rande se uitvoerinkomste gekos het. Wanneer lande soos Saoedi-Arabië, Sjina of die EU hul markte sluit, verloor Suid-Afrika nie net verkope nie, maar ook geloofwaardigheid. Kopers draai vinnig na mededingers soos Brasilië, Australië of Namibië wat konstante, siektevrye voorraad kan waarborg. En dit neem jare om sulke verhoudings te herstel – indien herstel enigsins moontlik is.

Wat dit des te meer frustrerend maak, is dat Suid-Afrika alles het wat nodig is om ‘n wêreldleier in vleisproduksie te wees: bees-, skaap-, vark- en hoendervleis van ‘n hoë gehalte met uitstekende smaak. Die aanvraag is daar, veral in die Midde-Ooste en Asië, waar proteïenverbruik aan die toeneem is, maar sonder betroubare biosekuriteit en naspeurbaarheid bly hierdie gulde geleenthede buite bereik.

Dit gaan nie net oor uitvoermarkte nie

Plaaslik is vleisverbruik per persoon bestendig en sal na verwagting groei, maar dieresiektes lei tot geweldige hoë koste regdeur die waardeketting. Boere dra die koste van inenting en inperking; die regering dek uitbrekingsbeheer en vergoedingkoste; die verbod op dierebeweging ontwrig verkope aan voerkrale en slagpale; en uitbrake soos voëlgriep wis groot getalle pluimvee uit, wat boere dan ten duurste weer moet aankoop. Verbruikers betaal meer weens minder voorraad, en bestaansboere – wat nie die kapasiteit het om verliese te absorbeer of toegang tot aanlyn veilings het nie – word dikwels gedwing tot noodverkope of afleggings.

Die probleem lê nie by boere se kundigheid nie, maar by ‘n gefragmenteerde en onderbefondsde dieregesondheidstelsel. Dieretoesig, inenting en naspeurbaarheid is wisselvallig; samewerking tussen die regering en die bedryf is inkonsekwent; noodreaksie kom dikwels te laat; en gapings in die stelsel laat siektes vinniger versprei as wat behoort te gebeur, wat ‘n vebod op uitvoere en duur beheermaatreëls onvermydelik maak.

Daar is lig aan die einde van die tonnel

Ondanks hierdie uitdagings is daar tog tekens van vordering. Tydens die Nasionale Biosekuriteitberaad in Junie het rolspelers uit die regering, die akademie en die landboubedryf hulle tot ‘n 5-jaar biosekuriteitsstrategie verbind. Voorstelle sluit nuwe wetgewing, afdwingbare reëls, ‘n plaas-tot-verbuiker-naspeurbaarheidstelsel, en beter samewerking tussen sektore in.

Die samewerking tydens die onlangse uitbraak van bek-en-klouseer was ook bemoedigend. Die Departement van Landbou en vennote in die bedryf het vinnig opgetree om voerkrale te isoleer en die diere in te ent. Nog ‘n positiewe aspek is die navorsing deur die RMIS (Rooivleisbedryfsdienste), wat bevestig het dat die variante van bek-en-klouseer in Suid-Afrika van die dodelike variante elders in die wêreld verskil. Dit help om uitvoerrisiko’s in perspektief te stel en vertroue in internasionale markte te herstel.

Hierdie momentum is wel bemoedigend, maar tog broos. Volgehoue toewyding, behoorlik befondsde implementering van strategieë, en strukturele hervorming is noodsaaklik. Nuwe entstofinfrastruktuur, wetgewing oor naspeurbaarheid wat aan internasionale standaarde voldoen, en sterker vennootskappe tussen die openbare en private sektor moet deel wees van die plan vorentoe. Gedeelde verantwoordelikheid regdeur die waardeketting, van die plaas tot by die verbruiker, is uiters belangrik.

Die sakewȇreld moet ook inspring

Landbou lȇ Nedbank na aan die hart, en as leier in die bedryf borg die bank verskeie landbou-inisiatiewe. Hierdie borgskappe, hoewel simbolies, beklemtoon Nedbank se toewyding om produsente te bemagtig, bedryfsweerbaarheid te versterk, platforms vir dialoog te skep, en sterker biosekuriteitsnorme te bevorder.

Ons borgskappe sluit die MPO (Melkprodusente-organisasie) se rentmeesterskaptoekennings, wat volhoubaarheid en beste praktyke in die suiwelbedryf bevorder, asook die MPO Wes-Kaap algemene jaarvergadering en die RPO-kongres (Rooivleisprodusente-organisasie), wat by NAMPO Kaap 2025 gehou is, in.

Tydens die RPO-kongres het produsente die waarde van naspeurbaarheidstelsels beklemtoon – nie net vir uitvoervereistes nie, maar ook as vroeë waarskuwingstelsels om siektes te beheer. Naspeurbaarheid beteken beter inkomste, doeltreffender produksie, en hoër gehalte produkte wat goeie pryse behaal. Grootskaalse implementering kan die impak van uitbrekings verminder, maar weens die onsekerheid oor waar die diere hulle bevind, moet groot gebiede tans afgesluit word.

Dit is nou die tyd om te reageer. Die lewensbestaan van duisende mense, nasionale voedelsekuriteit, en die toekoms van Suid-Afrika se uitvoer van diereprodukte hang af van die vermoë om hierdie krisis in volhoubare voortuitgang te omskep. Tensy biosekuriteit en naspeurbaarheid nasionale prioriteite word, sal die bedryf onder druk bly en die risiko loop om toegang tot kritieke uitvoer- en groeigeleenthede mis te loop, wat die voordele vir boere en landelike gemeenskappe beperk.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0