Irrigation Unlimited: Kry die besproeiingstelsel wat jou plaas pas

irrigation 1
Die boer is die belangrikste party in die landboubedryf en daarom moet sy belange altyd eerste kom, glo Irrigation Unlimited se mense. Dirk van Zuydam van Weenen in Natal was op soek na ’n besproeiingsoplossing wat by sy boerdery pas en waarvoor hy nie sy boerdery hoef aan te pas nie. Die antwoord het hy in ’n ProAgri gevind waar boere vertel het hoe Irrigation Unlimited se Ocmisselfaangedrewe spuite hulle gehelp het.
Dirk sê elke boer se behoeftes is anders. Daar is boere met uitgestrekte landerye wat dom sal wees as hulle nie spilpunte installeer nie, maar hy self het iets nodig gehad wat sy hoekige landerye kan benat sonder enige vermorsing van grond. “Grond is duur,” sê hy. “Ek kan nie uitvalhoeke bekostig nie en ek kan ook nie vir elke uitvalhoek sy eie besproeiingsplan maak nie.”
Dit was nogtans tyd om af te sien van die arbeidsvermorsende goukoppelstelsels wat hulle tot dusver gebruik het. Dirk verbou hoofsaaklik aartappels, mielies en droëbone en sy lande lê in blokke van verskillende groottes tussen die besproeiingskanaal, die pad en die heuwels. Hy is tans besig om ’n hoofpyplyn langs al sy lande deur te lê met ’n toevoerkraan elke 60 meter. Dit beteken hy kan sy Ocmisspuite na enige punt sleep, koppel en besproei.
Hy het ’n jaar gelede sy eerste twee Ocmis-spuite aangekoop en het nou onlangs ’n derde spuit bekom. Dirk het behoorlik huiswerk gaan doen oor al sy opsies en sê nog ’n rede waarom hy nie op ’n spilpunt besluit het nie, is omdat so ’n stelsel ’n duur belegging is om dikwels drie maande van die jaar ledig rond te staan, omdat hy in sekere lande op sekere tye niks kan plant nie. Hy het ook gaan kyk na die verskillende selfaangedrewe spuite en wat hom van die Italiaanse Ocmis beïndruk het, was die stewige konstruksie. ’n Pyp wat 100 mm dik is, 300 meter lank en vol water is, is nie bietjie swaar nie – dis baie swaar. Die masjien wat dit inkatrol moet ’n sterk ratkas hê en sy staan ken om nie omgetrek te word nie.
Daarby is al die verstellings meganies en maklik verstaanbaar en geen kragtoevoer is nodig by die toestel nie. Alles werk met waterdruk en die 5 bar wat die pomp vanuit die kanaal lewer is heeltemal genoeg om alles aan te dryf en tot die hoogste mielies behoorlik te besproei. Dirk gebruik ’n klapspuit met ‘n 26 mm spuitstuk (nozzle) en sy masjien is gestel om teen 14 meter per uur te beweeg.
In sommige lande word die 300-meter pyp met sy spuitkarretjie vooraan ten volle uitgerol voor dit sy rustige lewensgewende tog terug na die katrol begin. Op kleiner lande word daar net ’n gedeelte van die pyp afgerol. “Dit wys net hoe aanpasbaar die stelsel is,” sê Dirk. Om die Ocmis te verskuif, is werklik ’n een-man-operasie, want jy hoef net ’n pen uit te trek en die stutpale te lig, dan kan jy haak en sleep.
Dirk kon sy produksie opskuif, want hy kan nou op lande plant waar dit vroeër net te ongemaklik was om te besproei. Nog ’n voordeel is dat hy die goukoppelstelsels wat hy vroeër gebruik het en wat elke paar uur deur ’n span werkers verskuif moes word, bymekaar kon voeg en in ’n land ontplooi waar dit nou permanent staan.
“Dit alles het daartoe gelei dat ek my werksmag meer doeltreffend kan aanwend om noodsaaklike werk op die plaas te doen wat nie elke keer onderbreek hoef te word om pype te gaan skuif nie,” sê hy.
Die toerusting is deur die plaaslike landbouhandelaar, Weenen Agri, verskaf, maar Tobie van den Heever, van Irrigation Unlimited, het van Pretoria af gekom om te help met die opstel van die eerste twee spuite. “Met die derde een het ek alles sommer self gedoen, want dit is eintlik eenvoudig,” sê Dirk.
Skakel Tobie van den Heever van Irrigation Unlimited by 082-658-6054 of 012-736-2121 of e-pos tobie@iunlimited.co.za vir jou pasmaakbesproeiingsoplossing. Besoek ook www.iunlimited.co.za vir meer inligting.
