Hoe om ‘n voerkraal vir vleisbeeste op jou plaas te begin

voerkraal 1
՚n Beesboer se droom is om die swaarste kalwers te produseer om uiteindelik die vleiseters se aanvraag te versadig. Daarvoor betaal hulle hom. Dit is die verstandige boer se mikpunt om soveel vleis as moontlik per hektaar te produseer.
Daarvoor begin hy met beeste wat die genetiese potensiaal het om voer so doeltreffend en gou as moontlik in vleis om te sit. Maar selfs die bees met die beste genetika kan nie sy volle groeipotensiaal bereik as hy die meeste van dit wat hy uit sy voer put daaraan moet bestee om agter die voer aan te loop nie.
Daarom word vleisbeeste in krale aangehou om hulle genetiese potensiaal ten volle te benut deur gewigsverlies as gevolg van onnodige beweging te voorkom. Voerkrale voer vleisbeeste drie tot vier maande met ՚n gebalanseerde, proteïenryk dieet. Dit word gedoen om die beeste se lewende gewig en vleisgraad of gehalte ՚n hupstoot te gee sodat hulle vir meer geld verkoop kan word.
Om vleisbeeste vet te maak, moet ՚n proteïenryk dieet gevoer word wat mielies en mieliebyprodukte insluit. Wanneer mieliepryse laag en die prys van vleis hoog is, is vetmaak die meeste winsgewend vir boere. Die verhouding tussen die vleisprys en die voerprys staan dus in ՚n omgekeerde verhouding. Beesvleis in Suid-Afrika is hoog in aanvraag. Elke maand verbruik SuidAfrika sowat 80 000 ton beesvleis. Daarom is dit ՚n goeie sakegeleentheid om self ՚n voerkraal te begin.
Voordat jy ՚n vleisbeesboerdery in Suid-Afrika kan begin, moet jy sekere noodsaaklike besluite neem. Jy moet besluit oor die skaal van jou vleisbeesboerdery, dit wil sê die aantal beeste wat jy wil aanhou. Jy moet ՚n ras, ՚n streek en ՚n teikenmark kies. Die grootte van jou vleisbeesboerdery sal deur jou kapitaal- en teikenmark bepaal word. Voordat jy ՚n vleisbeesvetmaakonderneming in Suid-Afrika kan begin, moet jy ՚n gesonde sakestrategie vestig.

Beskikbare oppervlak
Die boer benodig grond om vleisbeesvoerkrale te bou. Die grond se volhoubaarheid moet vooraf geëvalueer word. Die boerdery moet naby begaanbare paaie en betroubare waterbronne soos boorgate, riviere of damme wees.
Alternatiewelik moet waterreservoirs as buffer opgerig word. Kraalvetmaak behels die aanhou van beeste in krale of voerkrale. Die beeste word nie toegelaat om normaalweg te wei nie en bly slegs in die voerkrale. Die vleisbeesvoerkraalvetmaakbedryf benodig minder oppervlakte as ՚n gewone beesboerdery.

die beste genetika na hulle nageslag oordra.
Infrastruktuur en toerusting
Die voerkrale moet stewig omheinde kampe wees met voer- en watergeriewe. Die beeste sal gemiddeld vir 90 tot 120 dae daar bly om vet te word. Die voerkraal moet die vee teen roofdiere en slegte weer beskerm. Beeste moet maklike toegang tot kos, water en genoeg beligting hê. Toerusting en voerkraaluitgawes moet by ՚n kommersiële beesvleisverbouingsakeplan ingesluit word.
Vetmaak
Die eerste ding wat ՚n voerkraal benodig is natuurlik beeste. Boere kan òf hulle eie beeste teel om vet te maak òf die beeste by ander boere aankoop. Om vee vir ՚n voerkraal aan te koop verg vaardigheid van die boer. Hy moet die vetmaakpotensiaal van beeste (volwassenheid, ras, ouderdom, geslag, ensovoorts) in verhouding tot die markprys van verskeie beesvleisgrade kan evalueer. Hy moet ook weet wat die groeipotensiaal van verskeie beesrasse is. Sommige rasse is beter geskik vir vetmaak as ander. As die boer die verkeerde beeste koop, sal hy geld verloor nog voordat hy met die vleisbeesvetmaakonderneming begin het.
Onderhandelingsvermoë word ook vereis om ՚n ordentlike ooreenkoms op vleisbeeste te kry. Aankope van te duur vee sal verliese tot gevolg hê. Boere kan vee teen gunstige pryse by ander boere of van plaaslike markte koop. Beespryse wissel die hele jaar lank. Boere moet altyd geld hê om beeste teen goeie pryse te koop. ՚n Gebrek aan fondse op ՚n gunstige tyd beteken ՚n verlies aan geleenthede en dus aan wins. Moenie dat lae pryse jou aankope beheer nie. ՚n Lae prys is nie altyd ՚n winskopie nie, want daar kan ՚n produsent wees wat van sy siek of swak diere ontslae raak teen ՚n verminderde prys. Wees daarom altyd bewus van hoe die dier se prys bepaal is.

