Hittestremming deel 4: Die uitwerking van hittestremming op skape

karin 15
Voorsiening moet gemaak word vir voldoende skaduwee en lugvloei in lamhokke en skaapskure. (Bron: Karin Wessels)
Skaapkenners dr Karin en Manie Wessels van Mamre Consult in die Vrede-distrik van die Vrystaat is bekende skaapboere. Met hulle uitgebreide agtergrond oor die suksesvolle teling van skape deel hulle graag hulle kundigheid oor die invloed van hittestremming op skape.
Die termiese omgewing is die grootste enkele stremmingsfaktor wat die doeltreffendheid van diereproduksiestelsels met betrekking tot ontwikkeling, groei en voortplanting beïnvloed.
Temperature onder 12 °C en bo 25 tot 30 °C het die grootste invloed op skape se prestasie en welstand, want onder en bo daardie temperature sukkel hulle om ՚n konstante interne liggaamstemperatuur te behou.
Die skape se vermoë om hulle fisiologie en gedrag aan te pas om ՚n konstante liggaamstemperatuur te handhaaf beïnvloed hulle groei, welstand en reproduksievermoë. Die aanpassings sluit in verhoogde hittegeleiding en ՚n verlaging in metaboliese hitteproduksie deur die are te vergroot, en die inname van minder kos.
Die uitwerking op ramme
Hittestremming benadeel ramme se vrugbaarheid en enige terugslae gedurende die kritieke tydperk van agt weke voor paring kan rampspoedig wees.
Ramme se testes moet koel gehou word aangesien dit ՚n tyd duur om volwasse sperm te produseer en maksimum vrugbaarheid te bereik.
Instandhouding van testikulêre temperatuur onder kernliggaams-temperatuur is nodig vir optimale produksie van beweeglike en morfologies normale skaapspermatosoa. Intra-testikulêre temperature van 33 tot 35 °C word in ramme by omgewingstemperature van 20 tot 30 °C aangemeld, wat ՚n rektale-testikulêre temperatuurgradiënt van tussen 4 en 6 °C verteenwoordig.

Hittestremming tydens vroeë dragtigheid het ՚n aansienlike invloed op die voortplantingsprestasie van ooie. (Bron: Karin Wessels)
Uitwerking van hittestremming op ooie voor paring
Die resultate van studies dui daarop dat hoë temperature gedurende die paringsperiode bevrugting, embrio-oorlewing en gevolglik dragtigheidsyfers nadelig beïnvloed.
Studies toon ‘n beduidende afname in dragtigheidsyfers wanneer die maksimum daaglikse temperatuur ≥ 30 °C vir twee dae voor kunsmatige inseminasie was.
Dit dui daarop dat die voortplantingsprestasie van die ooi die meeste beïnvloed word deur hittestremming in die week voor, tydens en vyf dae na oestrus. Skeer verminder die negatiewe invloed van hittestremming gedurende die peri-oestrusperiode op swangerskapsyfers.
Dragtige ooie
Hittestremming tydens vroeë dragtigheid het ՚n aansienlike invloed op die voortplantingsprestasie. Ooie wat hittestremming tydens ses tot tien dae rondom paring beleef, ondervind verskeie uitdagings. Dit sluit verminderde oösietgehalte in, wat tot verminderde bevrugting en embrio-oorlewing kan lei. Dit kan weer lei tot ՚n afname in die aantal lammers wat gebore word en die aantal ooie wat lam.
Laat-dragtige ooie
Wanneer hittestremming voortplanting benadeel, het dit ook ՚n invloed op vleisproduksie. Volgehoue blootstelling aan hoë temperature (≥ 32 °C) tydens dragtigheid lei tot lae geboortegewig by lammers, wat weer onder veldtoestande die oorlewingsyfer van lammers kan beïnvloed. By dragtige ooie verminder hittestremming plasentale gewig met ongeveer 183,62 g en fetale gewig met 1 665,18 g.

Volgehoue blootstelling aan hoë temperature (≥ 32 °C) tydens dragtigheid verminder die lam se geboortegewig met 0,6 tot 1,4 kg, wat nadelige gevolge vir die lam se gesondheid inhou. (Bron: Karin Wessels)
Lammers
Volgehoue blootstelling aan hoë temperature (≥ 32 °C) tydens dragtigheid verminder die lam se geboortegewig met 0,6 tot 1,4 kg. Laer geboortegewig hou nadelige gevolge in vir die lam se gesondheid. Eerstens lei dit in ՚n afname van sowat 30% in die aantal lammers wat lewend gebore word, en veroorsaak dat 25% meer lammers na geboorte vrek.
Laktasie by ooie met lammers
Ooie is selfs nog meer sensitief vir hittestremming tydens laktasie as tydens die laaste deel van dragtigheid, wat die hoë metaboliese, hitte-produserende eise van melkproduksie weerspieël.
Lammers na speen
Lammers is hoogs vatbaar vir hittestremming weens hulle hoë metaboliese hitteproduksie. Kort- en langtermyn-blootstelling aan hittestremming benadeel die vrugbaarheid van ramme en ooie, wat lei tot minder lammers per ooi wat gepaar word. Laer geboortegewig van lammers en vermindering in ooimelkontwikkeling weens hittestremming lei tot swakker oorlewing van lammers en laer speengewig.
Bestuurstrategieë
- Voorsiening moet gemaak word vir voldoende skaduwee en lugvloei in lamhokke en skure;
- Verskaf genoegsame skoon, koel water vir al die diere;
- Voldoende vaglengte van 30 tot 40 mm bied beskerming teen hitte;
- Rasse wat uit koel streke afkomstig is, kan meer vatbaar wees vir hittestremming.
Kontakbesonderhede
Kontak Manie Wessels by 083-284-7470 vir meer inligting.