Hittestremming deel 5: Beskerm jou varke teen hoë temperature

vark 1
Produksieverliese onder varke weens hittestremming het ’n groot ekonomiese impak en dit is vir die varkboer voordelig om verliese te beperk. Varke ly gou onder warm en koue klimaatstoestande. Afhangend van die ras en ouderdom, kan hulle omgewingstemperatuur van hoër as 15 °C en laer as 30 °C hanteer, maar Suid- Afrikaanse temperature is dikwels hoër.
Weens varke se vinnige metabolisme wek hulle baie hitte op. Hulle sukkel om af te koel omdat hulle swak ontwikkelde sweetkliere het en nie sweet nie, en die dik laag spek onder die vel, wat hulle teen koue isoleer, keer dat hulle deur die vel kan afkoel. Die longe is ook klein in verhouding tot hulle liggaamsgrootte. Varke van 50 kg of meer, soos sôe en groeiers, sukkel die meeste. Die ideale omgewingstemperatuur vir dié varke is tussen 18 °C en 23 °C.
Stremming weens hitte kan vloeistofwanbalanse veroorsaak wat diarree, en in erge gevalle selfs die dood, tot gevolg hê. Dit kan ook ՚n vark oor die algemeen meer kwesbaar maak vir siektes.
Varke wat aan hittestremming of sonsteek ly, haal vinnig asem en lê plat in ՚n poging om minder hitte op te wek. In erge gevalle verswak die varke, die spiere begin bewe en hulle mag braak of aan diarree ly. Hittestremming lei tot fisiologiese probleme. Dit kos baie energie om hitte vry te stel. Die bloed moet na die vel gepomp word om die hitte te probeer vrystel. Terselfdertyd vereis die vark se spysverteringstelsel goeie bloedtoevoer na die derms. Terwyl die vark sukkel om af te koel, verminder dit voerinname, vertering en opname van voedingstowwe. Dit veroorsaak ՚n probleem met dermgesondheid omdat die binding van die dermwandselle tussen die dermkanaal en die bloedvate rondom die derms verswak. Dit lei tot lekkendedermsindroom wat gifstowwwe uit die derm in die bloedstroom vrystel.
Nadele vir sôe
Hittestremming het ՚n negatiewe uitwerking op voedselinname, groeitempo, die sôe se melkproduksie en selfs reproduksie, omdat die eierselle reeds tydens laktasie vorm en hoë temperatuur kan tot onvrugbaarheid lei. Tydens laktasie verskil die sog en die klein varkies se hittebehoeftes dramaties. Die ideale omgewingstemperatuur vir ՚n
lakterende sog is tussen 16 °C en 18 °C, terwyl die klein varkies 34 °C nodig het.
Wanneer die omgewingstemperatuur bo 25 °C styg, neem die sog se voerinname met tot 500 g per dag af. Dit verminder melkproduksie, wat die klein varkies benadeel.
Die negatiewe effekte van hittestremming

Nadele vir groeiers
Navorsing in Brasilië het getoon dat varke 15% minder in die somer as in die winter groei, waarskynlik omdat hulle minder vreet wanneer dit warmer is. Voerinname op die hitte van die dag daal, maar ’n verhoogde inname tydens die koeler tye van die dag skep weer ՚n ander probleem: Omdat nie al die kos verteer nie, gis dit in die dikderm wat lei tot siektetoestande soos rooiderm, oftewel Lawsonia-besmetting. Die probleme lei ook tot groeiverlies.

Behuising, en veral die vloere van varkhokke, kan ՚n groot verskil maak om varke koel te hou. Hortjiesvloere het beter lugsirkulasie.
Oplossings vir hittestremming
Goeie beplanning vir varkbehuising en voerroetine kan die probleme oplos.
Goeie behuising
Goeie behuising met die regte tipe vloer, ventilasiestelsels en die oriëntasie van die varkhuise, kan ՚n groot verskil maak.
In moderne geriewe word klimaatskontrole gebruik om die kamertemperatuur en humiditeitsvlakke te beheer. By gebrek daaraan, moet die varkhokke strategies geplaas word en isolasiemateriaal moet gebruik word sodat dit koel in die somer is. Sinkdakke kan byvoorbeeld met blare of gras bedek word om dit koeler onder die dak te maak. Sproeiers op die dak kan help om die hokke af te koel in uiterste temperature.
Vloermateriaal is ook belangrik. Strooi op die vloer sal vir klein varkies werk, maar vir hoër temperature werk ՚n hortjiesvloer met lugsirkulasie van onder af beter. Varke wat buite aangehou word moet verkieslik ՚n meer geharde, inheemse ras wees wat hoë temperature beter verdra; swart varke is minder kwesbaar vir sonbrand. Skadu en skuiling is belangrik vir hierdie varke; modderpoele waar die varke boonop met ՚n sproeier natgespuit kan word, werk ook goed want die modder beskerm ook die varke teen sonbrand.

Kleiner varke kan op ՚n strooibed lê solank dit nie te warm raak nie.
Voerinname
Voedingstye kan aangepas word om tydens koeler tye van die dag te voer en hou voerinname konstant. Voeding kan ook aangepas word deur rantsoene te verander: gee vars voer met minder ruproteïen, gee nat voer om inname aan te moedig, verhoog die voedingswaardedigtheid deur betaïen en vitamien C by te voeg, en gee vet en olie vir kitsenergie.
Navorsing het getoon dat vlugtige olie voordele inhou; varke haal byvoorbeeld makliker asem as mentol by die voer ingesluit word. Bloekomolie, wat ՚n antimikrobiese uitwerking het, verbeter veral die varke se immuniteit in die longe. ՚n Rissie-ekstrak van Capsicum oleoresin verbeter voerinname en het ՚n anti-inflammatoriese uitwerking op die verteringstelsel. Kaneel het ՚n anti-oksidantfunksie wat ՚n verkoelende uitwerking in die derms het.
- Tydens laktasie het die sog koeler temperatuur as die varkies nodig. As die sog te warm kry, neem haar voerinname dramaties af.
- Swart varke is minder geneig om sonbrand en sonsteek op te doen.
Bronverwysings
Kriel, G. (g.d.) Stres weens hitte by varke. South Africa.co.za. https://southafrica.co.za/af/stres-weens-hitte-varke.html
Le Roux, S. (2022) Oorwin hittestres by varke in die warm somermaande. 4mixinternational. https://4mix.co.za/swine-news/oorwin-hittestres-by-varke-in-die-warm-somermaande/
Gonzalez-Rivas, P.A., Chauhan, S.S., Ha, M., Fegan, N. Dunshea, F.R., Warner, R. (2019) Effects of heat stress on animal physiology, metabolism, and meat quality: A review. Sciencedirect
https://doi.org/10.1016/j.meatsci.2019.108025
https://www.sciencedirect.com/science/article/abs/pii/S0309174019304917inflammatoriese
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na sune@4mix.co.za of besoek www.4mixinternational.com.