kan vreet.
Voeding
Soos jy jou kan voorstel, is voeruitgawes aansienlik terwyl boere vleisbeeste grootmaak. Die optimum voer en mengverhouding is die sleutel tot die produksie van swaar vee met ՚n puik vleisgehalte. Behoorlike voerprosedures kan die beeste help om gewig op te tel en hoëgraadse vleissnitte te lewer. Dit is moontlik om omvattende kommersiële vetmaakrantsoene met byvoeding soos mielies te kombineer.
Die voer van beeste het twee hoofdoelwitte: die verhoging van lewende gewig (swaarder beeste behaal hoër pryse) en die verbetering van vleisgehalte (hoë gehalte vleis behaal hoër pryse). ՚n Behoorlike voerplan sal boere help om hierdie doelwitte te bereik. Voerkoste moet by boere se sakeplanne ingesluit word.

Winsgewendheid
Beesvetmaak is ՚n winsgewende bedryf in Suid-Afrika en verskeie faktore beïnvloed die winsgewendheid daarvan. Die faktore is: bees- of speenkalfaankoopprys, beesvetmaakvoerkoste, voeromsetverhouding, verkoopprys per kilogram lewende gewig en vleisprys. As boere weet hoe om winsgrense en verhoudings te bereken, kan hulle redelik akkuraat hulle winsgrense beraam wanneer beeste teen ՚n sekere prys gekoop word. Boere kan dan met selfvertroue beeste aankoop.

Suid-Afrikaanse mark
Beesvleis is hoog in aanvraag in SuidAfrika. Die land se jaarlikse beesvleis aanvraag is ongeveer een miljoen ton. Beesvleis is die tweede vinnigste groeiende landboukommoditeit na braaihoenderproduksie.
Die voerkraalsektor in Suid-Afrika verskil van dié van ander lande omdat voerkrale in Suid-Afrika meer beheer oor die waardeketting het en nie deur ՚n enkelkanaal-bemarkingstelsel beperk word nie. Voerkraalbestuurders is meer as net herders; hulle koop ook speenkalwers aan, verkry onverwerkte bestanddele vir die voerrantsoen wat hulle meng, bemark hulle eie slagdiere, vervoer hulle eie beeste, plant hulle eie mielies vir kuilvoer en meel, produseer en baal hulle eie hooi. Dit gee voerkrale in Suid-Afrika ՚n mededingende voordeel.
Ten spyte van die feit dat slegs herkouers in staat is om droë laeveselplante in hoë-proteïenvleis om te skakel, word die diere tog geteiken aangesien hulle vermoedelik baie kweekhuisgasse vrystel. Ekstensiewe produksiemetodes stel minder kweekhuisgasse per oppervlakte-eenheid vry as intensiewe produksiestelsels (soos voerkrale), maar voerkrale stel baie minder kweekhuisgasse vry vir elke kilogram vleis wat geproduseer word.
Voerkrale is die doeltreffendste metode om vleis met ՚n kleiner koolstofvoetspoor te produseer. Organiese stelsels het hoër energievereistes, wat beteken dat hulle ՚n groter koolstofvoetspoor het. Meer metaangas word geproduseer deur beeste op weiding as deur beeste wat ՚n meer gekonsentreerde dieet gevoer word.
Bronne
Eksteen, LC. (2016). Winsmaksimering met die meet van gemiddelde daaglikse toename in ՚n Bonsmara-beesvoerkraal. Beskikbaar by: repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/25323/Eksteen_LC_2016.pdf?sequence=1&isAllowed=y
BizBolts. (2019). Starting beef cattle fattening farming business in South Africa – Business plan (PDF, WORD & EXCEL). Beskikbaar by: bizbolts.co.za/starting-beef-cattlefattening-business-plan-pdf-southafrica/