Inheemse plante ook nou landbougewasse

hoodia
Inheemse plante soos ghaap is bekend as eetlusdemper en dorslesser (Bron: https://www.lifegate.it/hoodia_il_cactus_per_dimagrire)
Inheemse plante wat as kos en medisyne gebruik word, is uiteindelik as landbougewasse goedgekeur.
John Steenhuisen, die minister van landbou, het die insluiting van inheemse gewasse en medisinale plante in die lys van verklaarde landbouprodukte goedgekeur in ’n besluit wat ’n sektor met ’n beraamde waarde van sowat R12 miljard per jaar formeel erken. Die stap, wat vroeër vandeesmaand in ’n mediaverklaring van die departement van landbou bekend gemaak is, volg op ’n versoek van rolspelers in die landbousektor wat lankal vra dat hierdie tradisionele gewasse as deel van die formele landbou-ekonomie erken moet word.
Die wysiging, wat op 21 Julie 2025 goedgekeur is, beteken dat inheemse gewasse en medisinale plante nou as landbouprodukte ingevolge die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte, 1996 (Wet 47 van 1996) (Map-wet) soos gewysig beskou word.
Hierdie wet is slegs van toepassing op produkte wat amptelik as landbouprodukte verklaar is en maak so die deur oop vir groter ekonomiese deelname, beleggings en ondersteuning.
Ekonomiese potensiaal
Volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) is die waarde van Suid-Afrika se medisinale plante en inheemse gewasse na raming R12 miljard per jaar, dus ongeveer 3% van die land se totale landbouproduksie van sowat R450 miljard. “Vir te lank het gemeenskappe wat tradisionele medisyne en inheemse gewasse oes en verkoop in die ekonomiese skadu’s gewerk,” sê Steenhuisen.
“Met hierdie wetgewing gee ons erkenning en waardigheid en skep ’n pad na voorspoed.”
Hy beklemtoon dat sy departement doelgerig daarop fokus om ’n meer moderne en vooruitstrewende wetgewende omgewing te skep. “Verouderde wetgewing belemmer die aanvaarding van nuwe tegnologieë, praktyke en innovasies wat noodsaaklik is om opbrengs, gesondheid en winsgewendheid in die sektor te verbeter.”
Die handel in tradisionele medisinale plante word op sowat R3 miljard per jaar beraam, waarvan die meeste buite die formele ekonomie plaasvind, en sodoende ’n bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) lewer (wat nog nie behoorlik gemeet kan word nie). Inheemse gewasse verteenwoordig sowat 2% van totale landbouproduksie, oftewel ’n bykomende R9 miljard in waarde.
Wat tel as inheemse gewasse?
Die oorspronklike lys van verklaarde landbouprodukte is in 1997 gepubliseer en sedertdien verskeie kere gewysig. Nou word inheemse gewasse, asook sekere genaturaliseerde tradisionele gewasse, amptelik ingesluit.
Inheemse gewasse sluit plante in wat hul oorsprong in Suid-Afrika het, asook dié wat oor tyd hier genaturaliseer is. Hulle word in drie hoofgroepe verdeel, naamlik graan, vrugte en groente.
Inheemse graangewasse lewer saad wat ryk is aan stysel en proteïene en sluit byvoorbeeld gierst (millet) en Bambara-grondbone in. Inheemse vrugte sluit bekende spesies soos maroela, wilde appelkoos, suurpruim en rosyntjiebos in. Inheemse groente word onderverdeel in wortel- of knolplante soos kassava, amadumbe (taro root), die maramaboon en die Afrika-aartappel, en blaargewasse soos die spinnekopplant, akkerboon, amarant, knapsekêrel en wilde jute.
Voorbeelde van medisinale plante
Suid-Afrika beskik oor een van die rykste versamelings van medisinale plante in die wêreld. Hoewel die finale lys nog saamgestel word, is van die bekendste spesies dié wat reeds ’n gevestigde plek in tradisionele en moderne gebruike het:
• Boegoe (Agathosma betulina) – ’n Geurige struik van die Wes-Kaap, tradisioneel gebruik vir urienweg-infeksies en maagkwale sowel as ’n natuurlike diuretikum (waterpille).
• Ghaap (Hoodia gordonii) – ’n Vetplant uit die Kalahari, gebruik deur San-mense as ’n eetlusdemper en dorslesser tydens jagtogte.
• Kankerbos (Sutherlandia frutescens) – Die endemiese plant kom in verskeie streke in Suid-Afrika voor, gebruik as tonikum vir respiratoriese infeksies en as ’n algemene immuniteitsversterker.
• Duiwelsklou (Harpagophytum procumbens) – Die plant, wat inheems is aan die Kalahari-streek, het sterk anti-inflammatoriese eienskappe en word gebruik om gewrigspyne en artritis te verlig.
• Aloe vera – Hoewel dit wêreldwyd voorkom, is dit inheems aan Suid-Afrika. Die jel word gebruik om brandwonde en sere op die vel te genees en om die immuunstelsel te versterk.
• Wilde-als (Artemisia afra) – ’n Geurige struik wat inheems aan Suid-Afrika is, word reeds eeue lank gebruik teen verkoues, hoes en spysverteringsprobleme. Dit is ook bekend vir sy antimikrobiese werking.
• Sterblom of Afrika-aartappel (Hypoxis hemerocallidea) – ’n Knolplant wat gebruik word om die immuunstelsel te versterk en ontsteking te verlig; ook gebruik in tradisionele behandeling van MIV/vigs-verwante simptome.
• Maagpynbossie (Pelargonium sidoides) – Die wortel van hierdie inheemse plant word gebruik om umckaloabo, ’n plantekstrak vir die behandeling van brongitis en sinusinfeksies, te maak.
Hierdie plante het nie net genesende eienskappe nie, maar ook groot markpotensiaal vir kommersiële verbouing, verwerkingsaanlegte en uitvoer.

