Categories: Artikels, Vee en Wild, VeilingsPublished On: 23rd April 2025

Hier kom ‘n reuse Bonsmara-veiling! Etienne van Tonder maak gereed vir eerste veiling

By 2 min read
459 words

DSC_0400

In die hartjie van die Waterberge, tussen Nylstroom en Vaalwater, is die tuiste van Etienne van Tonder Bonsmaras – ’n streek waar uiterstes aan die orde van die dag is. Hier is klimaatstoestande dikwels ’n toets vir enige boerdery, maar juis daarom maak Van Tonder se Bonsmaras indruk: hierdie diere is geteel om onder druk te presteer.

Hier word nie net met beeste geboer nie, maar ‘n droom nagejaag. Etienne van Tonder se liefde vir die Bonsmara-ras is duidelik in elke aspek van sy boerdery. Etienne streef daarna om diere te teel geneties gebalanseerd en aangepas vir die uitdagings van kommersiële én stoetboerdery.

Volgens Jandré Neetling, algemene bestuurder van Etienne van Tonder Bonsmaras, is elke dier wat op die veiling aangebied word, noukeurig gekies op grond van prestasie, funksionele doeltreffendheid en vrugbaarheid – die kern van wat die Bonsmara-ras so gewild maak. Hy meen: “Etienne het twee groot liefdes,: plant en beeste. Diere van dié boerdery is nie net mooi op papier nie; hulle lewer resultate in die veld.”

Jandré sê dat die omgewing waarin hier geboer word hoofsaaklik suurveld is, baie klipperig, en die Waterberge huil as dit reën, letterlik! “Die beeste wat ons teel en mee boer is ongelooflik gehard en aangepas. Ons het hier ook ‘n baie hoë voorkoms van Asiatiese en Afrika-rooiwater en ook hartwater,” sê hy.

“Ons is baie bevoorreg om ook mentors en kundigheid in die bedryf te hê wat ons bystaan met die stoet, soos Nico Pieterse, SP Potgieter en Theuns Pistorius. Ons het ‘n baie streng keuring gehad op ons aanhangsel A-diere, wat vir ons belangrik was om net die beste van die beste uit te haal om ons stoet mee voort te bou.”

Etienne van Tonder Bonsmara-boerdery berei voor vir ‘n groot eerste hoogtepunt – ’n veiling wat beloof om ’n uitstekende geleentheid vir veeboere te wees om genetiese vuurkrag aan hulle kuddes toe te voeg. Jandré vertel: “Ons verwagting van die veiling is om die Etienne van Tonder naam daar buite te vestig.”

Die veiling vind plaas op 17 Mei 2025 by die Warmbad Veemark, met ’n aanbod wat beslis die aandag trek.

Aanpasbare, vrugbare en ‘n groot verskeidenheid vroulike diere uit verskeie bloedlyne word aangebied op die komende veiling.

Jandré sluit af: “Ons nooi almal hartlik uit na die veiling. Op aanbod sal daar 14 bulle en meer as 400 vroulike diere, wat insluit 3-in-1 koeie, dragtige verse en koeie asook koeie met kalwers wees, alles uit gevestigde, betroubare bloedlyne.”

Die veiling word aangebied deur Vleissentraal Bosveld en sal ook aanlyn deur SwiftVee aangebied word.

Jandré Neetling, hoofbestuurder van Etienne van Tonder Bonsmaras, saam met Etienne, eienaar van Etienne van Tonder Bonsmaras.

Vir enige navrae kontak:

  • Jandré Neetling: 082-729-2917
  • SP Potgieter: 082-567-2583
  • Carel Chalmers: 082-896-9586

Kyk die video hier.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0