Categories: Artikels, Nuus, Vee en WildPublished On: 24th July 2024

Internasionale beesbeoordelaar deel sy kennis by Bonsmara Genetics Boeredag

By 4 min read
704 words

IMG_4385

PJ Budler, internasionale beoordelaar en grootveekenner, aan die woord tydens Bonsmara Genetics se onlangse boeredag.

Internasionale beesbeoordelaar en welbekende grootveekenner, PJ Budler van Texas, het sy kennis met talle beesboere gedeel tydens Bonsmara Genetics se Boeredag in Julie 2024 op die plaas Smallepad, Roedtan.

PJ het in die Oos-Kaap grootgeword en woon tans in Texas in Amerika. Hy het alreeds meer as tagtig beesrasse in meer as vyftig verskillende lande beoordeel.

PJ het ongelooflik waardevolle kennis met beesboere gedeel, wat hulle werklik op die punte van hulle stoele gehad het. Onderwerpe waaraan hy geraak het was onder meer die suksesfaktore wat bydra tot ‘n winsgewende, volhoubare en suksesvolle beesboerdery. Lees meer hier of kyk die opname hier.

Ander sleutelsprekers van die dag het ingesluit Louis Steyl, uitvoerende hoof van Bonsmara SA, wat ook waardevolle inligting met boere gedeel het oor die Bonsmara-stoet- en kommersiële bedryf.

Wat sê die boere oor die boeredag?

Rubin Essakow van Essakov Bonsmaras sê: “Dit was ‘n baie insiggewende boeredag, en die Bonsmara Genetics-span het ongelooflik baie moeite gedoen om wêreldklas sprekers soos PJ te kry, by wie ons as medetelers so baie kan leer.

Arthur de Villiers van Arcadia Bonsmaras boer al vir die afgelope sestig jaar met Bonsmaras in die Vrede-distrik, Vrystaat. “Die Bonsmara Genetics-groep het weereens vir ons ‘n suksesvolle boeredag aangebied met wêreldklas fasiliteite, en boonop vandag ‘n wêreldklas spreker gehad wat ‘n ongelooflik goeie lesing gegee het rakende genetika, asook die praktiese aspekte waaraan hy geraak het. Dit was ‘n voorreg om na hom te kon luister.

“Die laaste lesing en demonstrasie van dr Hendrik Hansen van Embrio Plus was ongelooflik insiggewend, waar hulle saam met Vytelle in vitro embriobevrugting doen. Ek sien baie uit daarna en gaan beslis ook in die nabye toekoms met hulle saamwerk,” sluit Arthur af.

Veearts Hendrik Hansen van Embryo Plus het die IVF-proses op jong Bonsmara-verse in die kraal gedemonstreer.

“Dit was ‘n ongelooflike dag om genetika en beesseleksie vir funksionele doeltreffendheid met boere van regoor die land hier in my tuisland te bespreek. Daar is ook waardevolle inligting oor IVF embrioproduksie met ons gedeel, wat regtig indrukwekkend was. Die gashere, geriewe, gehalte van die diere en die bywoning van kommersiële en stoettelers was ook ‘n hoogtepunt,” meen PJ.

Die diere wat tydens die praktiese lesings wat PJ aangebied het in die kraal gepronk het, was ook ‘n voorsmaak van die aanbod wat op die Bonsmara Genetics-groep se komende veiling onder die hamer gaan kom.

Jannie Senekal, Louis Steyl, André van der Heyde, PJ Budler, Bertus Blignaut en Christoff Steenkamp by die Bonsmara Genetics Boeredag.

Bonsmara Genetics se komende veiling

André van der Heyde van Boschoek Bonsmaras, wat deel vorm van die Bonsmara Genetics-groep, sê: “Ons nooi al ons kopers en belangstellendes in die omgewing uit na ons veiling op Vrydag, 9 Augustus. Ons het hierdie jaar ‘n besonderse aanbod vroulike diere, sowel as ‘n klompie top bulle wat ons met vrymoedigheid in die mark wil inbring en bekendstel.”

André sê dat dit hulle beleid is om aan die markbehoefte te voldoen en daarvoor gebruik hulle gerekende en bewese genetika uit van die top kuddes in die land, asook hulle eie genetika wat hulle begin terughou en binne die kuddes gebruik. “Ons probeer regtig goeie genetika beskikbaar stel, wat bekostigbaar vir enige teler is,” sluit André af.

‘n Paar lotte wat maar beslis gemerk kan word vir die Bonsmara Genetics groep se komende veiling.

Christoff Smit van Sebadja Bonsmaras sê dat hulle vanjaar weer twintig vroulike diere van top stoetgehalte aanbied. Hy sê: “Dit is diere wat met die hand uitgesoek is uit die kudde. Dit maak seer – jy wil hulle nie verkoop nie, maar ons wil graag van hierdie genetika en diere aan die mark bekendstel. Dan bied ons ook so tussen 100 en 120 kommersiële vroulike diere, dragtige verse asook koeie met kalwers van top gehalte aan.”

Christoff voeg by: “Kom kuier vir ons, geniet die dag saam met ons en maak seker jy dagboek die veiling van Bonsmara Genetics.”

Laai die digitale katalogus hier af. 

Vir enige navrae kontak:

Jannie Senekal – 082-899-5047

Christoff Smit – 082-854-8316

André van der Heyde – 082-334-0491

Besoek ook Bonsmara Genetics se webblad vir enige bykomende inligting by https://bonsmaragenetics.co.za/.

André van der Heyde en Christoff Smit van die Bonsmara Genetics-groep.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1