Heuningbostee: Heuning in ’n teekoppie
’n Groep ondernemings in George in die Suid-Kaap doen baanbrekerswerk met die vestiging van ’n verwerkingsaanleg vir heuningbostee. Die aanleg sal voorsiening maak vir die verwerking van heuningbos wat hoofsaaklik van wilde stande heuningbos in natuurlike gebiede in die Wes- en Oos-Kaap geoes word.
Andrew Stroebel, uitvoerende burgemeester van die Tuinroetedistriksmunisipaliteit, het die projek tydens ’n viering van Wêreldvoedseldag op 11 Oktober op Uniondale bekend gestel. Wêreldvoedseldag word jaarliks op 16 Oktober gevier. Uniondale vorm deel van die groter George-munisipaliteit en dus ook deel van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
“Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit is daartoe verbind om te sorg dat alle inwoners toegang tot gesonde kos het,” het Andrew gesê. “Landbou is die hoeksteen van volhoubare ontwikkeling in gebied.”
Volgens hom is die belowendste projek tans die totstandkoming van ’n verwerkingsaanleg vir heuningbosteewat sal werk skep en kleinskaalse heuningbosboere toegang tot die bedryf se waardeketting sal gee. Werner Thomas, die eienaar van Eden Honeybush Tea in George, bedryf ’n klein verwerkingsaanleg waar sowat twee ton heuningbostee per jaar verwerk en verpak word. Werner, voorheen lid van die raad van die Suid-Afrikaanse Heuningbosteevereniging (SAHTA), beywer hom vir groter inklusiwiteit in die bedryf.
“Ek het baie noue bande met almal omdat ek ingestel is op maatskaplike verantwoordelikheid,” sê hy.
Hy is besig om in samewerking met ander opkomende instansies die heuningbos wat kleinskaalse heuningbosboere oes, te verwerk. Die boere het permitte om tot twee ton heuningbos van natuurlike stande in ’n gebied van sowat 20 ha in die omgewing van George en Kaap Agulhas te oes. In die Oos-Kaap word permitte vir tot drie ton uitgereik.
Ander instansies wat by die projek betrokke is, sluit onder andere ook Raoul du Toit van Phezukomkhono Training Services, Zinzi Ntimane van Eden Agro Hub, Jackie Joseph van Khoisan Doepa, Oom Eddie van Tsitsikamma Honeybush & Timbers, en Mirl Cunningham van Thornham Nursery in. “Ons snoer kragte saam om die projek met of sonder finansiële ondersteuning te laat werk,” sê Werner.
“Dit is jammer dat gevestigde verwerkers tans onwillig is om ons tee aan te koop omdat dit nie organies verbou is nie, ten spyte daarvan dat hulle dit in die verlede wel gekoop het. Ons hoop om hierdie uitdaging te oorkom deur heuningbos plaaslik te verwerk en te bemark en voort te gaan met wedersydse voordelige samewerking.”
Rugbreekwerk vir min geld
Hy vertel meer van die bedryf wat volgens hom bitter harde werk is wat bitter min inkomste lewer. “Daar is twee soorte heuningbosteeboere,” verduidelik hy. “Die kommersiële boere wat grootskaals tee aan gevestigde verwerkers en uitvoerders van gevestigde handelsmerke lewer, en inheemse kleinskaalse boere wat kwekerye bedryf of een of twee hektaar heuningbostee aanplant.”
Volgens Werner word tot 80% van die heuningbostee tans wild geoes, hoewel verbouing begin toeneem namate klein en ontwikkelende boere daarby begin betrokke raak.
Volgens Werner word die heuningbos in die berge met die hand met sekels van vlekvrye staal geoes. “Hulle loop kilometers ver in die moeilik begaanbare bergagtige terrein om die takkies te sny. Die takkies word met toue in bondels van drie tot vyf kilogram gebind en op die kop na die naaste voertuig, hetsy ’n viertrek-bakkie of ’n trekker en sleepwa, aangedra. Vir al die moeite kry hulle maar sowat R10 per kilogram!”
Verwerking
Die plantmateriaal word met groter sorg na die verwerkingsaanleg vervoer, eerstens om besmetting te voorkom en tweedens om dit so koel as moontlik te hou sodat gisting nie tydens die vervoer daarvan begin nie. Werner, wat ’n agtergrond in industriële ingenieurswese het, sê sy verwerkingsproses sluit so min as moontlik hantering in.
•Eerstens word die takkies sorgvuldig van ander plantmateriaal soos gras en onkruid geskei. Dan word dit in 3 mm-stukkies gesny.
•Die nat, gesnipperde tee word dan in die gistingtenk gegooi.
•’n Bietjie gedistilleerde water word bygevoeg om die gistingsproses aan te help.
•Die temperatuur word beheer sodat dit op 70 °C gehandhaaf word.
•Die gistingsproses duur 72 uur.
•Dan word die tee drie dae lank in ’n droogkamer gehou waar dit onder beheerde toestande uitdroog sodat 10% of minder vog oorbly.
•Daarna word die tee, wat nou ’n aantreklike rooibruin kleur het, stukkies van 2 mm of kleiner gesny.
•Die tee word gesif om die verskillende groottes stukkies te skei.
•Die tee word dan verpak, na plaaslike afsetpunte versprei en of uitgevoer.
