Categories: Artikels, Pluimvee, Vee en WildPublished On: 19th June 2025

Hittestremming deel 6: Hou jou hoenders koel

By 4 min read
775 words

hoender 2

Hittestremming kan in die somermaande ՚n ernstige nadelige invloed op hoenders se gesondheid en produktiwiteit hê.

Dit is belangrik om die oorsake en tekens van hittestremming in gedagte te hou en om voorkomende maatreëls te tref ten einde die hoenders se gesondheid en optimale groei en produksie te verseker.

Wat is hittestremming by hoenders?

Hoenders ervaar hittestremming wanneer hulle liggaamstemperatuur die normale hittespektrum van 40 tot 41 °C oorskry. Namate die liggaamstemperatuur styg, verhoog die druk in die hoender se liggaam wat kan lei tot skade aan die organe, verminderde eierproduksie en selfs vrektes.

Verskeie faktore beïnvloed hoenders se vermoë om hitte te hanteer, insluitend ouderdom, ras, genetika en of voorkomende maatreëls getref is om hittestremming te voorkom.

Oorsake van hittestremming by hoenders

• Hoë omgewingstemperatuur
• Hoë humiditeit
• Onvoldoende lugsirkulasie in die hoenderhuis

• Te veel hoenders in die hoenderhuis
• Gebrek aan skaduryke areas
• Gebrek aan toegang tot water
• Die ouderdom en ras van die hoenders

Simptome van hittestremming

Gedurende hittestremming haal die hoenders vinnig met oop bekke asem in ՚n poging om van interne hitte ontslae te raak Die kam en lelle is die enigste deel van die hoender se vel wat aan lug blootgestel is en waardeur hitte kan ontsnap. Dit kan die vel bleek en verrimpeld laat lyk. Hulle laat die vlerke weg van die liggaam sak sodat hulle deur verdamping kan afkoel.

Alle bewegings van die hoender wek hitte op en in warm weer lê hulle net op ՚n koel plek. Hou hulle dop en tree voorkomend op om hulle koel te hou, want hittestremming kan gou na sonsteek verander wat dodelik kan wees.
Hulle eet minder, maar drink meer water. Vreet en die verteringsproses wek metaboliese hitte op, so hulle sal dalk minder eet as hulle warm kry.

Hulle sal twee tot vier keer meer water drink, want dit help hulle om van binne af te koel. Eierproduksie neem af. Omdat eiers merendeels uit water bestaan, kan dit gebeur dat hoenders wat ontwater is ophou lê. Hittestremming wat veroorsaak dat hulle minder vreet kan die verteringsprosesse versteur en ՚n elektroliet-wanbalans tot gevolg hê. Dit kan tot diarree lei wat die hoenders verder laat ontwater. Hoenders wat warm kry kan raserig raak as hulle te kenne wil gee dat hulle ongemaklik voel en van die hitte wil ontsnap.

Die volgende stappe kan verligting bied

Koue water

Verskaf deurentyd genoeg koel, vars water en verseker dat hulle vrylik toegang daartoe het. Plaas waterhouers in skadukolle. Jy kan selfs ysblokkies in die water sit om die hoenders te help afkoel, maar nie te veel nie, want yskoue water kan ook ՚n skok vir ՚n warm hoender veroorsaak.

Sit ekstra waterhouers uit. Jy kan ook vir die hoenders koue waatlemoenskywe of gevriesde vrugte en groente gee wat hulle sal help om af te koel. Ertjies en droë meelwurms in ՚n bak water is ook ՚n goeie manier om hulle aan
te moedig om water in te neem.

Die hoender se kam en lelle is die enigste vel op die liggaam waardeur die hoender kan afkoel. As dit bleek en verrimpeld lyk kan dit ՚n teken van hittestremming wees. (Bron: Pixabay)

Elektroliete

Wanneer hoenders intense hitte ervaar, verlaag hulle elektrolietvlakke. Elektroliete help om die hoenders gehidreer en normale liggaamsfunksies in stand te hou. Los elektroliet in poeiervorm op in die drinkwater. Moenie te veel hoenders in die hoenderhuis aanhou nie, want hulle liggaamstemperatuur styg wanneer hulle saamdrom.

Lugvloei

Maak ook seker dat daar voldoende lugvloei in die hoenderhuis is. Seile wat kan oprol of waaiers help indien daar nie van elektriese lugversorging gebruik gemaak kan word nie. Koelte en maniere om af te koel is ook belangrik. Natuurlike koelte onder bome of struike is ideaal, maar ՚n seil wat skadu gooi is ook goed. Sorg ook dat daar vlak poele water of geriewe is om ՚n misreën te veroorsaak. Pas die voedingskedule aan sodat hoenders soggens of laatmiddag vreet wanneer dit koeler is.

Stofbad

Verskaf vir jou hoenders ՚n plek waar hulle ՚n stofbad in koel grond onder skadu kan geniet. Dit hou hulle vere skoon en gesond en help om hulle ligaamstemperatuur te reguleer wanneer hulle koel grond op hulself strooi.

Monitering

Moniteer omgewingstoestande en die hoenders se gedrag. Deur die buitetemperatuur en humiditeit te moniteer sal jy beter toegerus wees om voorkomende maatreëls toe te pas om jou hoenders teen hittestremming te beskerm. As jy hulle dophou en enige tekens van hittestremming waarneem, kan jy betyds ingryp en keer dat jou hoenders van hitte-uitputting vrek.

Understanding Heat Stress in Chickens (2024) Feeds n Needs
https://feedsnneeds.ca/advices/understanding-heat-stress-in-chickens/

Alice. (2025) How much space do chickens need? Our Daily Homestead
https://ourdailyhomestead.com/space-for-chickens/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0