Categories: Artikels, BesproeiingPublished On: 8th February 2024

Irrigation Unlimited steek grense oor op ultra-hoëdruk weidingstelsel

By 7 min read
1430 words

Screenshot 2022-11-07 113004

Die water-aangedrewe besproeiingstelsel werk amper soos ՚n katrol aan ՚n visstok. Soos die water deur die pyp vloei, draai die katrol en rol die pyp op. Die pyp trek dus die kanonspuit nader en nader totdat die hele strook besproei is.

Kanonkruipspuite pas nie in elke boer se boerdery nie, maar die Ocmisbesproeiingstelsel het Alex Wray van AJ Boerdery se boerdery na nuwe hoogtes gestuur. Te danke aan Irrigation Unlimited wat hierdie masjiene van Italië af invoer, kan sy kalwers hulleself trommeldik vreet aan voedsame, sappige groen grassies.

Alex boer nou al 20 jaar op sy plaas naby Tarlton in Gauteng. Dit is hoofsaaklik ՚n beesboerdery met ՚n voerkraal, maar hulle plant ook elke jaar 200 ha mielies vir kuilvoer in die voerkraal en weiding.

Alex boer met Bovelders, maar vir die voerkraal koop hulle enige goeie beesras se ligte kalfies aan. “Ons probeer altyd so 2 000 in die voerkraal hou en so 1 500 op die agtergrond,” verduidelik Alex. Hulle koop ook skape in vir vetmaak, meestal Ile de France, Merino’s of ander vleisrasse.

Toe Alex dertien jaar oud was, het hy saam met sy ouers van Zimbabwe na Suid-Afrika verhuis. Alhoewel daar familie by die boerdery betrokke is, is dit nie ՚n familieboerdery nie. “My pa is ՚n rekenmeester, so hy het aanvanklik op die myn gaan werk,” vertel hy. “My passie vir boer kom al ՚n lang pad. My oupa-hulle was beesboere in Zimbabwe. Daar is uitdagings in boerdery, maar ek het nog altyd gesê dit is wat ek wil doen.”

Alex Wray van AJ Boerdery by een van sy Ocmis-kruipspuite.

Na skool is Alex landboukollege toe waar hy sy diploma behaal het en daarna het hy twee jaar lank vir iemand geboer. “Ek begin toe met die beeste spekuleer en die geld wat ek daaruit gekry het, het ek gebruik vir grondkoop en beeste vetmaak.

Nadat die voerkraal gevestig was, het hy die boerdery stelselmatig uitgebrei deur plase aan te koop. Die beweegrede was om die bykomende grond te gebruik om kuilvoer te plant, maar dit was steeds te duur. Dit het Alex genoop om eers na hoëdruk en later ultra-hoëdruk weidingstelsels te beweeg.

“Toe ek aanvanklik die som gedoen het om net uit die voerkraal ‘n inkomste te maak, het ek besef dit kan nie so werk nie, want ՚n mens was as prysnemer te afhanklik van die markprys. Ons het kuilvoer begin plant omdat dit ons grootste energiebron is. Daarmee kon ons 60% minder voer aankoop en so ons koste verminder, maar daar was steeds plek om koste te besnoei. Dit is toe dat ons die ander plaas vir besproeiing aangekoop het,” vertel hy.

Verdere verbetering het ingesluit om net ligte kalwers te koop vir vetmaak en ՚n teeltrop te hê wat ongeveer 500 tot 600 kalwers per jaar lewer.

Nadat die kuilvoer gesny is, vorm die lande en mieliereste ook deel van die weiding waar teeltroppe ingejaag word. Met dié benadering het Alex ook laer uitgawes vir onkruidbeheer, want die beeste eet alle groen blaartjies op die veld, behalwe die giftige bossies waarvan hulle moet wegbly.

 

Van grond tot mond met Ocmiskruipspuite

In die middel van die pandemie se inperkings het Alex-hulle met ՚n slaghuis begin toe daar in die omgewing ՚n behoefte aan vleis was. Hulle voorsien self die vleis vanuit die voerkraal. “Wanneer die beeste slagpale toe gaan, gebruik ons ՚n gedeelte van die vleis vir die slaghuis en die res word terug aan die slagpale bemark,” sê hy.

“Ons leuse is ook weet wat jy eet. Daarom kan jy in enige stadium opvolg waar die vleis vandaan kom– daardie opspoorbaarheid is vir ons belangrik,” vertel Alex.

Die kanonspuit spuit water tot 40 meter ver! ՚n Mens sal heeldag vir die spuit kan staan en kyk.

“Ons het klein begin, maar nou moet ons al ՚n groter slaghuis bou. Waar ons aanvanklik net in Randfontein verkoop het, ry ons na Roodepoort en Krugersdorp ook. Nou het ons tot afleweringsvoertuie en navrae oor verspreidingsreggeleenthede.

Om jou eie vleis te verwerk en te verkoop is ՚n belangrike aspek van waardetoevoeging tot jou eie produk.”