Amarant is ’n gewilde inheemse blaargoente in Suid-Afrika.
(Bron:https://en.wikipedia.org/wiki/Amaranth)
Wet maak deur oop vir groei
Met die nuwe verklaring kan verteenwoordigende liggame van hierdie produkte nou aansoek doen om statutêre maatreëls, waaronder heffings, registrasies en verslagdoening soos bepaal in artikels 15, 18 en 19 van die MAP-wet. Elke aansoek sal op meriete evalueer word, maar sodra dit goedgekeur is stel dit die betrokke bedrywe in staat om binne die formele raamwerk van die landboubedryf fondse in te samel, ondersteuningsfunksies te ontwikkel en werksgeleenthede te skep.
Hierdie erkenning bring nou die inheemse ekonomie wat dekades lank buite die hoofstroom plaasgevind het,
onder die beskerming en geleenthede van die nasionale beleid. “Ons mense dra reeds geslagte lank kennis van die krag en waarde van hierdie plante,” sê Steenhuisen. “Nou maak ons seker dat dié kennis en hulpbronne deel word van ’n groeiende, inklusiewe ekonomie wat tot voordeel van almal werk.”

Die akkerboon (cowpea) is ’n inheemse kosplant waarvan die blare en bone geëet word. (Bron: https://www.plantwhatwhen.com/Cowpeas.html)
Erfenis en vooruitgang gaan hand aan hand
Die besluit is nie net ekonomies van aard nie, maar ook van kulturele en ekologiese belang. Dit ondersteun die bewaring van inheemse kennisstelsels, bevorder volhoubare landboupraktyke en help om plaaslike gemeenskappe ekonomies te versterk. Inheemse plantegroei is aangepas vir Suid-Afrika se klimaat en bied dus volhoubare oplossings vir klimaatverandering en voedselsekerheid.
Met die groeiende vraag na natuurlike produkte, kruie en tradisionele medisyne kan hierdie sektor ook ’n internasionale uitvoermark aanwakker. Volgens Steenhuisen bly die regering verbind tot vennootskappe tussen tradisionele kenners, wetenskaplikes en produsente om hierdie nuwe sektor te ontwikkel sonder om die kulturele erfenis in gevaar te stel.
“Ons bou nie net aan ’n nuwe landboumark nie, ons herstel ook die waardigheid van eeue oue kennis en die mense wat dit beskerm het.”
Met die verklaring van inheemse gewasse en medisinale plante as landbouprodukte, neem die land ’n groot stap om ekonomiese insluiting, volhoubaarheid en innovering in die sektor te bevorder. Die besluit plaas Suid-Afrika in ’n sterk posisie om die waarde van sy natuurlike erfenis te benut – van die maroelaboom tot die kankerbos – en bied ’n nuwe era van groei vir boere en gemeenskappe wat lank buite die formele ekonomie gestaan het.
Historiese daad van erkenning
Jurie van der Walt, kenner van inheemse plante en voorstander van die gebruik van hierdie plante, meen die insluiting van inheemse gewasse en medisinale plante as amptelik verklaarde landbouprodukte deur Steenhuisen, is meer as net ’n administratiewe stap. “Dit is ’n historiese daad van erkenning – een wat eeue oue tradisionele kennis, kulturele erfenis en landelike bestaansmiddele formeel binne die nasionale ekonomie plaas,” sê hy.
“Veels te lank het inheemse gewasse en medisinale plante in die ekonomiese skadu van landbou in Suid-Afrika gestaan. Kleinboere, arm gemeenskappe en tradisionele genesers wat hierdie natuurlike hulpbronne vir eeue lank reeds gebruik en daarmee handel dryf, het dit sonder wetlike beskerming, staatsondersteuning of toegang tot gereguleerde markte gedoen.
“Met hierdie verklaring erken die regering nou formeel dat hierdie gewasse nie marginaal of onbekend is nie, maar waardevolle landbou-bates en deel is van Suid-Afrika se biodiversiteit, geskiedenis en toekomstige welvaart.”
Inheemse kennis op formele wetenskap verhef
Volgens Van der Walt weerspieël die stap ook ’n filosofiese verskuiwing in hoe Suid-Afrika landbou verstaan. Deur inheemse kennis tot op die vlak van formele wetenskap en handel te verhef, dekoloniseer die regering sy
landboubeleid, en verbind ou wysheid met moderne innovasie. Waar “vooruitgang” dekades lank beteken het om ingevoerde tegnologieë en gewasse aan te neem, beteken dit nou om te omhels wat eg Suid-Afrikaans is.
“Maar bo alles is daar die kulturele en ekologiese betekenis. Inheemse plante vergestalt die verhouding tussen mense en grond wat oor millennia gevorm is. Om dit as deel van die formele ekonomie te erken, beteken om te aanvaar dat volhoubaarheid en tradisie saam kan bestaan, dat die pad na voedselsekuriteit en ekonomiese groei deur die wortels van Afrika se eie flora loop,” sê Van der Walt.
Uiteindelik gaan die erkenning van inheemse gewasse en medisinale plante nie net oor landbou nie. Dit gaan oor die herstel van waarde: ekonomies, kultureel en geestelik van dit wat Suid-Afrikaners nog altyd as waardevol beskou het. Vir die eerste keer word die wortels van die verlede die saad van die toekoms.
Amarant is ’n gewilde inheemse blaargoente in Suid-Afrika. Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Amaranth)