Regulasies
Daar is baie streng regulasies wat moet voorkom dat te veel heuningbostee geoes word. “Daar is ’n biodiversiteitsbestuursplan en die mense wat wilde tee oes word gereeld ingelig oor die vereistes. CapeNature en die Departement van Landbou is verantwoordelik vir die handhawing van die bestuursplan. Die heuningbosteebedryf maak staat op volhoubare oes, maar ook op volhoubare verbouing en daar word stelselmatig beweeg na volhoubare landboumetodes om druk op die bestaande stande heuningbostee te verlig.
Volhoubare boerdery
Die bewaring van biodiversiteit in hierdie gebiede loop vanselfsprekend hand aan hand met volhoubare boerdery en benutting en die doel is om die besondere tee te laat floreer in harmonie met die natuurlike omgewing.
Heuningbostee word gemaak van die blomme, takkies en blare van verskeie Cyclopia-spesies wat, net soos die rooibosteeplant, deel is van die peuldraende familie, Fabaceae.
Hoewel 23 spesies geïdentifiseer is, word net drie tans kommersieel benut, naamlik Cyclopia intermedia (bergtee), C. subternata (vleitee) en C. genistoides (kustee).
Omdat elkeen van die spesies ’n kenmerkende smaak het, word die verskillendes soms gemeng om ’n eindproduk van deurlopende gehalte te lewer. Groen-heuningbostee se ligter kleur en kenmerkende geur word verkry deur die gistingsproses uit te skakel. Die tee bied nog meer antioksidante as die gegiste tee.
Die naam heuningsbostee is waarskynlik afgelei van die geel blommetjies wat na heuning ruik. Dit staan in die volksmond ook bekend as heuningtee, blommetjiestee, bossiestee, spelde- of naaldtee en boertee.
Verspreiding
Dit kom wild voor in kusgebiede vanaf die Weskus van die Wes-Kaap tot Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Die verspreidingsgebied grens aan die Koue Bokke-veldberge, Klein- en Groot Swartberge en die Kougaberge in die noorde.
Veral in die Langkloof, Tsitsikamma en die Kougaberge word wilde heuningbostee deur oorbenutting, die verlies aan habitat en indringerplante bedreig. Ten spyte van oorbenutting, kom dit steeds wydverspreid in talle gebiede voor en hoewel dit deur die Rooidataboek as ‘kwesbaar’ beskou word, is dit gelys as ‘byna bedreig’.
Herkoms
Heuningbostee, het net soos rooibostee, waarskynlik aan die Suidpunt van Afrika vatplek gekry omdat die gewilde ingevoerde swart tee uit Sjina waaraan die Europese setlaars tuis gewoond was, nie altyd beskikbaar was nie. Die pionierboere het dalk die benutting van die tee as verfrissende drankie en medisyne by die eerste inwoners, die Khoi en San, afgekyk en self begin gebruik, net soos wat hulle ’n plaasvervanger vir koffie – al is dit nie naastenby so smaaklik soos die skaars, duur ware Jakob nie – van verskeie plantwortels getrek het.
Heuningbostee groei wild tussen 500 m en 17 000 m bo seevlak oor ’n gebied van net meer as 13 000 km² in bergagtige gebiede van die Wes- en Oos-Kaap. Die klein struikie is redelik bestand teen hitte, droogte en selfs veldbrande, maar waar te veel van die takkies en blare geoes word, kwyn en verdwyn die plante en die verspreidingsgebied krimp.
Enigiemand wat by die heuning-bosteeprojek betrokke wil raak, kan Werner Thomas by werner@edenhoneybushtea.co.za kontak.
Bronverwysings
Deurbrake met heuningbostee en boegoe (2003) Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/Bedrywe/Akkerbou/deurbrake-met-heuningbostee-en-boegoe-20170914
Heuningbostee: https://af.wikipedia.org/wiki/Heuningbostee
Heuningbos : waar kan dit werk? (2008) AgriProbe June 2008. https://journals.co.za/doi/epdf/10.10520/EJC18887
Lang, A. (2020) Honeybush Tea: Benefits and Side Effects. Healthline
https://www.healthline.com/nutrition/honeybush-tea#:~:text=Honeybush%20tea%20is%20a%20caffeine-free%20herbal%20infusion%20similar,as%20well%20as%20improved%20bone%20and%20skin%20health
Mhlongo, N.N., Schutte-Vlok, A.L. & Raimondo, D. (2022) Cyclopia subternata Vogel. National Assessment: Red List of South African Plants version . Accessed on 2024/10/23. http://redlist.sanbi.org/species.php?species=439-64
Nasim B. (2024) Exploring the Health Benefits and Rich History of Honeybush Tea.
It’is never not teatime. https://itsnevernotteatime.com/exploring-the-health-benefits-and-rich-history-of-honeybush-tea/
PhD-student ontwikkel nuwe graderingstelsel vir heuningbostee. (2020) Maroela Media
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/phd-student-ontwikkel-nuwe-graderingstelsel-vir-heuningbostee/
South African Honeybush Tea Association: https://sahta.co.za/
Tee vir ‘n gesonde nasie (2008) Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/Bedrywe/Tuinbou/tee-vir-n-gesonde-nasie-20170914
Van der Spuy, M. ( |) Gids, toepassing help heuningbosbedryf met gradering. Landbou.com
https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/bedryfsake/gids-toepassing-help-heuningbosbedryf-met-gradering-20211209
Van Wyk, B-E., Gorelik, B. (2016) The history and ethnobotany of Cape herbal teas
ScienceDirect South African Journal of Botany Volume 110, May 2017, Pages 18-38
https://doi.org/10.1016/j.sajb.2016.11.011
https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0254629916339424