Sukses met Irrigation Unlimited se Ocmis-spuite

Die vermoë om soveel beeste per jaar te kan bemark is te danke aan die Ocmiskruipspuite van Irrigation Unlimited wat die boerdery aangeskaf het. “Ons het twee R1/1-75/220 Ocmis-spuite wat die ultra-hoëdruk weidingstelsel na nuwe hoogtes geneem het. Die een kruipspuit kan voor loop en natmaak, dan vreet die beeste in die middel en agter loop die ander spuit om die weiding weer te laat groei,” verduidelik Alex. “Ons plant elke jaar 100 ha weiding.”

Die groenvoer wat Alex-hulle plant hang af van die seisoen. In die winter plant hulle Agrilife 2 en in die somer Agrilife 12. Dit is omdat hierdie saadmengsels op spesifieke tye van groei belangrike minerale en proteïne bevat.

Alex se pad met Irrigation Unlimited het begin by NAMPO in 2018, en in 2019 is die spuite afgelewer. “Ons het lank somme gemaak voordat ek besluit het om twee te koop. Die Ocmis-spuite is bekostigbaar, dus kon ons in twee belê om te kyk of dit in ons stelsel inpas sonder dat dit ons ՚n arm en ՚n been gaan kos.” Die lae onderhoudskoste is vir Alex-hulle ՚n bonus.

Die aanwysings op die masjien is eenvoudig en enige operateur kan die masjien beheer in drie maklike stappe.

“Ek wou gehad het hy moet 250 m kan uittrek, maar hy spuit reeds 35 tot
40 meter ver. Toe besluit ons op die 220 meter masjien,” vertel hy. “Ek het Tobie van Irrigation Unlimited gesê wat die waterbehoefte is en hy het die res van die tegniese vereistes bepaal en ՚n 75 mm pyp voorgestel.” Elke spuit kan aangepas word volgens jou behoeftes.

Die voordeel van die Ocmis-stelsel is dat dit verskuifbaar is. Jy kan dit skuif na waar dit nodig is — selfs ՚n ander plaas! Wanneer ՚n onvoorsiene gebeurtenis insluip soos ՚n pomp wat breek, kan Alex en sy werkers diere vinnig na ander kampe skuif en die besproeiingseenheid saamneem. “՚n Klein trekker verskuif ook die outjie moeiteloos,” voeg hy by.

Met hierdie twee spuite saam besproei AJ Boerdery lag-lag 80 ha.

Die masjien self is wateraangedrewe en gebruik geen elektrisiteit nie. Op Alex se plaas pomp die boorgate water in twee opgaardamme en een besproeiingsdam. Daar is ՚n pompkamer waar Alex-hulle ՚n motor met veranderlike spoed (VSA) het om die lewering van water vanaf die besproeiingsdam na die kruipspuite te beheer.

“Beurtkrag is wel ՚n uitdaging met die pompe, daarom beoog ons om binnekort nog twee spuite van dieselfde model aan te skaf.”

Die resultate wat hierdie kruipspui-te lewer, het Alex beïndruk. “In alle eerlikheid het ek aanvanklik getwyfel oor my besluit, maar na net ՚n week het ek erken ek sal nooit weer iets anders gebruik nie. Ons het die spilpunte wat ons gehad het juis verwyder omdat hierdie besproeiingstelsel soveel beter by ons behoeftes pas.”

Omdat die kruipspuite verskuifbaar is, kan Alex minder bekommerd wees oor diefstal. “Die Ocmis-eenhede kan ons toesluit in die skuur wanneer ons vir ՚n naweek weggaan of selfs wanneer hulle nie gebruik word tydens die reënseisoen nie. Dit het ook nie onderdele wat diewe aanlok nie,” verduidelik Alex.

Die Ocmis-kruipspuit van Irrigation Unlimited se pyp lê uitgestrek oor die hele veld tot waar die kanonspuit staan.

Hierdie twee spuite werk alreeds drie jaar hard vir AJ Boerdery. “In die tyd het die masjiene nog nie een maal gebreek nie en Tobie moes nog nie een keer herstelwerk doen nie. Hy het ons net gewys waar die onderdele gereeld geghries moet word.

Anders as ՚n spilpunt wat omwaai wanneer die storms by Alex-hulle opsteek, bly die kruipspuite staan.

Om die kruipspuit te beheer, word die masjien se spoed gestel volgens ՚n tabel wat wys hoeveel mm water teen watter spoed gelewer word. As jy meer water wil spuit, verander jy die spoed met ՚n hoër rat of groter spuitpunt.

Wat die masjien ook doeltreffend maak, is dat jy die hoek waarteen die kanonspuit werk ook kan verstel om dele wat die beeste gaan vertrap te vermy.

“Ek sal definitief hierdie kanonkruipspuite aanbeveel, veral vir boere wat gebruik maak van ՚n ultra-hoëdruk weidingstelsel.

“Tobie se naverkopediens is uitstekend. Veral aan die begin was ek onseker oor hoe om die tabelle te gebruik, maar hy het altyd gehelp. Hy het ook verskeie kere deurgery om seker te maak ons kom reg,” verklaar Alex.

Skakel Tobie van den Heever van Irrigation Unlimited by +27 82-658-6054 of +27 12-736-2121 om jou volgende kanonspuit te bekom. Stuur gerus ook ՚n e-pos aan tobie@iunlimited.co.za of besoek die webtuiste www.iunlimited.co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0